Baba in koma ná hy aan biltong stik

Ayden is al vir twee weke in ’n mediese koma nadat hy aan ’n stukkie biltong gestik het. (Foto: Verkaf)

’n Ses maande oue baba is al vir twee weke in ’n mediese koma nadat hy aan ’n stukkie biltong gestik het wat in sy mond agtergebly het.

“Ons mis sy groot ogies wat die wêreld bekyk,” sê ’n hartseer Estelle van Niekerk, wat dag en nag saam met haar man, Sarel, langs hul seuntjie, Ayden, se hospitaalbed waak.

Van Niekerk vertel dat Ayden by sy ouma se huis op Lydenburg in Mpumalanga aan ’n stuk biltong gekou het om die jeukerigheid wat met tandesny gepaardgaan, te verlig. Dít, sê Van Niekerk nou, het Ayden se ouma uit die goedheid van haar hart gedoen. Ayden bly bedags by sy ouma terwyl sy ouers werk.

“Daar het vermoedelik ’n stukkie afgebreek en in sy mond agtergebly wat sowat 30 minute later in sy keel gaan sit het toe sy pa hom neergelê het.

Ayden by sy ma, Estelle van Niekerk. (Foto: Verskaf)

“Dit het sy lugpyp verstop en hy het vreeslik aan die stik gegaan. Hy het die vreeslikste geluide gemaak en sy lippe het blou geword.”

Van Niekerk sê haar man het alles in sy vermoë gedoen om Ayden te help en het ook mond-tot-mond-asemhaling op hom toegepas.

’n Noodhelikopter het Ayden van Lydenburg na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg vervoer, waar hy tans in die intensiewesorgeenheid behandel word.

“Hy is steeds onder verdowing en sy toestand kritiek. Hy is gelukkig al van die breinmonitors afgehaal en voorlopige skanderings wys dat daar nie interne breinskade is nie,” sê Van Niekerk.

“Hy het infeksie op sy regterlong ontwikkel, maar dit is darem al beter. Hy het ook nog swelling op die brein en ontvang steeds suurstof.”

Ayden is steeds onder verdowing en sy toestand kritiek. (Foto: Verskaf)

Van Heerden sê Ayden baklei tans teen ’n bloedinfeksie wat verdere swelling veroorsaak.

“Die feit dat sy lyfie ook nie baie beweeg nie vererger boonop die swelling.

“Ons is hartseer en het soveel skuldgevoelens. As ouer wonder jy of ons dinge anders kon gedoen het om dit te verhoed.

“Ons verstaan nie waarom dié fratsongeluk met ons seuntjie moes gebeur nie.”

Sy sê Ayden is die maklikste klein seuntjie en glimlag altyd.

“Die afgelope twee weke voel soos ’n ewigheid. Ons het geen idee hoe lank hy nog hier gaan wees nie.

“Ons mis hom en bid dat die Here hom sal aanraak en volkome genees.”

Vriende van die gesin het sedertdien vir Ayden ’n Facebook-blad begin en verskeie ander gebedsgroepe op WhatsApp gestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lindi

Daai arme ouma! Sy gaan ernstige berading nodig he om van die skulgevoel ontslae te raak (indien sy ooit weer emosioneel regkom).

Fedup

Such a beautiful little boy.
God will keep him in the palm of his healing hands.

Kaal Keiser

Deur God is jy genees !

Gert K

Hoe baie het ons nie ook vir ons kindertjies biltong gegee as hul tande sny nie! Moet asb. nie hard op julself wees nie, dit was ‘n fratsongeluk en ons glo en vertrou dat hy volkome sal herstel. Ons bid saam met julle.

Jakes

Dit is baie tragies maar niemand se skuld nie. Ons hoop dat die klein pragstuk volkome sal herstel en moet vir hom bid.