Baba gevind ná kaper met motor wegjaag

Een van die foto’s van Thuto Kgogong wat op sosiale media versprei is met ʼn versoek dat mense na haar help soek. Foto: Facebook

ʼn 18 maande oue babadogtertjie is Vrydagoggend gevind nadat ʼn kaper haar ma se motor gekaap en met die kleinding steeds in die voertuig weggejaag het.

Kapt. Elsabé Augoustides, woordvoerder van die familie, het aan Maroela Media vertel klein Thuto Kgogong was ure lank vermis nadat die kaper met haar in die motor van die toneel gevlug het.

Volgens Augoustides was Thuto se ouers Donderdagaand van Johannesburg na Phokeng in Noordwes op pad, maar het die ouerpaar met verskillende motors gery. Thuto, ʼn albino, was saam met haar ma in ʼn wit Toyota Corolla.

Augoustides vertel Thuto se ma, wie se naam nie bekend is nie, het net ná middernag by ʼn verkeerslig by die Olympia-stadion naby Tlhabane stilgehou toe die kaper uit die donker verskyn en die motor se deur oopgeruk het. “Hy het die ma uit die motor geruk, in die voertuig gespring en weggejaag,” het sy gesê.

“Ek vermoed dit was vir hom ʼn verrassing om die baba in die motor te sien. Hy het dít allermins verwag en dit is dalk hoekom hy die voertuig nie ver van waar dit gekaap is nie bloot gelos en gevlug het.”

ʼn Kennisgewing van Thuto Kgogong se ontvoering wat op sosiale media versprei is. Foto: Twitter via @cci_network

Volgens Augoustides het Thuto se ouers onmiddellik ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak en inligting oor die gekaapte voertuig is dadelik deur die polisie en  plaaslike teenmisdaadgroep versprei. Augoustides het gesê die polisie bedank lede van die gemeenskap wat selfs in die middernagtelike ure ingespring het om dadelik na die gekaapte voertuig en die vermiste dogtertjie te help soek.

Missing Children SA het ook op sosiale media inligting oor klein Thuto versprei en mense gevra om op die uitkyk te wees vir haar.

“Omstreeks 09:00 is die voertuig in Tlhabane gevind met die baba steeds in die motor. Sy was ongedeerd, maar die arme kleinding was toe al ure lank alleen in daardie motor. Ons is net baie dankbaar dat sy niks oorgekom het nie, want dit kon soveel erger gewees het.”

Thuto is kort daarna met haar verheugde dog getraumatiseerde ouers herenig.

Volgens Augoustides word sake van motorkaping en ontvoering ondersoek, maar niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
jaco

Wie ry in 2018 in die land met die meeste misdaad in die wêreld, nog rond met ‘n motor sonder om die deure te sluit?

Avra

Lekker om goeie nuus te lees. Bly die kleinding is veilig tuis

Lana

Baie bly Thuto is ongedeerd gevind.

jean

Pragtige ou dingetjie…..pas haar mooi op…

Cherokee

Toe…toe… sluit die deure toe en pas vir Thuto op..!