Baba met Covid-19: ‘Genade dat sy steeds veg’

Milané is op 15 Augustus in die hospitaal vir Covid-19 opgeneem (Foto: Verskaf)

Die ouers van die ses weke oue Milané Grobler, wat meer as twee weke gelede in ʼn hospitaal vir Covid-19 opgeneem is, sê dit is genade dat sy steeds teen die virus veg. Dit volg nadat dokters klein Milané se ouers aanvanklik op die ergste voorberei het en gesê het dat sy dalk nie eens die eerste 24 uur ná sy opgeneem is, sal oorleef nie.

Milané is tans in die Life Midmed-hospitaal op Middelburg in Mpumalanga. Sy is verlede week in die hospitaal se intensiewesorgeenheid opgeneem nadat daar aanvanklik nie plek vir haar beskikbaar was nie.

Die babadogtertjie was verlede week aan ʼn ventilator gekoppel, maar dit is kort voor die naweek verwyder en sy is toe aan ʼn ossillator gekoppel.

Volgens Milané se ma, Adela Malan, het haar suurstofvlakke, bloedsirkulasie en bloeddruk die afgelope naweek heelwat verbeter. Danksy die suurstof wat sy ontvang, bly haar suurstofvlakke nou bo 90%.

Dit volg nadat verpleegpersoneel verlede week gespook het om Milané se suurstofvlakke te verhoog. Dit was deurlopend in die omgewing van 70% en 80% en het glad nie die 90%-merk bereik nie.

Haar hartklop was verlede Maandag boonop net bo 40 slae per minuut en dokters was bekommerd dat haar toestand verder kan versleg.

Milané veg egter voort terwyl haar ma en pa, Christo Grobler, onophoudelik vir haar genesing bid.

“Sy glimlag al en volgens die susters het sy ʼn baie oulike glimlag,” vertel Adela.

Maroela Media het vroeër berig Milané het op 14 Augustus begin siek word. Sy het langer geslaap as haar gewone drie uur en het nie soos gewoonlik haar doek vuilgemaak nie.

Haar gesig het die volgende dag potblou geword en sy is per ambulans na die hospitaal geneem. Daar het hulle klein Milané vir Covid-19 getoets en ook ander bloedtoetse gedoen. Sy het positief vir die virus getoets.

Dokters sukkel om die regte behandeling op Milané toe te pas, aangesien daar nog nie genoeg inligting oor die behandeling van Covid-19 onder sulke jong babas is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Swerwer ·

Dankie aan ons Hemelse Vader wat ons gebede verhoor. Sterkte aan die klein lyfie se ouers.

Tanya ·

Sterkte kleine mensie, jy moet vasbyt sodat jy nog ‘n hele lewe lank saam met Mamma en Pappa kan wees. Baie sterkte aan Mamma en Pappa ook, positief bly!

Prikkie ·

Kom ons bid net saam met die ouers dat God haar lewe sal spaar en los die res in die medici se hande en bid sommer dat God hulle ook die nodige wysheid en insig sal gee.

VaalDonkie ·

Ek moes ‘n slag in die NICU vir die dokter vertel dat my kind braak omdat die voedingspypie uit haar maag getrek het toe ons haar optel want hulle wou alles doen behalwe eers die basiese goed bevestig. So ek vertrou dokters nie altyd 100% nie. Maar ja. Nie dat dit vreeslik saakmaak wat ek hier dink nie. Ek hoop net die kind maak dit.

Sê maar net ·

Ag mense, kom ons share dit wyd op sosiale media en vra dat mense vir haar bid? God doen wonderwerke. Kan jy jou net indink watse getuienis dit vir Hom sal wees? So klein, haar immunstelsel is nog nie volledig ontwikkel nie. Net dat sy nog leef, is reeds ‘n wonderwerk. Kom ons bid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.