Baba Chloé kry uiteindelik haar spesiale grafsteen

baba chloe grafsteenNa ʼn lang gewag en drama met die eerste oprigting van baba Chloé Laney se grafsteen, spog sy nou met ʼn pragstuk wat haar ma, Corlia, en pa, Henry, self ontwerp het.

Die 17 maande oue Chloé is op 29 Desember verlede jaar oorlede ná ʼn lang stryd. ‘Baba Chloé’ het mense se harte geroer en daar is landswyd vir haar gebid. Haar begrafnis het op 4 Januarie in Riebeeckstad in die Vrystaat plaasgevind, waar haar ouers bly. Chloé is in die Welkom-begrafplaas tot ruste gelê.

Chloé se grafsteen sou in Julie opgerig geword het, net betyds om haar eenjarige verjaarsdag te herdenk, maar daar was egter verskeie foute op die steen en die werkers wat die grafsteen moes oprig, het glo Chloé se ouers met ʼn spies gedreig. Haar ouers het uiteindelik die maatskappy, wat die grafsteen gemaak het, opdrag gegee om dit verwyder en van ʼn ander maatskappy se dienste gebruik gemaak.

“My prinsessie het Vrydag haar nuwe grafsteen gekry en ons kan nou met ʼn geruste hart sê dat ons engelkind haar pragsteen gekry het, te danke aan die wonderlike en vriendelike diens van Avbob begrafnisdienste,” het Corlia Maandag aan Maroela Media gesê. “Van die dag ná haar dood het ons die beste diens gekry van Avbob in Welkom. Die eienaars is Ruaan en Amadea Rowett. Hulle is goeie vriende van ons en het ons deur al die moeilike tye en seer herinneringe gehelp. Ons het teruggegaan na hulle toe om die nuwe grafsteen te laat maak. Ek en my man, Henry, het dit self ontwerp en wil nog steeds net die beste vir haar hê.”

Sy sê die steen is by Rustenburg Avbob vervaardig, vanwaar dit na Bloemfontein Avbob Nywerhede gestuur is vir die afwerking.

“Dit is sowaar die mooiste geskenk wat ons vir Chloé kon gee. Ons het die graf versier deur gras te plant en tuin te maak. Alhoewel sy nie meer by haar graf is nie, dis net ‘n herdenkingsplekkie, weet ons dat sy uit die hemel afkyk na ons met die mooiste glimlag.”

Corlia het gesê sy is baie lief en mis haar “skoenlapperprinsessie” nog oneindig baie. “Dis ‘n verskriklike moeilike tyd van die jaar met die feesseisoen wat nader kom. En ek weet nie hoe ons hierdeur gaan kom nie. Almal het groot planne en wense vir die mooiste geskenk of die lekkerste vakansie, maar my wens is dat ek haar net nog een keer kon vashou, maar dan sal ek haar in elk geval nooit weer laat los nie. Ek sal alles doen net om haar terug te kon hê,” het sy gesê.

Lees ook:
Baba Chloe se ouers glo by grafsteen gedreig, gevloek
Baba Chloe: Begrafnisreëlings bekend
Baba Chloe oorlede
Baba Chloe word van ventilator gespeen
Ouers vra gebed vir siek dogtertjie voor troue

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.