Baba in koma ná amper-verdrinking by dagmoeder

JD Lange (Foto verskaf)

ʼn Een jaar oue baba is in ʼn mediese koma in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad, nadat hy byna verdrink het op sy eerste dag by ʼn dagmoeder op Saldanha aan die Weskus.

Jessica Lange, ʼn enkelma, het die naweek van die Kaap na Saldanha verhuis en haar seun JD Maandagoggend omstreeks 07:30 in Carien Möller (64), ʼn dagmoeder wat sy al jare lank ken, se sorg gelos. Dit was Lange se eerste dag by ʼn nuwe werk, maar 40 minute later het sy ʼn oproep gekry dat JD amper verdrink het en op pad is na die hospitaal op Vredenburg.

Volgens Elana Wilde, Carien se dogter wat saam na die kinders kyk, het JD saam met die ander kinders sy pap geëet. Toe die kinders net daarna in die speelkamer bymekaar kom, was JD nie by hulle nie. Sy het onmiddellik almal na hom laat soek. Sy self het ʼn “swaar gevoel” gekry en om gehardloop na die swembad.

“Die swembad is omhein met ʼn hoë betonmuur en twee hoë houthekke met kinderveilige knippe. Ek het by die hek ingegaan en JD onderstebo in die swembad sien dryf,” vertel Wilde.

Sy het hom onmiddellik uitgehaal en met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin terwyl sy om hulp geroep het. Haar man, Jimmy Wilde, het noodhulpkursusse by die werk gedoen en die KPR oorgeneem. Hy het ook met mond-tot-mond-asemhaling begin.

“ʼn Gesinsvriend het die ambulans gebel, maar toe dit nie gou genoeg by ons aankom nie, het ons besluit om self die sowat 11 km na die Life Weskus Privaat Hospitaal op Vredenburg te jaag,” sê Elana. “Jimmy het op die agterste sitplek met KPR en mond-tot-mond-asemhaling aangehou tot by die hospitaal. Hy het kort-kort hardop gevra dat die Here asseblief die kind se lewe spaar.”

By die hospitaal aangekom is JD per helikopter na die Rooikruis-hospitaal in Kaapstad gevlieg, waar hy in ʼn mediese koma geplaas is. Lange het aan Maroela Media gesê dat sy vol vertroue is dat JD ten volle gaan herstel. “JD haal self asem en reageer op musiek. Ek word omring deur geliefdes en ons vat dit dag vir dag,” sê Lange. Sy wil nie in hierdie stadium die skuld vir wat gebeur het op iemand se skouers plaas nie, maar vra dat mense eerder vir JD bid. Boodskappe oor sy toestand word op die JD Lange-blad op Facebook gedeel.

Die Möllers en Wildes sê dat selfverwyt hulle gedaan maak. Die houthek na die swembad was toe, en JD sou onmoontlik by die hoë knip kon bykom. Hulle vermoed hy het deur die voordeur en deur ʼn omheinde tuintjie aan die kant van die huis, na die swembadgedeelte geloop en in die swembad beland.

“Volgens die dokters sou JD nie gelewe het as Jimmy nie aangehou het met die KPR nie,” het Möller gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

BoerSonderRoer ·

My dokter vriendin het my geleer mens moet aanhou met “CPR” tot die ambulans dienste kom, tot 2 ure lank.

‘n Dokumentêr het my geleer mens moet die liggaam en veral die brein, so koud as moontlik hou.

Lorna ·

N ongeluk gebeur so vinnig
Hoop en glo OP God dat hy gou herstel en mamma en almal hom soos good kan oppas
Amen

Santjie ·

Sterkte aan almal. Klein kindertjies is eintlik gebore McGyvertjies en ons as volwassenes is geneig om hulle te onderskat.

koos10 ·

Ek hoop die baba herstel, want dit gaan vir lank by die betrokkens spook.
Dit is duidelik dat daar vir ‘n tyd nie toesig was nie en ook dat die swembad nie beveilig was nie.
Baie sterkte.

Louise ·

Ai dis hartseer, n ongeluk gebeur regtig in n oogwink.
Hoop die kind herstel ten volle en dag God hom sal omou met sy liefde en sterkte aan almal

Kaal Keiser ·

Ons dien ‘n God van wonderwerke wat ons nie teleurstel nie ! Hou aan glo, vertrou en bid !
Jul sal getuig van Sy goedheid en guns.

VanAfrika ·

Gelukkig het die nasorg vinnig opgemerk dat JD nie saam die ander kinders is nie en dankie dat hulle opgeleide persone gehad het wat geweet het wat om te doen.
Hierdie kry n mens nie maklik in menige dagsorg nie en soveel babas en kinders het gesterf as gevolg van personeel wat nie weet wat om te doen as n kind in die moeilikheid raak nie.
Die feit dat JD in die swembad opgeland het dink ek was regtig n ongeluk. Die swembad was goed omhein maar hoe moet mens nou weet dat daardie klein neusie hom n anderpad sou lei om hom in daardie swembad te laat land. Hy het dalk iemand daar sien loop en nuuskierigheid het oorhand gekry.
Die ma ken ook die dagsorgers jare lank en as dit nie veilig was nie sou sy nie haar baba daar gelos het nie. Nie sy of die dagsorgers het vermoed dat die kleinding n ander padtjie na die swembad toe sou vind nie.

Nou weet hulle en kan hulle die saak regstel voor nog n tragedie gebeur.

Yolandie ·

Ek bid dat die klein seuntjie volkome sal herstel. Sterkte aan almal wat geraak word deur die tragiese ongeluk.

Eragrostis ·

Ek het nie woorde nie. Al wat ek kan sê is baie, baie sterkte, en ek glo en bid vir genesing, herstel en krag van Hom van wie ons almal afhanklik is. Niks is vir Hom onmoontlik nie.

marlene ·

Ek hou niks van kleuter skole of dag moeders nie, daar is te veel kiners vir te min onderwyser of toesighouers. ek vat dit van my self af, my seun word nou eers 2 en hy is vreeslik besig jy moet die heeltyd kyk na hom, nou hoe doen jy dit as jy n 20 ander kinders ook moet kyk. dit gebeur te veel dat daar kinder iets oorkom by dag sorg, soos ek die berig lees is ek in trane hvl gevalle was daar nie nou al nie. kleuter skole en dagsorg centrums moet meer personeel in diens neem te minste 1 vir elke 5 kinders. ek het iemand wat net na my kind kyk deer die dag ek waag dit nie in n kleuterskool nie

Mia ·

So ek neem aan jy gaan jou kind home school as hy kleuterskool toe moet gaan. Jy kan nie oordeel nie. Ek het ‘n swembad by my huis en my kind het al ook verby die heining gekom en amper ingeval en ek en pappa was altwee daar. Kleintjies is baie vinnig en ‘n ongeluk gebeur in ‘n oogwink.

Marcello ·

Al hou ‘n mens nie daarvan nie, het ‘n mens somtyds nie ‘n keuse nie….

popsa ·

Stem saam, Leon. Eintlik, klein kindertjies plus swembaddens….daardie kombinasie vorm veels te dikwels weer en weer ‘n bitter droewige tragedie. As ons terugdink, onthou ons die gevalle deur die jare. En daardie harte pyn tot vandag… Al is die hekke of mure ook hóé stewig, op een of ander wyse kom daar tóg op ‘n dag ‘n kleinding daar verby. En dit gebeur weer ‘n keer. Só onnodig… As ouma wat omgee vir elkeen se pyn, sê ek in alle liefde dat ons nou, vooraf, kan leer uit wat weer eens gebeur het. Liewer veilig as later so innig, innig spyt en jammer. Baie sterkte aan die mamma en dagsorgpersoneel. Ons vertrou.

Marcello ·

Sterkte, aan almal betrokke, dit is nogal onstellend om dit te lees, veral omdat ek self kleinkinders het wat in dagsorg is. Ons kan net bid en vertrou dat JD volkome sal herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.