Baba Christian sterf terwyl hy op lewer wag   

Die vier maande oue Christian Prinsloo is Dinsdag oorlede. (Foto: Verskaf)

Christian Prinsloo, die vier maande oue baba wat met ʼn ernstige lewerdefek gebore is, het Dinsdag sy stryd in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein verloor.

“Hy het dapper geveg, maar ons weet hy is nou aan Jesus se voete en verlos van pyn,” sê Kobie Pretorius, Christian se oupagrootjie.

Maroela Media het vroeër berig dat Christian, wat sonder dreineringspypies in sy lewer gebore is, dringend ʼn leweroorplanting benodig het om sy lewe te verleng.

Die soektog na ʼn geskikte skenker was egter ʼn opdraande stryd. Christian het ook ʼn groot gedeelte van sy kort lewe op aarde in hospitale deurgebring.

Volgens Pretorius het Christian se toestand die afgelope paar dae vinnig agteruitgegaan.

“Hy het baie gely.”

Pretorius het vroeër aan Maroela Media gesê dat sy agterkleinseun op 18 Oktober weer vir toetse sou gaan om vas te stel of daar al  ʼn geskikte skenker is.

Sy ma, Chané, het in Augustus aan Maroela Media gesê dat sy bereid is om ʼn gedeelte van haar lewer aan Christian te skenk. Sy sou egter eers 30 kg moes afskud voordat sy as ʼn geskikte skenker oorweeg kon word.

Die familie het sedertdien gespook om moontlike skenkers op te spoor.

Christian het ook in Julie vanjaar ʼn operasie in die Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad ondergaan om sy lewer te probeer dreineer, maar dit was onsuksesvol.

Vanweë sy toestand het gifstowwe in sy lewer opgebou en het sy lewer ook voortdurend bly swel aangesien niks kon dreineer nie.

Verskeie mense het hul harte en beursies oor die afgelope maand oopgemaak om die gesin te steun ten opsigte van mediese uitgawes. Sou die gesin ʼn geskikte skenker kon opspoor, sou die oorplanting meer as R1 miljoen gekos het.

“Ons wil almal hartlik bedank vir al hul gebede en bydraes. Dit word opreg waardeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JM ·

Here, dra asseblief hierdie ouers en grootouers deur hierdie smartvolle tyd.

Misky ·

Dis so jammer en hartseer. Sterkte aan die familie en grootouers

Dr. Rhoshe ·

Dis die rede hoekom ek besluit het n organ donor te word,

Rooikopheks ·

My innigste simpatie, mag Jesus julle onderskraag en vashou in hierdie hartseer tyd.

Casper ·

Rus sag klein mensie.Ons weet Jesus is lief vir kindertjies en daarom kan ons rus in die wete dat jy geen pyn meer het nie en nou ‘n engeltjie is.

Skappie ·

Jammer om te hoor van julle seun Christian. Mag onse Liewe Jesus julle as gesin styf in sy arms vashou in hierdie moeilike tyd wat vir julle wag.

agnes ·

Dis maar beter so, baie lyding en pyn is hom gespaar. Ek het so,n kindje verpleeg en sy het hel gehad . Hy is beslis beter af by Liewe Jesus. Sterkte aan sy ouers

Prontuit ·

Ai hoe jammer – ons kan bid maar God beskik! rus sag klein engel kind

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.