Baba in Limpopo ontvoer

Die polisie in Mokopane (Potgietersrus) het ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur na ʼn vrou wat ʼn ses maande oue babaseuntjie by ʼn winkelsentrum gesteel het.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die seuntjie is Donderdag ontvoer.

“Die 24-jarige ma het ʼn onbekende vrou by die winkelsentrum ontmoet en hulle het saam inkopies gedoen. Die ma het kos gekoop en die vreemdeling genooi om saam te eet, maar sy het die aanbod van die hand gewys,” het hy verduidelik.

“Die verdagte het aangebied om die baba vas te hou sodat die ma kan eet. Hulle is omstreeks 13:40 na ʼn ander supermark, terwyl die verdagte steeds die baba vasgehou het. Sonder die ma se medewete het die vrou met haar baba verdwyn.”

Die vermeende ontvoerder is in haar 20’s. Haar identiteit is nog steeds onbekend. Sy is maer met ʼn donker vel en lang gevlegde hare.

“Enigiemand met inligting om die ma met haar baba te herenig word versoek om kapt. Marcus Mofya te kontak by 082 565 8277 of 015 409 1400.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

LD ·

Dis skokkend!! Hier in ons klein dorpie verwag mens nie so iets nie! Hoop die mamma kry vinnig haar baba veilig terug! Sterkte!!

Dries Moolman ·

Die gebrek aan fyner detail laat die storie nogal verdag klink. Maar kom ons hoop net die arme baba word darem ongeskonde teruggevind.

Pauline ·

Ai tog, misdaad steek al hoe meer kop uit in klein dorpe. Hopelik is die baba veilig en word hy spoedig opgespoor.
Maroela Media; in die tweedelaaste paragraaf: ‘gevlegde hare’. Is dit nie gevlegte hare nie?

Sune van Heerden ·

Dagsê Pauline

By voltooide deelwoorde wat op “f”, “g” en “s” uitgaan, word attributiewe vorme met “-te” of “-de” erken (dus ingelegde/ingelegte; ingeligde/ingeligte; gevlegde/gevlegte).

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Pauline ·

Goeiedag Suné

Dankie vir jou terugvoer. Met die twee ander voorbeelde wat jy noem, gebruik ek byvoorbeeld; ‘ingelegde vis’ en ”n ingeligte besluit’. Die ander opsies klink eenvoudig nie vir my ‘reg’ nie. Soos daar gesê word; ‘n mens is nooit te oud om te leer nie.

Ander woorde wat gereeld op Maroela Media gebruik word wat vir my heeltemal verkeerd is, is woorde soos ‘n reusebrand, reuseluidsprekers, reusewerk, reusedeurbraak, ‘n reusegebied, ens. Dit is so goed ‘n mens skryf, ‘n grootgebied, ‘n kleingebied, ‘n enormegebied, ‘n massiewegebied. Ek skryf sulke woorde nog my lewe lank as twee woorde.

Sune van Heerden ·

Dagsê Pauline

“Reuse-” en “gunsteling-” word vas geskryf omdat dit nie byvoeglike naamwoorde is nie. Dit klink vir die meeste mense verkeerd, want “reuse” beteken vir mense dieselfde as “groot”, en dit is ʼn byvoeglike naamwoord. Dit is belangrik om te onthou dat woordsoorte nie (eerstens) op grond van betekenis bepaal word nie, maar eerder op grond van die woord se morfologiese eienskappe en die optrede van die woord in ʼn sin.

As ons die toetse vir byvoeglikheid vir “reuse” toepas, vind ʼn mens vinnig uit dit is nie ʼn byvoeglike naamwoord nie: Dit kan nie trappe van vergelyking kry nie (*reuser, *reusste) en dit kan nie predikatief gebruik word nie (*die reuse monster x *die monster is reuse). “Reuse-” is dus ʼn selfstandige naamwoord en moet dus in samestellings vas geskryf word: reusegeveg, reusemonster, reusebrand.

Net so ook byvoorbeeld “gunstelingliedjie”, “gunstelingfliek”, “gunstelingvakansieplek”.

Lees gerus hier meer: Nog los-en-vassery: privaat, gunsteling en reuse

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Pauline ·

Sjoe Suné; ek het jou verduideliking asook die skakel gelees en ek moet vir jou sê, my kop draai. Soveel soos alles nou vir my sin maak, klink dit egter nog steeds ‘verkeerd’. Ek het vir ‘n paar van my familielede en vriendinne gevra omtrent ‘reuse’ brand/gebied en ‘gunsteling’ liedjie/vakansieplek en almal het laat weet dit word as twee woorde geskryf. Ek het ook nog nooit in die kommentaar hier gelees dat enigiemand sulke woorde as een woord spel nie, daarom was ek so verbaas dat dit in artikels so gespel word. Ek is seker indien ek ‘n honderd familielede, vriende en kennisse vra, sal hulle al die woorde as twee woorde spel. Nietemin, ‘n reël is ‘n reël.

willem Botha ·

Kry die perlemoen eenheid in om die kind op te spoor as hulle nie te besig is nie want dit blyk hulle kry die beste resultate.

Sue ·

Aii Alida, dis seker uit barmhartigheid. Mens leer nou net uit ander se foute n duur les. Dis vreeslik hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.