Baba, meisie dood tydens skietery

(Argieffoto)

Drie mense, onder wie ʼn baba en ʼn meisie van skoolgaande ouderdom, is dood nadat ʼn groep gewapende mans losgebrand het op ʼn taxi in KwaZulu-Natal gisteraand.

Sewe mense is ook beseer tydens die voorval, wat op die MR423 in Craiglea plaasgevind het.

“Paramedici van ER24 is Woensdag 20:15 na die toneel ontbied. Met hul aankoms op die toneel om 20:30 het hulle die taxi sien staan langs die pad, vol koeëlgate,” sê Russel Meiring, woordvoerder van ER24. “Verskeie mense was oor die toneel heen versprei en twee liggame is binne die taxi aangetref.”

Plaaslike owerhede was toe reeds op die toneel.

Volgens Meiring het paramedici die pasiënte ondersoek en gevind dat een jong man, ʼn meisie van skoolgaande ouderdom en ʼn baba noodlottige skietwonde opgedoen het. “Niks kon vir hulle gedoen word nie en hulle is op die toneel dood verklaar,” sê Meiring.

Sewe ander pasiënte is op die toneel versorg. Dié mense het almal skietwonde opgedoen. Sommige is matig beseer terwyl ander ernstige beserings opgedoen het.

“Die pasiënte is behandel en toe na provinsiale hospitale vervoer vir verdere behandeling.”

Meiring sê die presiese omstandighede rakende die skietvoorval is nog onbekend, maar die polisie ondersoek dit tans.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.