Baba met Covid-19 veg vir haar lewe

Baba Milané is al ‘n week lank in die hospitaal met Covid-19 (Foto: Verskaf)

ʼn Paartjie van Middelburg, Mpumalanga, sukkel om moed te hou, nadat hul vyf week oue babadogtertjie positief vir Covid-19 getoets het. Sy veg tans om haar lewe in die hospitaal. Dokters het Maandag reeds Milané Grobler se ouers op die ergste voorberei en gesê sy kan moontlik nie die volgende 24 uur oorleef nie.

Dokters sukkel boonop om die regte behandeling op Milané toe te pas, omdat daar nog nie genoeg inligting oor die behandeling van Covid-19 onder sulke jong babas is nie.

Milané se ouers Adela Malan en Christo Grobler, sê vriende, familie en selfs wildvreemdelinge bid onverpoos vir Milané se genesing. “Ons hou meer as ooit vas aan ons geloof.”

Milané het verlede Maandag positief vir Covid-19 getoets.

“Ons het die Saterdagaand agtergekom daar is iets fout met Milané. Sy het langer geslaap as haar normale drie ure roetine. Ons het eers gedink dit is omdat sy bietjie ouer word en in ʼn nuwe roetine ingaan. Ons het Sondagoggend begin bekommerd raak toe sy nie soos normaal haar doek vuilmaak nie en haar na die Dischem in die Middelburg-winkelsentrum se kliniek geneem sodat die suster haar kan ondersoek,” vertel Malan.

“Toe ons in die Dischem instap, was my dogtertjie se gesiggie potblou. Ons het ER24 ontbied en Milané is na die Life Midmed-hospitaal in die dorp geneem. Daar het hulle haar vir Covid-19 getoets en ook ander bloedtoetse gedoen. Sy het positief vir die virus getoets.

“Die hospitaal en sy intensiewe sorgeenheid (ICU) was vol, maar die hospitaal het die moeite gedoen om vir ons ʼn spesiale kamer vir Milané beskikbaar te stel.”

Milané is nou al vir meer as ʼn week lank in die hospitaal en volgens Malan gaan dit party dae beter as ander. Haar toestand het gister (Maandag) egter weer verswak.

“Milané se gesig het weer blou geword en sy wou glad nie melk drink nie. Die susters het haar suurstof vermeerder. Haar suurstofvlakke was heeltyd in die 70% en 80% en het glad nie die 90%-merk bereik nie.”

Volgens Malan was Milané se hartklop teen Maandagmiddag net bo 40 slae per minuut. Haar suurstofvlakke het ook laag gebly.

“Die susters moes weereens haar suurstofvlakke vermeerder. Die dokters het vir haar medikasie en asmapompie gegee om haar longe oop te maak. Die dokter het ook X-strale geneem en gesien die virus het in Milané se bloedselle versprei.”

Hospitale vol

Adela Malan, Christo Grobler en baba Milané Grobler (Foto: Verskaf)

Malan sê die dokter het ander hospitale gebel om vir Milané plek te kry in ʼn pediatriese ICU omdat die Midmed-hospitaal nie oor só ʼn eenheid beskik nie en omdat hul gewone ICU’s vol is.

“Nie een van die hospitale wat gekontak is, het plek gehad of het ʼn pediater beskikbaar gehad nie.

“Die dokter het gevra dat daar vir Milané in Midmed se ICU plek gemaak moet word om haar aan die lewe te hou. Daar het gistermiddag plek vir haar oopgegaan en sy is eindelik in die ICU opgeneem.

Malan sê die dokter doen als in sy vermoë om die regte behandeling toe te pas. Hy het egter gister vir hulle gesê om vir die ergste gereed te maak. “Sy kan dalk oor 24 uur nie meer leef nie. Ons het van gisteraand af mense van wyd en syd gekry wat deur die aand vir Milané gebid het.”

Volgens Malan was Milané sedert geboorte ʼn baie gesonde baba. Sy sê dit was ʼn skok dat Covid-19 haar so erg platgetrek het, omdat die virus nie algemeen onder babas van so ʼn jong ouderdom is nie.

“Ons staan in gebed en geloof, want dié is in God se hande en nie ons s’n nie. Emosioneel weet ’n mens nie hoe om dit te hanteer nie. Ons kry oomblikke wat dinge teveel raak en ons moed wil verloor, maar dan hou God se krag ons aan die gang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Zelda ·

Ag nee! Dis so hartseer om dit te lees. Baie sterkte aan die ouers en familie van klein Milané!

annie ·

Regtig waar, pediaters wat nie beskikbaar is nie? Covid is tans skaars onder jong kinders. Ander dokters werk hulle dood…

VaalDonkie ·

Dis ‘n goeie vraag. Wat het van die pediaters geword?

Johanna ·

Agge nee, hoe aaklig. Ons kan net saamstaan in gebed vir n wonderwerk!!

BOKKIEBEK ·

Here Jesus, Lam van God, ek pleit by U om hierdie klein mensie gesond te maak., Ek bid dat sy sal grootword, en sal getuig van U goedheid, genade en liefde. In Jesus naam Alleen. Amen

Lindi ·

Ai kleinding, ons kan net bid dat jy deurtrek. Waar sou die baba die virus gekry het?

Moeilikheid ·

liewe Here wees asb saam die dogterjie en dat sy gesond sal word AMEN

Misky ·

So kleine ou babatjie….. Sterkte aan die ouers en ons almal bid saam vir spoedige beterskap.

Elmarie ·

Ag Liewe Here, U is ons Groot Geneesheer. Hou hierdie kind en haar ouers in U hand, genees haar Here en gebruik haar as ‘n getuienis van U grootheid. Amen

Irene ·

N 5weke oue baba met daai lae saturasie moes al lankal geventileer gewees het! En as die hospitaal nie n Peads ICU het nie, moes hulle haar al lank al oorgeplaas het na n hospitaal met n PICU…. ek kry die ouers jammer en bid vir julle baba.

Louise ·

Ai dis so hartseer om te hoor, sterkte en ek bid en glo dat ons Hemelse Vader haar sal genees!

Esme ·

My hart gaan uit na die klein mensie toe. Ons dra haar aan ons Hemelse Vader op en weet dat net Hy, haar ten volle kan genees.
Baie, baie sterkte en ek het gelees dat binne-aarse Vitamine C ‘n groot verskil in lewens gemaak het, maar op haar ouderdom.
Ons dra haar aan God op en smeek om volkome genesing.

Toetsie ·

Dit is ongelooflik hartseer en n mens wens dit vir niemand toe nie! Maar is dit nie opvallend en hartseer, oor hoe vinnig mense na God roep in hul benoudheid, maar verder steur hul hul nie aan Sy gebooie nie? Nie getroud nie en n buite egtelike baba… Nou kan hul vinnig “roep”, maar verder is hul ongehoorsaam aan God… Ja stenig my maar, soos wat meeste nou gaan doen!

Prikkie ·

Toetsie, met die liefde van ons Vader in my hart, wil ek vir jou sê dat die oordeel jou nie toekom nie.

Bid liewer vir die baba en haar ouers. God werk op maniere wat ek en jy nie altyd verstaan nie.

Kom ons wees net daar vir mekaar en tree op soos wat Jesus sou opgetree het.

piet ·

Is daar nie kinderhospitale in die Noorde nie? Kry haar by Rooikruis-Kinderhospitaal in die Kaap.

Sandra ·

Dis moeilik vir grootmense om die Covid virus te he, wat nog te se van so ‘n klein ou dingetjie. Ek stuur ‘n gebedjie op vir haar spoedige herstel. Voorspoed aan haar ouers deur hierdie moeilike tyd.

Swerwer ·

Sterkte aan die ouers, aan die dierbare klein lyfie, hoop jy herstel ten volle.

Magda G ·

Sterkte aan die ouers. Julle is in ons gebede. Die Liewe Heer sal haar beskerm

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.