Baba in waakeenheid ná kokende olie op haar val

Jaydené Croucamp voor die ongeluk. Foto: Verskaf

WAARSKUWING: Die foto onderaan die berig is grafies en kan sensitiewe lesers ontstel.

ʼn Babadogtertjie van Port Elizabeth word steeds in die waakeenheid van ʼn hospitaal in dié stad behandel nadat sy byna ʼn week gelede ʼn pot met kokende olie op haarself omgetrek het.

Klein Jaydené Croucamp is 14 maande oud en het brandwonde oor 30% van haar lyfie opgedoen. Van hierdie wonde is derdegraadse brandwonde en dit is veral haar bors, rug en gesig wat die ergste seergekry het.

Jackie Croucamp, Jaydené se ma, het aan Maroela Media gesê ondanks haar ernstige beserings vorder Jaydené “baie, baie goed” waar sy in die Dora Nginza-hospitaal behandel word.

“Die susters en dokters is baie tevrede met haar vordering en sê dit gaan in die omstandighede baie goed met haar. Die dokters wat haar behandel, is uitstekend en ons is ongelooflik dankbaar daarvoor,” het Jackie gesê.

Volgens Jackie het die ongeluk Sondag omstreeks 17:00 gebeur terwyl sy aandete voorberei het. Jackie vertel dat sy olie in ʼn braaipan verhit het om aartappels te braai en Jaydené het ʼn paar meter weg van die kas gesit en speel. “Ek het omgedraai om ʼn bak net op die kas agter my neer te sit en in hierdie oomblik het Jaydené verby my geglip en die braaipan op haarself omgekeer.”

Sy vertel Jaydené se velletjie het onmiddellik pienk verkleur waar die olie op haar uitgeloop het. “Jy kon nie onmiddellik brandwonde sien nie, maar die vel het dadelik pienk geword en later kon mens velle sien. Dit was eers die volgende dag wat jy regtig kon sien hoe erg sy gebrand het.”

Jaydené Croucamp voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Jaydené is onmiddellik na die voorval eers na die Livingstone-hospitaal gehaas waar die gesin na die Dora Nginza-hospitaal verwys is omdat dié hospitaal glo beter toegerus is om brandnoodgevalle te hanteer. “Jaydené het heelpad na die hospitaal geskree. Ek het probeer om haar kalm te kry en haar aandag af te trek, maar was self so gespanne en wou haar net by die hospitaal kry,” vertel Croucamp.

By die Dora Nginza-hospitaal het ʼn dokter onmiddellik vir Jaydené begin behandel en sy is op ʼn drup geplaas. Jaydené is Woensdag geopereer om haar te behandel vir infeksie wat sy in een van haar longe opgedoen het en om haar wonde te skrop.

Jackie vertel net sy en Ricardo Bester, Jaydené se pa, word in hierdie stadium by haar in die waakeenheid toegelaat. “Sy word meestal onder verdowing gehou, veral omdat sy baie pyn het, maar sy is soms wakker. Hulle gee ook deurentyd vir haar pynmedikasie. Toe ons vandag [Vrydag] by haar was, het sy regop teen ʼn kussing gesit, geluidjies gemaak en haar beentjies geskop. Sy is egter weer later onder verdowing geplaas,” sê sy.

“Dit is moeilik vir ons om nou te sê of sy al heeltemal buite gevaar is, maar sy vaar goed. Sy moet volgende week weer geopereer word wanneer daar ʼn veloorplanting op haar bors en rug gedoen sal word. Die dokters het verduidelik dit is nie nou moontlik om ʼn veloorplanting in haar gesig te doen nie omdat sy nog groei en haar gesiggie dus self moet herstel.”

Jackie voeg by dat sy en Bester baie dankbaar is vir boodskappe van ondersteuning wat hulle ontvang. “Ons weet daar is soveel mense wat aan ons dogtertjie dink en dit beteken vir ons so baie.”

Jaydené Croucamp nadat sy gebrand het. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Poppie ·

Daardie gesiggie gaan 100% herstel sonder enige oorplantings. Mark my words!

Tersia ·

Ekke hetti woorde nie.. Ek het n kleindogter wat 13 maande oud is en sy is my lewe…… My hart gaan uit na julle want om daai lyfie so te sien is hartverskeurend…. Ons Bid en ekke Vertrou God sal haar genees volkome…. Ekke bly op my kniee saam met julle en vra vi God se beskerming en genesingoor hierdie kleine lyfie… Dit gaan n tyd vat en proses maar God is Groot en Gebed is kragtig.. Sy is pragtig….

Mrs.B ·

So ongelukkie kan so vinnig gebeur. Hierdie klein pienk voetjies is baie vinniger as mammas en pappas. Poplap, ek bid vir jou herstel. Liewe Jesus sal mooi na jou kyk, jy is een van Sy engeltjies. Sterkte vir mamma en pappa ook. Sy is ‘n pragtige kleinding en sal ten volle herstel.

Magda kruger ·

Sterkte poppie en aan mamma /pappa/ouma en oupa ons hou jul in ons gebede

nin ·

hi shame sterkte aan die familie en ook hoop alles werk goed uit

Olga ·

Ek het Met petrol gebrand toe ek 7 jaar oud was. Was 8 maande in die hospitaal en vandag 43 jaar later onthou ek nog steeds die pyn en ongemak wat ek ervaar het. Baie sterkte aan die ouers en Jaydené, die pad na herstel is regtig moeilik. Ons gebede is met julle.

Wiki ·

Ai tog die arme pragtige dogtertjie. Baie baie sterkte aan julle. Ons glo dat sy gou sal herstel sonder enige letsels. Sterkte veral vir die mamma hart.

leser ·

meegevoel, bid tot die Here vir genesing
ek sal julle ook opdra in my gebede by Onse Vader

Olie so gevaarlik ·

…. ek hou niks niks niks van olie nie.
Ek maak DALK 3x n jaar kos met olie…ek verkies om VER weg te bly van enige olie kosse.
Ai, so vreeslik hartseer.
Sterkte en liefde en troos vir die gesinnetjie. Mag jul poplap se gesiggie en lyfie volkome herstel

Leser ·

Shame is baie erg! Sy is so pragtige dogtertjie. Goeie raad vir brandwonde en letsels na wonde beter is, is Annique se mirical tissue oil en resque room om aan te smeer. Verig wonders. Sterkte vir julle hoop sy herstel gou sonder enige komplikasies.

M ·

Gebruik Ganion Organic se Agibad ons tuinman het petrol op gras gegooi en petrol het in sy gesig ontplof Ek het Algibad met n watte aangesit sy vel het vinniger as drie weke herstel Na Bruin waar dit wit was.

Susan ·

Hoe op aarde gebeur so n tragedie?ek se liewer niks ni. Maar nogtansn skok

Asmain ·

Sjoe, die pyn moet onbeskryflik wees. Sterkte, mag sy volkome herstel

Magda ·

Ek bid vir volkome herstel. God is in beheer. Sy gaan dit maak.

Wilma ·

Wili klippe gooi ma ons Moeder altyd gese versigtigheid is die moeder van alle wysheid. Elektriese toue muni van kaste of tafels hang. Sit kookolie baie diep op kas of tafel. Ekt n pittbull gehad en wanneer ek met kookolie wou het ek altyd gese. Dis sjoe sjoe. Dan het my dierbare honde padgegee waar ek besig is.

Lorinda Horn ·

Jy mis die punt heeltemal, Wilma, en jy gooi inderdaad nou klippe. As ‘n mens niks goeds te sê het nie, bly ‘n mens dan maar eerder stil.

Koos ·

Wilma, soos jy kan sien wil die gepeupel nie tereggewys word nie. Dis juis hulle wie se kinders dan goed op hulle omtrek omdat hulle nie veiligheid eerste stel nie.

Ekke ·

Koos… GEPEUPEL????? Is jy verhewe bo ongelukke?
Wilma ek is bevrees jy gooi wel klippe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.