Baba L: Ma se kêrel getuig oor beserings

Baba L se ma verlaat die hof tydens ‘n vorige verskyning. Foto: @MiaWil1, Twitter

Baba L se ma verlaat die hof tydens ‘n vorige verskyning. Foto: @MiaWil1, Twitter

Die man wat saam met Baba L se ma tereg staan op aanklagte van poging tot moord, kindermishandeling en versuim om mediese sorg aan die kind te verskaf, het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria getuig.

Die 37-jarige man het getuig dat die tweejarige dogtertjie, wat slegs as Baba L bekend staan, op 15 Desember verlede jaar van die trappe af geval het by die woonstel waar hy saam met haar ma gewoon het. “Sy was reeds besig om te val toe ek opgekyk het. Sy het begin huil toe sy geval het en dit is toe dat ek opgekyk het.”

Hy het verduidelik dat hy Baba L uit die motor gehaal het en sy het teen die trappe begin opklim terwyl hy kruideniersware uit die kattebak gehaal het. “Sy was amper bo. Ek het alles gelos en gehardloop om haar te probeer keer en het self in die proses geval.” Volgens die man het hy sy linkerhand onder haar ingestoot om haar val te probeer keer.

Die man het getuig dat Baba L erg gehuil en dat hy haar styf vasgehou het, haar gesoen en getroos het voor hy haar in die woonstel in gevat het. Hy het Baba L se ma geroep en aan haar gesê wat gebeur het voor hy glo gekyk het of sy beseer is.

Volgens die man was daar ʼn skaafplek op Baba L se lae rug. Dit was glo die enigste beserings wat hy kon sien en volgens hom was daar nêrens bloed nie. Die skaafplek was glo die volgende dag blou en daar was glo ook bloukolle op haar knieg en elmboog.

Die man het ook verduidelik hoe Baba L op 27 Desember van ʼn wasmasjien afgeval het, terwyl hy besig was om vir haar onderklere te soek. “Sy het opgestaan. Dit was ʼn harde val, ek het gehoor toe haar kop op die grond klap. Ek het gevra of alles reg is, en sy het ‘ja’ gesê.” Hy het glo hierna vir haar gevra of sy koeldrank soek voor hy kombuis toe is om vir haar iets in te gooi om te drink.

“Toe ek omdraai om vir haar die koeldrank te gee, het sy vooroor geval. Sy het geval sonder om te keer. Sy was bewusteloos. Ek was paniekbevange en het haar gegryp, ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek het haar van die grond af gegryp, en haar naam uitgeskree. Ek het regtig nie geweet wat om te doen nie.”

Volgens die man het hy Baba L se ma, wat reeds op pad was huis toe, geskakel waarna hulle haar hospitaal toe geneem het. Volgens die man het die dokter gesê dis nie ernstig nie en dat sy ligte harsingskudding opgedoen het.
ʼn Mediese kenner het Dinsdag getuig dat Baba L nie per ongeluk beseer is nie maar dat sy die slagoffer van kindermishandeling was. Die saak duur voort.

Lees vorige berigte oor Baba L op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sollie ·

“Dit was ‘n harde val, ek het gehoor toe haar kop op die grond klap” En die kind het nie eers gehuil nie, maar “gesê” sy is okay?? ‘n Tweejarige wat so hard val en sê sy is OKAY?? Dis nou ‘n spul bollie as ek al ooit bollie gehoor het. Dis nou na sy kammig van die wasmasjien afgeval het. Elke keer ander stories, waar is die wat sy in die bad was omdat sy haar doek vuil gemaak het en basies verdrink het – lyk my hulle het honderde verskillende stories en praat hulself erg in ‘n hoek in.

hannetjie kleingeld ·

YWeereens lieg hy die mamma was by die werk en hy het haar in n bad water gesit koue water en toe saam sy suster gaan inkopies doen toe hy terug kom van die inkopies af is dit toe hy haar uit die koue bad haal en sy blou van die koue was die gemors het toe hy sien sy kom nie by nie sy suster gebel en gese hulle moet vinnig kom dis toe dat sy suster omdraai en terug draai en daar aankom en vir baba l gestabliseer het en met haar hospitaal toe gejaag het die ding is n monster en bel toe vir baba L se mamma by die werk en lieg vir haar en se baba L het van die wasmasjien af geval

Pietsnot ·

Hannetjie
Dis absoluut tragies. Ek lees graag wat jy sê (duidelik het jy binnekennis), maar as jy leestekens sou gebruik, sou dit soveel meer sinvol gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.