Baba Eden: Vyf bly vir eers agter tralies

Eden Laird (Foto: Pink Ladies)

Die vyf mense wat in hegtenis geneem is in verband met die ontvoering en ʼn eis van R6 miljoen-losprys vir baba Eden Laird het Maandag die eerste keer in ʼn Gautengse hof verskyn.

Michael Basch, die familie se woordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die vyf het in die Palm Ridge-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering en afpersing. Die saak is tot 15 Mei uitgestel wanneer die beskuldigdes formeel om borgtog gaan aansoek doen. Hulle bly in aanhouding.

Die beskuldigdes, Cleopatra Manjankozi (die Lairds se huishulp), Nelisini Gabela‚ Kholwani Nyathi‚ Amos Moyo en Nonkayiso Maduna, se borgtogaansoeke word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor wat beteken hulle sal buitengewone omstandighede moet kan bewys waarom hulle borgtog toegestaan moet word.

Manjankozi werk al sowat twee jaar vir baba Eden se ouers, Bronwyn en Stuart Laird van Brackendowns in Alberton aan die Oos-Rand.

Maroela Media het vroeër berig Eden is Woensdag as vermis aangemeld nadat Manjankozi met hom gaan stap het, maar nooit teruggekeer het nie.

Hy is Saterdag net ná middernag gevind en vyf verdagtes, vier van Zimbabwe en een van Suid-Afrika, is in hegtenis geneem. Die kontant wat as deel van die R6 miljoen-losprys betaal is in die poging om Eden te red, is ook teruggekry.

Lt.genl. Deliwe de Lange, provinsiale polisiekommissaris, het opdrag gegee dat die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe verder moet ondersoek instel om ʼn suksesvolle vervolging in die hof te verseker.

“Dis belangrik om die nasionaliteit van die verdagtes in dié geval bekend te maak om lede van die publiek sodoende te waarsku teen die roekelose aanstelling van mense sonder om behoorlik hul agtergrond na te gaan,” het De Lange tydens die beskuldigdes se inhegtenisneming gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nadia ·

Ek is baie dankbaar sjoe dis leke om bietjie te lees dat die persoon lewend gevind is. Sterkte met die saak en mag geregtigheid geskiet.

Al ·

Die huishulp het met haar eie baba in die beskuldigebank gestaan. Sy het seker gehoop die regter gaan simpatie met haar hê?

Dafer ·

Ja, ons weet! Hulle sal later vrygelaat word! Die stof moet darem eers net ‘n bietjie gaan sak.

Reguit ·

Is hulle agter tralies ? Werklik? Watter tipe tralies? Hout?

Verbeel ek my of het hier dalk ‘n Azaniese wonderwerk gebeur?

Of moet ek nie té gou opgewonde raak nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.