Baba kry veloorplanting ná sy met olie brand

Jaydené Croucamp voor die ongeluk. Foto: Verskaf

WAARSKUWING: ‘n Foto in die berig is grafies en kan sensitiewe lesers ontstel.

Klein Jaydené Croucamp wat amper twee weke gelede met kokende olie gebrand het, het vroeër die week ʼn veloorplantingsoperasie ondergaan.

Chantelle Botha, Jaydené se tannie, het gesê die operasie was ʼn sukses. “As dit mooi gesond word sal sy nie weer enige operasies hoef te kry nie. Hulle het vel op haar bobene gevat en op haar rug skouers en bors gesit.”

Volgens Botha het die 14 maande oue Jaydené selfs al gelag en geglimlag. “Haar koors is af en sy beweeg baie. Sy wil steeds nie eet nie, maar drink bietjie. Sy het twee antibiotika-drups en ʼn voedingspypie.”

Jaydené na die veloorplanting. Foto: Verskaf

Botha het gesê Jaydené se verbande sal Maandag weer afgehaal word om te kyk hoe sy vorder ná die veloorplanting. “Haar gesiggie lyk baie, baie mooi. Indien alles goed verloop kan sy hopelik vroeër huis toe kom.”

Jaydené word steeds in die waakeenheid van die Dora Nginza-hospitaal in Port Elizabeth behandel.

Maroela Media het vroeër berig Jaydené het brandwonde oor 30% van haar lyf opgedoen toe sy voorverlede Sondag ʼn braaipan met kokende olie op haarself omgetrek het. Sy het brandwonde aan haar bors, rug en gesig opgedoen, waarvan sommige derdegraadse brandwonde is.

Jaydené is onmiddellik ná die voorval eers na die Livingstone-hospitaal gehaas waar die gesin na die Dora Nginza-hospitaal verwys is omdat dié hospitaal glo beter toegerus is om brandnoodgevalle te hanteer.

Jaydené nadat sy gebrand het. Foto: Verskaf

Jackie Croucamp, Jaydené se ma, het vroeër aan Maroela Media gesê die ongeluk het die Sondag omstreeks 17:00 gebeur terwyl sy aandete voorberei het. Jackie vertel dat sy olie in ʼn braaipan verhit het om aartappels te braai en Jaydené het ʼn paar meter weg van die kas gesit en speel. “Ek het omgedraai om ʼn bak net op die kas agter my neer te sit en in daardie oomblik het Jaydené verby my geglip en die braaipan op haarself omgekeer.”

Jackie het gesê sy en Ricardo Bester, Jaydené se pa, is baie dankbaar is vir boodskappe van ondersteuning wat hulle ontvang. “Ons weet daar is soveel mense wat aan ons dogtertjie dink en dit beteken vir ons so baie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Theresa ·

Dis vreeslik. En die pyn moes vir die klein dogtertjie byna ondraaglik gewees het!
Hoop als verloop vlot en dat sy mooi herstel.

Johan ·

Baie bly om te hoor die operasie was ‘n sukses. Alle sterkte aan klein Jaydene en aan haar ouers en familie. Ons glo alles sal goed afloop.

Susan de Klerk ·

Ek het ook as baba gebrand en my ma blameer haar nogsteeds vandag daarvoor. Mamma dit kon enige een oorgekom het. Moet asb jou nie daarvoor blameer nie. Daardie mensies is van die vinnigste goedjies op aarde. Sterkte mamma en sterkte aan Jaydene. Hoop sy herstel 100% plus en mamma se hart se wonde herstel ook. Gee tyd maar die verwyt sal beter word.

RUTH ·

Mag God oor haar waak en sy Hand van Genade oor die pragtige pop hou
ook die pad met haar ouers saam loop ….In Jesus naam vra ons

Rika ·

Ai pragtige ding. Weet sommer jy gaan mooi herstel. Sterk wees pappa en mamma.

Rolene ·

Dis n wonderwerk van Bo… Sy het al so mooi herstel. God is goed!

Tina du Toit ·

Baie sterkte aan mamma en pappa en mag jul dogtertjie mooi herstel.

Aandagtige leser ·

Hierdie berig is strydig met ‘n vorige berig.

Die berig hierbo sê die kind is dadelik Dr toe geneem. In ‘n vorige berig het MM berig dat die mamma aanvanklik nie besef het die beserings was ernstig nie en dat die kind eers die volgende dag Dr toe geneem is nadat sy nie ophou huil het nie.

Hoop die klein lyfie word sommer gou beter.

Aandagtoge leser ·

Ek het weer die berig gaan lees waarna ek verwys in my kommentaar en ek vra om verskoning ek is toe nie so aandagtog soos ek dink nie en blyk dit dat ek dit verkeerd interpreteer het. Ek vra om verskoning.

MJ ·

Hoe lekker om ‘n berig te lees waar goeie nuus vertel word. Met al die moord en dood wat ons lees.. is die goeie herstel van ‘n kleine baba voorwaar ‘n ligpunt! My dogtertjie se hande het erg gebrand voor sy een jaar oud was… hulle kan werklik blits vinnig seer kry. Sterkte aan die ouers, julle en baba sal hierdeur kom.

Hephzibah ·

Ek bid vanoggend vir Jaydene se volkome wonderbaarlike herstel in die NAAM VAN JESUS CHRISTUS .. glo volgens johannes 14:14
Sterkte vorentoe en begin om die GOD VAN WONDERS te loof en vertel van SY LIEFDE

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.