Baba JD: Uitslag van breinskanderings bekend

(Argieffoto: Unsplash)

“Ons dien ʼn almagtige God, ʼn God van wonderwerke,” het ʼn familiewoordvoerder van klein JD Lange op sy Facebook-blad geskryf nadat skanderings gewys het hy het geen breinskade opgedoen nie.

“JD se scans het sopas ingekom. Prys die Here, daar wys geen breinskade. Ons God is goed vir ons en hoor ons gebede,” lui die plasing.

JD se familie het gevrees dat hy breinskade opgedoen het nadat hy by sy dagmoeder in die swembad beland en amper verdrink het. Hy word sedert Maandag in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad behandel en is eers Donderdag uit ʼn geïnduseerde koma gebring.

JD se familie wag intussen geduldig langs sy bed dat hy moet bykom.

“JD het ʼn rustige nag gehad. Sy voetjies en handjies beweeg. Hy lig sy armpies. Hy slaap nog en sukkel om daardie ogies oop te maak. Die medisyne is nog te sterk en [sy] ooglede te swaar,” het die familie Vrydagoggend laat hoor.

“Dankie vir jul gebede. Daar is krag in gebed en ons sien hoe die Here te werk gaan. Ons is so dankbaar. Nou wag ons dat al die medisyne uit is sodat ons daai mooi blou ogies kan sien,” lui die plasing.

Maroela Media het vroeër berig Jessica Lange, ʼn enkelma, het die naweek van die Kaap na Saldanha verhuis en die eenjarige JD Maandag omstreeks 07:30 in Carien Möller, ʼn dagmoeder wat sy al jare lank ken, se sorg gelaat.

Volgens Elana Wilde, Carien se dogter wat saam met haar na die kinders omsien, was JD nie daar toe die ander kinders by die speelkamer bymekaar kom nie. Sy het hom gaan soek en op hom afgekom waar hy onderstebo in die swembad dryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.