Baba in waakeenheid ná hy by dagsorgsentrum stik

Marlo van der Westhuizen. Foto: Verskaf

Marlo van der Westhuizen. Foto: Verskaf

ʼn Ouerpaar van Pretoria oorweeg regstappe nadat hul vyf maande oue baba verlede week by ʼn dagsorgsentrum gestik en moontlik breinskade opgedoen het.

Bennie van der Westhuizen en Lorainne de Bruyn se babaseuntjie, Marlo, is Dinsdag na die Eugene Marais-hospitaal gehaas nadat hy by die Hasie Kalbassie-dagsorgsentrum gestik het. Van der Westhuizen het Maandag aan Maroela Media gesê die voorval het glo tydens voedingstyd plaasgevind.

“Die eienaar van die sentrum het ons gebel en gesê hy het verstik. Toe ons by ongevalle kom, het Marlo mieliepitte en heel stukke kos opgebring,” het hy gesê. “Ons gee vir hom net fyn kos by die huis, so ek weet nie hoekom hy heel stukke kos opgebring het nie. Die eienaar het gesê sy het wel sy kos fyngemaak, maar dit stem nie ooreen met wat by ongevalle gebeur het nie.”

Rika van den Berg, eienaar van die dagsorgsentrum, het gesê Marlo het kort nadat hy geëet het, begin huil. “Ek het hom opgetel en met hom badkamer toe gestap om sy mondjie af te vee. Op pad badkamer toe het hy skielik so agteroor getrek en styf geword in my arms en sulke snorkgeluidjies gemaak.”

Lorainne de Bruyn en Marlo van der Westhuizen. Foto: Facebook

Lorainne de Bruyn en Marlo van der Westhuizen. Foto: Facebook

Van den Berg het met Marlo na haar dogter gehardloop wat opgelei is in noodhulp en sy het hom agter op sy rug geklop om te sien of daar enige kos uit sy mond kom. “Daar het niks uitgekom nie en hy het ook geen reaksie getoon nie. Hy het net daarna ophou asemhaal,” het Van den Berg gesê. “Ons het hom op ʼn plat oppervlak gesit en begin CPR doen. Hy het weer begin asemhaal.”

Intussen is die ambulansdiens gebel en paramedici het by die dagsorgsentrum opgedaag. Van den Berg het gesê terwyl die paramedici met hom besig was, het hy weer ophou asemhaal en moes hulle weer mond-tot-mond-asemhaling toepas.

Volgens Van den Berg het Marlo groente en pasta geëet wat in ʼn voedselverwerker fyngemaak is. “Hy het een keer opgebring voor die paramedici opgedaag het en weer toe hulle daar was, maar hy het net melk opgegooi. Ek het gedink hy het dalk verstik oor hy daardie geluide gemaak het, maar ek kan nie presies sê wat gebeur het nie.”

Sy het die voorval as traumaties en emosioneel beskryf. “Ek was Sondagaand by hom. Sy mamma het gereël dat ek kon ingaan en hom vashou. Ek verstaan daar kan moontlik komplikasies wees omdat hy ʼn ruk sonder suurstof was, maar ek is dankbaar dat hy lewe.”

Volgens Van der Westhuizen het Marlo weer stuiptrekkings in die hospitaal gekry. “Hy is nog in die waakeenheid en moes ʼn voedingsbuis kry, maar het Maandag weer begin om bottel te drink en hy lag weer.”

Van der Westhuizen het gesê dit is in hierdie stadium onduidelik of Marlo breinskade opgedoen het en dokters sal hom voortdurend monitor om dit te bepaal. “Die kans op breinskade is daar omdat hy vir ʼn ruk sonder suurstof was. Daar is ook bloeding agter sy oë wat moontlik kan veroorsaak dat hy blind word.”

Hy het gesê hoewel hy en Lorainne nog onseker is wat presies gebeur het, daar verdere ondersoek ingestel sal word. “Ons is baie dankbaar dat sy [Van den Berg] sy lewe gered het en ons sal nou moet wag om te sien hoeveel skade Marlo gaan oorhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Eish! ·

Kyk na die week of twee wat verby is, se ek dankie dat my kids groot is. Nooit ooit wil ek na ander se kindertjies kyk nie. Dalk moet mammas meer oorweeg om self hul kinders groot te maak. Veral as daar ‘n pa is wat werk en kan sorg. Sodoende sal ons land meer poste he vir die gene wat werkloos is en moet werk omdat hul alleenouers is. Te veel luukse lewens en dan MOET altwee ouers werk. En enkel ouers kry ons kids groot sonder ‘n tweede salaris of inkomste.

Irah ·

Glo my, baie van ons sou bittergraag eerder by die huis wou wees saam met ons kinders. Ons ons lewe ook nie almal luuks nie. Ons is ‘n middelklasgesin maar met petrolpryse wat altyd klim, kos wat elke maand duurder is en konstante Eskom verhogings kan mense dit regtig net nie bekostig om nie te werk nie. Ek haal my hoed af vir enkelouers wat dit regkry, maar moenie almal met dieselfde stok meet nie.

anon ·

ek n tuis bly ma kyk na my kindjie dis ni maklik met een inkomste ni so ek wys ni vinger as mama ok werk ni

Ai ·

Ek sal laaik om te weet waar die mielie pitte en heel kos vandaan kom iemand het seker skelmpies vir hom dit gegee as die kos wat die skool hom gevoer het in voedselverwerker fyn gemaak is. Beste opasser is jy self is baie moeilik as jy iemand anders se kind oppas want daai ouers eis n verduideliking. Eis swaar saak..

S ·

5 maande oue baba wat vaste kos eet? Seker moontlik maar vir my bietjie vroeg. Kos moet baaaaaie fyn gemaak word soos puree as jy dit wel oorweeg. Purity vir 5 mnde oue babas is amper ‘n vloeistof. Sterkte liefste klein mensie.

Ek dink ·

Ja, maak maar self die kleinding groot tot hy/sy so drie is. Dit vra BAIE opoffering en die geld kan net SO Ver kom, maar dan het jy gemoedsrus. Mense moet mooi dink voor hul so klein baba êrens laat bly, want al is ‘n dagsorgsentrum hoe goed dan gebeur sulke goed steeds. My beleid is as jy nie kan bekostig om tuis te bly vir jou kind nie, dan kan jy kinders NIE bekostig nie. PUNT. ag en stenig my maar, dis hoe ek voel. Ek het dit gedoen en later weer gaan werk en dit was dit. Ons het gesukkel maar ek het gesweer geen ander mens kyk na my kiddies tot hul 3 is wat hulle goed genoeg kan praat en sê wat waar gebeur. Selfs dan kan dit ‘n risiko wees maar darem minder as ‘n pap baba.

Gina ·

Ag ouers word groot, enige baba kan stik, dis nie altyd die dagmoeder se skuld nie, vinnig om regstappe te vat maar hoekom kyk jy dan nie na jou eie kind nie, dalk sou dit ook gebeur het

Nadia ·

Baie sterkte aan die ouers & die kleine lyfie. Baba’s moet eers eet van 6 maande af! Melk is meer as genoeg tot dan.

Lientjie P ·

My baba het vanaf 3 maande oud n lepeltjie pap elke oggend geeet, met toestemming van ons huisdokter. Sy het gese, sulke gulsige babas kan maar n lepel pap elke dag kry. My baba is vandag 1jr oud en eet goed

Eish! ·

My punt is net dat ‘n dagmoeder is nie ‘n engel nie. ‘n Kind kan enige tyd, enigiets in sy mond kry. Mishandeling is heeltemal ‘n ander saak. As ‘n ma ‘n kind dan wil he en vrygeskeld wil word van alle daagse gebeure, maak jou eie kind groot. Net soos jy net jou beste gee, kan ‘n dagmoeder ook net haar beste gee. Dankie tog dit is nie my beroep nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.