Baba Ignus leef ‘wonderbaarlik’

Nadia Greyling kon Ignus uiteindelik ses weke na sy geboorte vir die eerste keer vashou. (Foto: Verskaf)

ʼn Baba wat gebore is met organe wat sy longe saampers, is eindelik tuis ná twee maande in die hospitaal waar hy versorg is deur ʼn hoogs bekwame span pediatriese en neonatale spesialiste en verpleegsters.

“ʼn Pasgebore baba se eerste huilgeluide is van die mooiste klanke ooit, daaroor het ek en my man beslis saamgestem, maar ons het geen idee gehad van wat op ons wag nie,” het Nadia Greyling gesê terwyl sy terugdink aan die geboorte van haar tweede seun op 15 April vanjaar. Dit was kort voordat die gesin uitgevind het van Ignus se lewensgevaarlike afwyking waarmee hy gebore is.

“Ignus se kans op oorlewing was buitegewoon laag, dit het bykans nie bestaan nie. Tog het hy nie net oorleef nie, maar alles dui daarop dat hy liggaamlik en neurologies gesond is. Dit is ʼn absolute wonderwerk,” het dr. Ashley Jeevarathnum, ʼn pediatriese pulmonoloog wat by die Netcare Clinton-hospitaal in Alberton praktiseer, gesê.

Byna onmiddellik nadat Ignus gebore is, het die kinderarts in die teater besef dat Ignus nie asemhaal soos hy moes nie. Hy is na die hospitaal se neonatale hoësorgeenheid (NICU) gehaas vir waarneming, en die klein baba is aan ’n ventilator gekoppel om sy asemhaling te ondersteun. Dit was die eerste van talle lewenslyne wat sou help om hom te onderhou in die stryd om oorlewing.

“Die volgende oggend het dr. Klaas Mnisi, ʼn neonatoloog, aan ons verduidelik dat Ignus iets gehad het wat ’n aangebore diafragmatiese breuk [CDH] genoem word. In die liggaam van my baba was daar ʼn groot gat in die spier wat die bors van die buik skei. Ignus se buikorgane kon deur die spier druk en sy longe saamdruk,” het Nadia verduidelik.

Volgens Jeevarathnum het Ignus aanvanklik nie gereageer op die terapeutiese behandelings soos gehoop nie.

“Die druk in sy longe was buitengewoon hoog, ʼn toestand bekend as pulmonale hipertensie, en alle lewens- en asemhalingsmaatreëls het misluk. Die dokters het besluit om buite-liggaamlike membraan-oksigenasie [ECMO] as lewensondersteuning te gebruik. ECMO is ’n hoogs gespesialiseerde proses en in Ignus se geval het ’n masjien die funksies van die hart en longe 24 uur per dag vir 12 dae kunsmatig verrig.

“Dit sou sy longe ʼn kans te gee om te rus voordat hy gereed sou wees vir ʼn operasie. Op daardie oomblik het dit gevoel asof iemand die hele wêreld onder my voete uitgeruk het, maar ons was desperaat om Ignus ’n kans te gee,” sê Nadia.

“Hoewel ECMO goed gevestig is in volwassenesorg in Suid-Afrika, en ’n baie goeie strategie vir behandeling is, hou dit groot risiko’s in vir ʼn pasgebore baba. Dit was egter die beste opsie om Ignus gesond genoeg te kry vir die operasie om sy breuk te herstel,” het Jeevarathnum gesê.

Ná ses weke – 1 008 uur ná hy geboorte – kon Nadia vir die eerste keer haar babatjie vashou. “Dit was ʼn wonderlike gevoel.”

’n Span van tien dokters het tydens die delikate operasie aan Ignus gewerk.

Suster Khanyi Ngobese, wat 36 jaar se verpleegervaring in Suid-Afrika en die buiteland het, het gesê om Ignus te verpleeg het van almal vereis om “tien stappe vooruit te dink”.

“Ek dink die NICU-verpleegsters het ECMO aanvanklik ʼn bietjie oorweldigend gevind, omdat hulle geen vorige ervaring van die proses gehad het nie, maar ek was so trots op hoe hulle dit hanteer het.

“As jy ’n loopbaan in verpleegkunde volg, beloof jy aan God dat jy alles sal doen om die lewe van ʼn pasiënt te red. Selfs toe ek by die huis was, moes ek weet hoe dit met hom gaan, en het die eenheid laat beloof om my te bel as daar ’n verandering in sy toestand is of as hulle raad benodig het,” het Ngobese gesê, wat nagskofte gewerk het om by Ignus te waak.

Nadia onthou die angstige tyd goed: “In ’n stadium het ek agt of nege masjiene se pype getel wat aan sy klein lyfie gekoppel was, enigiets van druppels, die ECMO-masjien self, hemodialise, ’n ventilator met stikstofoksied en ’n ossillator. Elke skuif wat dr. Jeevarathnum gedoen het, is noukeurig bereken en bespreek met ’n span wat hoogs gekwalifiseerd was in gebiede in velde waarvan ek die name nie eens kan uitspreek nie.”

Trotse ouers, Nadia en Philip Greyling, was verheug toe Ignus gesond genoeg was om uit die Netcare Clinton-hospitaal te ontslaan. Dokters was aanvanklik diep bekommerd oor Ignus se kanse om te oorleef. (Foto: Verskaf)

Na byna twee weke op ECMO was die spesialiste dit eens dat Ignus reg was om die operasie te ondergaan waartydens die gat in sy diafragma herstel sou word. Sy buikorgane, insluitend sy ingewande, lewer en milt, sou ook in die korrekte anatomiese posisie teruggeplaas word om die druk op sy longe te verlig.

Dr. Charles Carapinha, pediatriese chirurg, wat deel was van die span wat Ignus behandel van die dag van sy geboorte, het dié belangrike operasie uitgevoer.

“Ignus se longe en bloedvate was onder ernstige druk weens sy buikorgane wat deur die groot gat in sy diafragma gedruk het. Tydens die operasie is ’n spesiale kollageen gebruik om die gat in sy diafragma mee toe te maak, aangesien dit ’n biologiese seël skep wat so natuurlik as moontlik is vir ’n baba wat groei.

“Ignus se ouers was dwarsdeur die middelpunt van die span. Hulle is deursigtig en objektief ingelig oor die moontlike risiko’s wat in elke stadium betrokke was. Na my wete is Ignus die eerste baba wat met dié soort breuk in Suid-Afrika gebore is, wat ECMO voltooi het en daarna ʼn suksesvolle diafragmatiese breukoperasie ondergaan het. Hy het die operasie goed deurstaan, en sy vordering was merkwaardig. Ons klein soldaatjie ​​was uiteindelik gereed om huis toe te gaan,” het Carapinha gesê.

Ná ses weke – 1 008 uur ná hy geboorte – kon Nadia vir die eerste keer haar babatjie vashou. “Dit was ʼn wonderlike gevoel,” sê sy.

“Die grootste geskenk wat iemand kan ontvang, is waarskynlik die geskenk van die lewe. Op ʼn stadium het ek dr. Jeevarathnum bedank vir wat hy tot dusver gedoen het, en ek het gesê dat hy ’n wonderwerk gedoen het. Sy woorde sal my lank bybly en my deur dae en nagte van onsekerheid dra: ‘Christus het die wonderwerk gedoen, hy het net my hande gebruik’.”

Dr. Jeevarathnum voeg by: “Ignus se verhaal het die maatstaf vir Suid-Afrikaanse neonatale sorg verhoog, wat toon dat ons internasionale standaarde vir mediese sorg vir ons kinders kan bereik. Hierdie wêreldklas-ingrypings is in ons land beskikbaar, en met die gesamentlike pogings van ’n toegewyde multidissiplinêre span het die uitstekende herstel van Ignus bewys wat moontlik is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
anniekiewiet

Net die spesialis se geloof, laat my al bid om te sê dankie dankie dankie Here.

Zelda

Sjoe, dis voorwaar ‘n wonderwerk! En dis so lekker om te lees dat die dokter erken het “Christus het die wonderwerk gedoen, hy het net my hande gebruik”. Ons dien ‘n Groot Geneesheer!! Dankie Abba Vader…

Jan Seerot

Iggie, bulperd! Man. as jy saam met my was doerie tyd, dan was jy ‘n Recce want jy het VASBYT!
Omni Ad Deo Gloria!

Fubar

Wat ‘n hemelse seën, dat God mense soos hierdie mediese span geskape het. En dat baba Ignus, deur dieselfde Hand geskape, ‘n lewende wonderwerk is. Verhale soos hierdie laat ‘n mens moed skep vir die toekoms.

Yvonne

Wat n wonderlike gebeurtenis….dankie Here dat hierdie Dr vir U die lof en eer gee..seen hom Vader…..en hierdie ou seuntjie