Baba Marné vier eerste verjaardag

Marco en Niké Muller saam met hulle dogtertjie, Marné, op haar eerste verjaardag. (Foto: Verskaf)

“Sy is net die soetste en vriendelikste babatjie. Eintlik moet ek sê dogtertjie, want sy het al soveel gegroei en ontwikkel. ʼn Mens kan net vir die Here dankie sê.”

Só sê Marco Muller, die pa van Marné Muller, wat harte aangegryp het toe sy 223 dae ná haar geboorte in die neonatale waakeenheid van die Mediclinic Kloof-hospitaal in Pretoria moes deurbring.

Marné het die afgelope naweek haar eerste verjaardag tuis gevier, omring deur nabye familielede.

“Aan die begin, toe ons net huis toe is met haar, het Marné stadig ontwikkel, maar hier van sowat tien maande af is sy ʼn ander kind. Sy klap hande en wil regop staan, en dit terwyl sy eintlik nou eers nege maande oud is.”

Hoewel sy eers op 22 Mei verlede jaar die wêreld moes begroet, het haar ouers se ginekoloog hulle in Februarie meegedeel dat klein Marné se lewe in gevaar is.

Marné is op 3 Maart verlede jaar op 28 weke deur ʼn keisersnee gebore en het maar 630 g geweeg. Sy het gevolglik 223 dae in die neonatale eenheid van die hospitaal deurgebring.

Marné se ouers, Marco (27) en Niké (25), moes egter die moeilike besluit neem om chirurgies vir haar ʼn voedingsbuis in haar maag te laat sit sodat sy kon huis toe gaan.

Die besluit is geneem nadat Marné ʼn teensinnigheid vir melk en kos begin toon het en gesukkel het om voldoende voeding in te neem. Dit sou weer tot gevolg hê dat sy nóg langer in die hospitaal moes bly.

Marné vier haar eerste verjaardag. (Foto: Verskaf)

Die Mullers het elke dag sowat 150 km tussen Springs en Pretoria afgelê om by Marné te wees omdat albei van hulle voltyds in Springs werksaam is.

Die buis is intussen verwyder aangesien Marné normaal begin eet en drink het. “Dit is nou ʼn storie met die wond wat nie wil gesond word nie.”

Hoewel dit deurgaans ʼn opdraande pad is, gee Marco en Niké, met die genade van Bo, nooit moed op nie, sê hy.

“Die Here het dit vir ons moontlik gemaak om met ʼn gesin te begin. Dit was ons grootste begeerte. Marné is ongelooflik spesiaal en ons sal altyd, met die Here aan ons kant, vir haar baklei.”

Sy drink nog ʼn spesiale melk om haar te help om gewig op te tel, aangesien sy nou op 4,8 kg steeds, volgens die dieetkundige, ondergewig is.

“Sy kan weens die wond op haar magie nog nie heeltemal omrol nie, maar ons gaan daaraan werk sodra die wond volkome gesond is.”

Klein Marné is sedert sy in Oktober verlede jaar uit die hospitaal ontslaan is, weer vyf keer opgeneem: een keer weens Covid, en vier keer weens die wond in haar maag wat nie gesond word nie.

“Hulle het haar twee keer geopereer om die wond skoon te maak. Sy moet ook elke keer op ʼn drup gesit word sodat sy nie dehidreer nie.”

Marné op haar verjaarsdag met ‘n pop wat haar ouers laat maak het wat presies die lengte en gewig is wat Marné was by geboorte. (Foto: Verskaf)

Ondanks talle terugslae is Marné ʼn gelukkige, vrolike baba wat net huil wanneer sy honger is en wanneer sy seer het, sê Marco.

“Sy toon kognitief soveel verbetering die laaste paar maande. Sy raak nou ʼn regte klein mensie. Sy glimlag en sit alleen en klap handjies,” koer hy oor sy piepklein dogtertjie, wat nou 62 cm lank is.

“Die pediater is baie tevrede met haar vordering en elke keer sê hy net hy kan nie glo sy is waar sy vandag is nie. Daar was ʼn tyd wat ons nie geweet het of sy dit gaan maak nie.”

Klein Marné se doop in Desember verlede jaar was ook vir hulle as gesin ʼn groot hoogtepunt. “Nadat sy ontslaan is, wou ons nie te lank wag om haar te laat doop nie. Dit was ʼn baie geseënde dag waarop ons ons kind aan God kon opdra.”

Vir haar eerste verjaardag wou hulle haar nie aan te veel blootstel nie, en daarom het hulle tuis ʼn klein partytjie saam met familie gehou.

“Sy het ʼn cake smash gedoen en was mal daaroor. Sy het ook vir die eerste keer ʼn suigstokkie geëet en dit baie geniet. Haar nuwe speelgoed het haar ook opgewonde gemaak. Dit was ʼn wonderlike dag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hennie ·

Pragtige klein meisiekind. Sterkte vir julle weet sommer die HERE sal julle deurdra en dat sy n oulike meisiekind gaan wees. Sy is nou al te pragtig.

Skappie ·

Baie geluk aan julle dogtertjie se eerste verjaarsdag. My dogter is 29 jaar terug op 29 weke gebore. Sy het op die 29 April gekom, maar moes eers op die 5 Junie gebore gewees het. Sy was 1.5 Kg. Sterkte vir julle voorentoe, en geniet haar. Dit is ‘n groot geskenkie van onse Liewe Jesus af, vir ‘n mamma en pappa.

Wynand ·

Dis awsome so groot geskenk van God sy moet n Lekker verjaarsdag he

Casper ·

Ek glo natuurlik dat GOD die groot geneesheer is en dokters net instrumente is in sy hande,hier is weereens ‘n bewys.Hy het hierdie babatjie deur haar moeilike tyd gedra.Julle as ouers se geloof is getoets en julle het die toets geslaag.Geniet julle kleinding.

Ans ·

Mooiste engelpop. Mag Jesus haar bederf met die mooiste en beste uit Sy hand

Yolandie ·

Sjoe maar jy is ‘n pragtige poppie en ‘n regte vegtertjie. Geskenkie van Bo – maar alle baba’s is. Geniet haar!

Nettie ·

Sjoe, dis SO lekker om hierdie opvolg te lees!! Dankie MM, ons waardeer dit. En dankie aan die Mamma en Pappa dat julle jul pragtige poplap en getuienis met ons deel. Dis duidelik dat jul geloof jul en jul dogtertjie gedra het. Mag God aanhou om elke dag met haar te werk en haar te laat onwikkel en groei en beskerm. Sy is so pragtig, met die mooiste ogies.

Ek het ook ‘n wond gehad wat nie wou genees nie, agv oplosbare steke wat nie wou oplos nie oor ‘n allergiese reaksie. Ook op my maag. Uit moedeloosheid het die ginekoloog na maande aanbeveel dat ek die beste moontlike heuning koop, dit opsit en met pleisters toeplak. Binne dae was daar groot verbetering en minder as 2 weke later was dit gesond. Miskien kan julle dit aan haar dokter noem en daaroor vra? Sterkte daarmee, dis nie lekker om te sien as mens se babatjie seer het nie.

Gaitsigubib ·

Wat n prent van n kind! Mens is so dankbaar vir julle vir die vordering wat sy gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.