ʼn 18 maande oue babadogtertjie is Vrydagoggend gevind nadat ʼn kaper haar ma se motor gekaap en met die kleinding steeds in die voertuig weggejaag het.
Kapt. Elsabé Augoustides, woordvoerder van die familie, het aan Maroela Media vertel klein Thuto Kgogong was ure lank vermis nadat die kaper met haar in die motor van die toneel gevlug het.
Volgens Augoustides was Thuto se ouers Donderdagaand van Johannesburg na Phokeng in Noordwes op pad, maar het die ouerpaar met verskillende motors gery. Thuto, ʼn albino, was saam met haar ma in ʼn wit Toyota Corolla.
Augoustides vertel Thuto se ma, wie se naam nie bekend is nie, het net ná middernag by ʼn verkeerslig by die Olympia-stadion naby Tlhabane stilgehou toe die kaper uit die donker verskyn en die motor se deur oopgeruk het. “Hy het die ma uit die motor geruk, in die voertuig gespring en weggejaag,” het sy gesê.
“Ek vermoed dit was vir hom ʼn verrassing om die baba in die motor te sien. Hy het dít allermins verwag en dit is dalk hoekom hy die voertuig nie ver van waar dit gekaap is nie bloot gelos en gevlug het.”
Volgens Augoustides het Thuto se ouers onmiddellik ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak en inligting oor die gekaapte voertuig is dadelik deur die polisie en plaaslike teenmisdaadgroep versprei. Augoustides het gesê die polisie bedank lede van die gemeenskap wat selfs in die middernagtelike ure ingespring het om dadelik na die gekaapte voertuig en die vermiste dogtertjie te help soek.
Missing Children SA het ook op sosiale media inligting oor klein Thuto versprei en mense gevra om op die uitkyk te wees vir haar.
“Omstreeks 09:00 is die voertuig in Tlhabane gevind met die baba steeds in die motor. Sy was ongedeerd, maar die arme kleinding was toe al ure lank alleen in daardie motor. Ons is net baie dankbaar dat sy niks oorgekom het nie, want dit kon soveel erger gewees het.”
Thuto is kort daarna met haar verheugde dog getraumatiseerde ouers herenig.
Volgens Augoustides word sake van motorkaping en ontvoering ondersoek, maar niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Wie ry in 2018 in die land met die meeste misdaad in die wêreld, nog rond met ‘n motor sonder om die deure te sluit?
Lekker om goeie nuus te lees. Bly die kleinding is veilig tuis
Baie bly Thuto is ongedeerd gevind.
Pragtige ou dingetjie…..pas haar mooi op…
Toe…toe… sluit die deure toe en pas vir Thuto op..!
Wat het die feit dat sy aan albinisme ly met die berig te doen? Die kennisgewing het mos foto’s ook by, so waarom nog noem dat sy ‘n “albino” ook is? Dis pure onnoselheid om só laat uit die Rand te ry dat jy amper middernag in Rustenburg aankom. Enigeen daar weet die tsotsi’s werk nagskof in daai area.
Die toordokters soek albino kinders vir muti.
Mag so wees Retha, soveel te meer ‘n rede om nie haar albinoskap oral te verkondig nie. Gelukkig het geen toordokter blykbaar help “soek” nie…
Ons gewone mense die wereld terugvat van die liberale misdaadbeskermers. Ons moet misdadigers en die wat hulle beskerm vasvat en ontmag.
Iets verkeerd hier. Wie beskerm misdadigers in SA? Die ANC. Reg? En hulle is ‘n oorwegend kommunistiese party. En kommunisme is die teenoorgestelde van liberalisme. Dus, hoe kry jy daai kloutjie by daai oor?
Pieter, dis gladnie so eenvoudig nie. Die kommuniste hier word gefinansier deur die supperrykes wat chaos wil veroorsaak sodat hulle meer hulpbronne kan kry.