Baba L: “Dit móés jy gewees het”

Baba L se ma verlaat die hof tydens ‘n vorige verskyning. Foto: @MiaWil1, Twitter

Baba L se ma verlaat die hof tydens ‘n vorige verskyning. Foto: @MiaWil1, Twitter

Die 37-jarige man wat saam met Baba L se ma tereg staan op aanklagte van poging tot moord, kindermishandeling en versuim om mediese sorg aan die kind te verskaf, moes iets aan die tweejarige slagoffer gedoen het wat veroorsaak het dat sy flou geword het, het die hooggeregshof in Pretoria Donderdag aangehoor.

“Sy het flou geword. Iets moes met haar gebeur het. Jy was alleen saam met haar. Dit móés jy gewees het,” het staatsaanklaer Salome Scheepers aan die man gesê.

Hy het ontken dat hy enigsins enigiets aan Baba L gedoen het voordat sy op 30 Desember verlede jaar haar bewussyn verloor en na die hospitaal gehaas is.

Hy het aan die hof gesê hy en ʼn vriendin, wie se naam hy nie wou bekend maak nie, was die enigste persone wat op 30 Desember saam met Baba L was. Die verdagte het gesê hy het op dié dag saam met sy ma en suster gaan inkopies doen, en die dogtertjie in sy vriendin se sorg gelaat.

Scheepers het gesê dat dokters vroeër in die hof getuig het dat Baba L nie per ongeluk beseer is nie en dat iets drasties veroorsaak het dat sy haar bewussyn verloor het. “Ek stel dit aan jou dat jy ʼn verhouding met jou vriendin gehad het en jy wou nie gehad het dat [Baba L se ma] daarvan moet uitvind nie,” het Scheepers gesê.

Sy het gesê die man het Baba L óf alleen by die huis gelos en winkel toe gegaan omdat hy kwaad was vir haar, óf sy vriendin het die kleuter beseer.

Die man het dit ontken en gesê alles was reg met die kleuter na die tyd en niemand het haar seergemaak nie.

Scheepers het genoem Baba L se moontlike verdrinking kon plaasgevind het omdat hy haar alleen in die bad gelos het.

Hy kan nie onthou hoe hy sy ma en suster gekontak het om hom te kom oplaai om Baba L na die hospitaal te neem nie.

Scheepers het gesê hy het ʼn SMS aan sy ma gestuur, in plaas daarvan om haar te bel.

Scheepers het ook navraag gedoen oor blou kolle op Baba L se boude. “Ek slaan haar nooit so hard dat sy sal blou word nie,” het hy geantwoord. Hy het egter gou bygevoeg dat hy eintlik nog nooit die kind geslaan het nie.

“Jy of haar ma het haar geslaan,” het Scheepers gesê. “Die ma het daarvan geweet en niks daaraan gedoen nie, of sy was deel daarvan.” Die man het dit ontken.

Die hof het Woensdag onder andere gehoor dat Baba L by trappe afgeval en haar bewussyn verloor het terwyl sy in die man se sorg was. Hy het aangevoer dat sy op 15 Desember verlede jaar by die trappe by sy woonstel afgeval het, en weer op 27 Desember seergekry het toe sy van ʼn wasmasjien afgeval het.

Die saak duur voort.

Lees vorige berigte oor Baba L op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hana ·

Die skroef word al hoe stywer gedraai, die arme kind kon haarself nie beskerm het nie, nou draai die wiel, ( wat soek ‘n 2 jarige in elk geval op ‘n wasmasjien)? sy moet die res van haar lewe’tjie daarmee saam leef!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.