Baba L: Hof hoor van wrede aanranding

Baba L nadat sy op 30 Desember 2013 in die hospitaal opgeneem is.

Baba L nadat sy op 30 Desember 2013 in die hospitaal opgeneem is.

Die Pretoria-hooggeregshof het Maandag gehoor dat die tweejarige dogtertjie, wat as Baba L bekend staan, nie meer ʼn pols gehad het toe sy in Desember verlede jaar na die hospitaal gehaas is nie.

Die 36-jarige man van Pretoria-Noord wat daarvan beskuldig word dat hy Baba L wou doodmaak deur haar herhaaldelik aan te rand, se suster het dramatiese getuienis gelewer oor haar desperate pogings om die kleuter se lewe te probeer red.

Die man en Baba L se 20-jarige ma het reeds onskuldig gepleit op aanklagte van poging tot moord, kindermishandeling en versuim om mediese hulp aan die kleuter te verleen. Hulle name mag nie genoem word nie om die baba se identiteit te beskerm.

Hulle ontken dat hulle haar aangerand of verwaarloos het, en beweer sy het verskeie kneusplekke, ʼn erge hoofbesering, ʼn gebreekte pelvis en beserings aan haar pankreas en niere opgedoen toe sy in twee afsonderlike voorvalle van trappe en ʼn wasmasjien afgeval het.

Die getuie, wat tydens die voorval ʼn verpleegster in die pediatriese-eenheid van ʼn hospitaal in Centurion was, het getuig dat Baba L gelag en gejil het van plesier toe sy haar op 30 Desember verlede jaar tydens middagete gesien het.

Die vrou en haar ma is die betrokke dag na haar broer se woonstel om hom op te laai om inkopies te gaan doen.

Hy het by die trappe afgekom met Baba L op sy heup. Die kleuter was baie bly om haar tannie te sien en die man het dadelik die kind aan haar oorhandig.

Toe sy haar vashou, het die vrou besef dat Baba L, wat besig was om te leer hoe om die toilet te gebruik, haarself natgemaak het. Sy het aangebied om haar doek te ruil, maar haar broer het gesê hy sal dit doen. Hy het Baba L glo hardhandig gegryp en teruggeneem na die woonstel. Die vrou kon hoor hoe hy met die kleuter raas. Toe hy sonder Baba L terugkeer, het hy aan sy suster gesê die kleuter het haarself vuilgemaak en hy het ʼn bad vol water vir haar ingetap.

Toe sy wou weet of hy die kleuter alleen in die bad gelos het, het hy haar gerusgestel dat die maatskaplike werker wat langs hom bly, by haar was.

Sy en haar ma was tevrede met die omstandighede en het gaan inkopies doen.

Hulle was skaars vyf minute weg toe die man sy ma gebel het om te sê dat Baba L stuiptrekkings kry. Hulle het dadelik teruggejaag na die woonstel toe en die man het met Baba L in sy arms na hulle toe gehardloop.

Hy het die kleuter aan sy suster oorhandig en sy het dadelik begin om haar hartjie te masseer en mond-tot-mond-asemhaling toe te pas, maar Baba L het nie reageer nie.

“Die eerste ding wat ek besef het, is dat sy steeds dieselfde klere aangehad het,” het die vrou getuig. “Sy was nat van kop tot tone. Ek het gevoel vir ʼn pols, maar daar was niks. Ek het vir my ma gesê die kind is blou, nie weens ʼn tekort aan suurstof nie, maar as gevolg van kneusplekke. Sy was ook weens ʼn tekort aan suurstof blou om haar mond en om haar naels.”

Hulle het na ʼn hospitaal gehaas, en sy het by die ongevalle stilgehou en ʼn dokter het dadelik Baba L by haar geneem.

“Ons was baie emosioneel. Ons kon niks anders doen as om te wag nie.”

Sy sê sy wou by haar broer weet wat het gebeur en hoekom Baba L nat was. Hy het geantwoord dat hy teruggekeer het na sy woonstel, die maatskaplike werker bedank het en Baba L by haar oorgeneem het. Hy het glo sleg gevoel omdat hy met Baba L geraas het en het haar toilet toe gestuur. Toe hy omdraai, het sy glo aan die bad se rand vasgeklou, waarna sy haar bewussyn verloor het. “Hy het gesê hy het ʼn glas water oor haar uitgegooi en haar ʼn paar klappe gegee om ʼn reaksie te kry,” het die vrou getuig.

Die staat voer op die klagstaat aan dat die beskuldige Baba L herhaaldelik aangerand het en haar nie na ʼn hospitaal geneem het toe sy op 15 Desember beseer is nie.

Die paartjie het haar vir die eerste keer op 27 Desember na die Steve Biko-hospitaal geneem, maar is daar weg voordat ʼn neurochirurg na ʼn skandering van Baba L se brein kon kyk, en sonder dat sy mediese behandeling ontvang het.

Die saak word deur regter Nico Coetzee aangehoor en duur voort.

Lees vorige berigte oor Baba L hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Elizabeth ·

Ek wil opgooi…Hoekom het hul nie die kind vir aanneming gegee as hul haar nie wou hê nie? Of na ‘n kindershuis gestuur – ENIGIETS sou beter wees as hoe haar kort lewetjie moes wees en dan het sy sekerlik nog gelewe. Nou wil hulle, en ek haal aan, vertel dat sy haar beserings gekry het deurdat sy in “… twee afsonderlike voorvalle van trappe en ʼn wasmasjien afgeval het.”!! Hoe sal ‘n 2-jarige op ‘n WASMASJIEN klim, die ding het mos nie trappies en is glad? My hart is bitter seer, hoevele mense SMAG na ‘n eie kind en gemors soos hierdie kan nie eers die enetjie opgepas het nie! Dis verskriklik – ek het waaragtig nie woorde nie.

En AS ‘n maatskaplike werkster langs hul gebly het het sy nooit gehoor wat aangaan of wou sy “nie betrokke raak” soos meeste mense mos is?? Of het sy gedink ‘n kind huil soms net verskriklik sommer net omdat hy/sy lus is?

Yvette Vermaak ·

Elizabeth die dogtertjie is nie dood nie. Sover ek weet lewe sy nog. Ek stem 100% saam met jou, ek hoop hierdie 2 mense sit lewenslank. As mens nie vir n kind kan sorg of wil sorg nie, gee hom of haar vir iemand wat kan!

Elizabeth ·

Yvette – dankie – dit klink in die artikel asof sy oorlede is? Dalk is het ek nie reg gelees want ek was absoluut BLIND van woede teenoor die “ouers”. In elk geval is ‘n kind van twee heeltemal te klein om heeltemal toiletgewoontes te hê – vra gerus pediaters ens – hul afsluitspiere is nog nie volkome gevorm nie – dit net terloops. Ek dink hierdie “ouers” is monsters, ek is jammer ek het nie woorde om my skok en ongeloof oor sulkes te beskryf nie. Of wag, ek HET woorde maar Maroela sal beslis my kommentaar verwyder!

Leeutjie ·

Dis goed dat hierdie 2 gewetenlose monsters se name nie genoem word nie. Ekself raak buite myself waar daar kindermishandeling gemeld word. Here gee my krag want ek sal myself verloor met sulke gemors! Hoop die kleintjie kom by ‘n veilige plek uit waar sy van haar gebreke herstel en ‘n pragtig mensie word.

Sandra ·

Ek is stom geslaan. Hoe wreed, hoe verskriklik afgryslik. Geen straf sal ooit hierdie daad teenoor
n hulpelose kind kan regverdig nie. Asb steriliseer ten minste die vrou en kastreer die man, want
hulle moet nooit weer in die posisie geplaas word om n hulpelose kind te moor nie.

SNEL ·

Ek stem saam met jou Elizabeth, dis vreeslik om te dink wat die arme kindjie moes deurmaak. Net bly sy lewe. Hoop haar lewe is van hier af net gevul met vreugde, baie liefde en sorg en dat die beserings geen blywende skade sal los nie. Ai, dit ontstel mens om sulke goed te lees, dis nou mense by wie sy moes veilig voel wat dit aan haar gedoen het, hoop hy sit lank agter tralies.

Rikku ·

Ek huil my hart uit oor die klein lyfie ! Hoe kon hulle dit aan so ‘n weerlose kindjie doen ?
Ek hoop sy word verwyder uit die sorg van daardie Monster.

JOHANNES ·

Wie glo die man — glas water oor die kind uitgegooi—-.2 hy was dan besig om badwater in te tap. Sit twee en twee bymekaar en jy weet wat nie man gedoen het.Hy en die kind se ma is erger as monsters.Hulle moet lank sit die arme kind weerloos en hulle moes hom/haar beskerm en hulle het nie.

Theresa ·

Gooi hulle met klippe dood. Hulle verdien nie om te lewe nie en ook nie aan te gaan met hulle lewe nie. Hierdie arme weerlose klein dingetjie het nie gevra om in hierdie vieslike lewe te wees nie. Ek wil nie eers dink waardeur sy is nie. Hoe de hel moes sy haarself verdedig. Hulle is plein regte gemors. Julle verdien niks nie. Net om op die wreedste manier denkbaar uit die samelewing “verwyder” te word.

anet ·

Theresa ek stem saam met jou, hulle moet eintlik aan die geskokte en woedende publiek oorgegee word, dan sal geregtigheid kan geskied. Ek hoop dat hulle gal gewerk sal word in die gevangenis, en dat hulle elke dag sal berou oor wat hulle aan hierdie onskuldige baba gedoen het.

Erika ·

Die monsters moet toegesluit word, en die sleutels sommer baie ver weggegooi word. Hierdie monsters verdien nie die naam ma of pa nie!! Hoekom lees mens nie hoe dit nou gaan met die baba nie? Hoeveel pyn het die arme baba’tjie net nie gehad nie. So onnodig.

heksie ·

Baby L lewe nog is net dat hoof nie tot n einde kom nie wens al twee sit want hulle versien als wat na hulle kant toe kom!

heksie ·

Baby L lewe nog is net dat hoof nie tot n einde kom nie wens al twee sit want hulle versien als wat na hulle kant toe kom!Die ma is buite haar boyfrend nog binne!

V ·

Ek weet nie hoekom daar sulke barbaarse mense in die samelewing is nie.Die gemors is seker psigopaat ook nog.Dis siek verby,dis tyd dat die dood straf vir alle mense wat so mekaar vermoor,kindermishandeling,verkragting ens terug gebring word.Julle 2 verdien nie kinders nie.Barbare!

Brenda Ortega ·

Ons het soveel jare gewag vir ons dogterjie se koms , ek sit en huil oor die kleinding. Kan nie die wreedheid hanteer nie, dan wonder mens of die “mob justice” nie n plek het nie???? Ek en n paar van my werknemers , sal baie baie graag n tydjie alleen met die man wil deurbring , en dan ook n proses of twee op hom en die ma uitvoer , dat hulle NOOIT weer in hulle misrabele lewens die VOORREG sal kan he om kinders te he nie.

Karin ·

Weet dit is wreed verby …maar wat die ergste van alles is daardie mense gaan weer eens soos so baie ander die afgelope tyd hle self mal laat verklaar ..en thats it !
Daardie arme arme kind gaan vir die res van haar lewe met die pyn en ongemak moet saam lewe ..en sal nooit weer normaal wees ..en dit agv van n ma wat haarself laat intimideer het deur n man !
Geen kind van 2 kan op n wasmashien klim vanself en by trappe afval sommer net so nie …as dit inelkgeval met enige reg denkende persoon se kind gebeur sal hy/sy daardie kind dadelik vat vir n ondersoek ..wat hierdie ma nie eers gedoen het nie ! Sy is die naam van n ma nie werd nie en volgens my is daar geen groot genoeg straf vir haar en nog minder vir die ongedierte van n man wat die aan die kind gedoen het !
My hart is stukkend want wat ek nie sal doen vir n ou baba dogtertjie nie en hulle vat die 1 wat aan hle gegee is en neek haar hele lewe op …vir niks !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.