Baba in polisie se raadsaal gebore

Sers. Nkang Winner Mogoru sê dit is die derde vrou wat sy al by die einste polisiestasie gehelp het om geboorte te skenk (Foto: Verskaf)

Twee polisiebeamptes van Roedtan in Limpopo het verlede Sondag hul lyf vroedvrou gehou toe hulle ʼn vrou in nood gehelp het om geboorte te skenk. Die hoogswanger vrou het by die polisiestasie op die dorp om hulp aangeklop nadat die plaaslike kliniek haar weggewys het. Die baba is met die hulp van die beamptes in die polisiestasie se raadsaal gebore en is vandag perdfris en gesond.

Dit is volgens polisiebeamptes die derde baba wat by dié polisiestasie die lewe in gehelp is.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê die 23-jarige vrou het op 30 Mei omstreeks 13:30 by die polisiestasie se gemeenskapsdienssentrum aangekom en gekla oor erge kraampyne. Dít nadat sy eers by die dorp se kliniek probeer hulp kry het, maar weggewys is omdat daar geen verpleegster was om haar te help nie.

Konst. Mnisi Kleinbooi Solomon, wat in daardie stadium by die polisiestasie aan diens was, het sers. Nkang Winner Mogoru, wat op patrolliediens was, gekontak om hand by te sit met die geboorteproses. Mogoru het twee keer in die verlede al vroue in nood gehelp om geboorte te skenk.

“Ek was besig om aan ʼn gepoogde rooftog aandag te gee toe Solomon my bel en omtrent die swanger vrou by die stasie inlig. As ʼn vrou het ek geweet dit is my plig om haar te help,” vertel Mogoru aan Maroela Media.

Mogoru sê sy het eers by haar huis gestop om benodighede, waaronder ʼn skeermes en kombers, te kry, wat sy tydens die geboorteproses sou nodig kry. Sy het ook solank ʼn ambulans van Mookgophong (Naboomspruit) ontbied. Die ambulans was egter in daardie stadium in Modimolle (Nylstroom), sowat 87,6 km van Roedtan af.

“Ek het besef dat die ambulans te lank gaan vat en dat ek en konst. Solomon die vrou sal moet help geboorte skenk. Die baba was aan’t kom.”

Mogoru sê hulle het die vrou in die stasie se raadsaal gemaklik gemaak en voorberei vir die geboorte.

Sers. Nkang Winner Mogoru en konst. Mnisi Kleinbooi Solomon het hand bygesit met die geboorteproses (Foto: Verskaf)

“Ek het vir haar mooi verduidelik hoe om asem te haal en te druk.

“Ek het ook vir God gevra om te help sodat die geboorteproses normaal verloop en dat daar nie komplikasies is nie.”

Mogoru sê ongeveer 20 minute nadat sy by die stasie aangekom het, het hulle die vrou se pasgebore babadogtertjie in die wêreld verwelkom.

“Die dogtertjie was groot en gesond. Die ma was deurentyd sterk en het presies gedoen wat ek vir haar gesê het. Die geboorte het glad verloop. Dit alles te danke aan God se groot genade.”

Die ambulans het ʼn ruk daarna by die stasie aangekom en die vrou en haar baba hospitaal toe geneem. Hulle albei was in ʼn goeie gesonde toestand toe die ambulans hulle opgelaai het.

Mogoru sê dit is die derde vrou wat sy al by die einste polisiestasie gehelp het om geboorte te skenk.

“Daar is geen verpleegsters na-ure by die kliniek aan diens nie. So as die vroue oor ʼn naweek nie hulp kan kry by die kliniek nie, kom klop hulle by die polisiestasie aan vir hulp. Dit is dan ons plig as polisiebeamptes om die vrou te help en só haar en haar baba se lewe te red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VannieBaai ·

Nog iemand wat deur die regering gefaal is – hul eie mense ly daaronder. Welgedaan aan dié beampte.

Anoniem ·

Sers. Nkang Winner Mogoru en konst. Mnisi Kleinbooi Solomon . dankie vir jul onbaatsugtige hulp en bystand aan die Ma. Mag daardie “Kliniek” se personeel hul koope in skaamte laat sak!

Belinda ·

Ek wil net baie dankie se aan Sersant Mogoru en Konstabel Solomon baie dankie se.
Mense kritiseer altyd die SAPS en sien nooit die goeie wat hul doen (uit hul eie) , en daarvoor se ek net “dankie”

modiglianigirl ·

Aan Sers. Nkang Winner Mogoru en konst. Mnisi Kleinbooi Solomon. Julle is fantasties! Báie dankie vir julle menslikheid en omgee harte. Dankie tog dat julle verseker het dat Mamma en babatjie veilig is.

Miskruier ·

Skande dat daar in Limpopo, waar sekerlik die meeste geboortes is, nie n werkende kliniek beskikbaar is nie.

Chantel ·

Twee HELDE! welgedaan en dankie dat julle haar gehelp het.
So gaan so baie babas dood.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.