Baba L se beserings was nie ‘per ongeluk’ nie

Baba L se ma verlaat die hof tydens ‘n vorige verskyning. Foto: @MiaWil1, Twitter

Baba L se ma verlaat die hof tydens ‘n vorige verskyning. Foto: @MiaWil1, Twitter

WAARSKUWING: Die besonderhede in hierdie berig is, net soos met enige mishandelingsaak, ontstellend en sensitiewe lesers word ontmoedig om die berig te lees.

ʼn Tweejarige dogtertjie wat slegs as Baba L bekend staan, se beserings is nie per ongeluk opgedoen nie, sy was die slagoffer van mishandeling, het ʼn mediese kenner Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof getuig.

Dr. Lorraine Du Toit-Prinsloo, ʼn forensiese patoloog, het getuig in die hofsaak van ʼn 20-jarige vrou van Pretoria-Noord en haar 36-jarige kêrel wat ontken dat hulle die vrou se dogtertjie probeer vermoor het, haar mishandel het en versuim het om vir haar mediese behandeling te bied.

Die paartjie voer aan Baba L het van ʼn stel trappe en ʼn wasmasjien afgeval. Sy was reeds in ʼn koma toe sy op 30 Desember 2013 na die Akasia-hospitaal gehaas is. Sy het bloeding op die brein, ʼn fraktuur in haar heup, bloed in haar maag, ʼn gekneusde nier, en ʼn ernstige besering aan haar pankreas met kneusplekke oral oor haar liggaam gehad.

ʼn Patoloog het vroeër getuig Baba L is in ʼn vegetatiewe toestand weens erge breinskade.

Prinsloo het gesê kneusplekke op die vel is die eerste teken van kindermishandeling. Drie dokters het getuig dat Baba L kneusplekke van verskillende kleure oor haar lyfie gehad het. Prinsloo het bevestig dit toon dat die kneusplekke nie op dieselfde tyd opgedoen is nie.

Die kneusplekke wat Baba L op haar boudjies gehad het, is gewoonlik ʼn teken van klappe met die hand of houe met ʼn gordel en ʼn definitiewe teken van mishandeling.

Die klein rooi kneusplekkies op haar bors was van vingerpunte wat druk op die bors toegepas het en ook ʼn duidelike teken van mishandeling, het sy bygevoeg.

Volgens die beskuldigde het Baba L op 15 Desember van die trappe afgeval, maar Prinsloo het gesê dit sou tot kunsmatige beserings gelei het en slegs een deel van die liggaam sou seergekry het, gewoonlik die kop en nek.

“Ek is van mening dat die verduideliking dat sy by trappe afgeval het, nie ʼn geloofwaardige verduideliking vir die kneusplekke aan die kind is nie,” het Prinsloo getuig. “Ek is ook van mening dat kneusplekke wat op 15 Desember opgedoen is toe sy na bewering by die trappe afgeval het, sou nie meer teen 30 Desember sigbaar gewees het nie.”

Prinsloo sê indien sy van ʼn wasmasjien afgeval het, sou sy verwag het om ʼn kneusplek aan haar agterkop te sien, maar bloeding na die voorkant van haar brein. “Dit is ook kommerwekkend om ʼn kneusplek agter die kind se oor op te merk. Mens verwag dit nie van ʼn val nie, want dit is ʼn beskermde deel.”

Sy het gesê in die 10 jaar wat sy nadoodse ondersoeke op kinders doen, het sy slegs pelvisfrakture gesien ná ʼn val van ʼn hoë hoogte soos ʼn gebou of in ʼn motorongeluk.

Sy het ook bevestig die pankreas is ʼn beskermde orgaan in die maag en die besering wat Baba L opgedoen het, is baie seldsaam. “In my opinie is dié besering opgedoen deur ʼn direkte hou met ʼn voorwerp soos ʼn besemstok wat haar maag beseer het.”

Prinsloo het verduidelik die vloeistof in Baba L se longe is moontlik ʼn aanduiding dat sy byna verdrink het terwyl die bloed in haar maag toon dat sy bykans 20% van die bloeding in haar lyfie verloor het.

Die saak duur voort.

Lees vorige berigte oor Baba L op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nadine ·

Hierdie geval is seker die mees ontstellende kindermishandeling wat ek al ooit van gehoor het. Lewenslank tronkstraf is nie goed genoeg nie.

ekke ·

Sluit hulle toe en maak seker hulle bly daar tot die hel hulle kom haal!! Toon geen genade nie! Hulle verdien geen.

rienie ·

Ek pleit regtig by sulke kinder mishandelaars, asb daar is soveel kinderlose ouers, asook ouers wat hul kinders verloor het, gee liewers so engeltjie aan sulke ouers.

juliana ·

Mag daar geen genade wees vir hule nie. Hoe kan n mens so klein mensie seer maak wat se genot het hule daar uit gekry. Ons bid vir j Baba L

Daleen ·

Daar is hoeveel getroude paartjies wat sukkel om swanger te raak, wat so graag daai kleine lyfie wil voel skop en in hulle arms wil hou en alles en meer vir hulle gee, en dan lees ‘n mens sulke berig!!!! Sy is nie ‘n ma se dinges werd nie, mens kan haar nie eers ‘n ma noem nie!!! Maak my sommer siek!!!!

Sollie ·

Ek stem – hulle het geen genade aan ‘n klein weerlose kindjie betoon, so ons wil niks van kammige versagtende omstandighede hoor nie. Sluit hulle toe. Vir altyd, hulle is ‘n gevaar vir enige kind in die samelewing – laat dit jul oorweging wees. Hoeveel pyn moes die arme kindjie nie oor tyd verduur tot die laaste wat sy gegaan het, ek kan my nie indink dat sy so ‘n lewe moes ly. Ek het eenkeer sleg geval as grootmens en my enkel verstuit en ek onthou hoe kon ek nie lekker slaap en hoe pynlik dit was, sy moes dit ELKE dag beleef! Nou wonder mens oor sy ander kinders….

Erika ·

Weer eens vra ek hoekom bly die media nie tot die einde van die hofsaak nie. Julle mense kry net die helfde van die inligting. Indien hulle gebly het sou julle gehoor en gesien het van die foto’s wat uitgedeel was, tot die dokter was verbaas! Soek die fout by die wat regtig skuldig is….

Hana ·

Sies, hoop hulle word ook so mishandel, sy is die naam “ma” nie werd nie, daar is geen woord vir daai kerel nie, die staat moet ‘n wet instel dat sulke gevoellose, se goedere uit gehaal moet word, dink aan jou baba L, weet Jesus is elke tree by jou, sy arms omvou jou met sy liefde, niemand kan jou meer seer maak nie!

Marietjie ·

Erika blykbaar is jy op hoogte met die hofsaak – gee ons dan die “ware” feite soos jy dit interpreteer?

Sollie ·

Marietjie, Erika sien net wat sy WIL sien. Sy het bv lyk my nooit kneusplekke aan die kind gesien maar die bediende het wel.Wat sê dit vir mens? En elke keer word getuig hul het nie die kind vir behadeling geneem en as hul haar gevat het het hulle “verdwyn” voor breinskanderings gedoen is. Die feit dat ‘n kenner ook getuig beserings soos y het kon NET opgedoen word na val van ‘n baie hoë gebou of in ‘n motorongeluk spreek duidelik. Ook die feit dat daar heelwat ou kneusplekke is. Medici is nie TOE nie Erika – jy wil nou beweer jy weet beter as ‘n kenner wat jarelank studeer het en ook jarelank met soortgelyke gevalle gewerk het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.