Baba met jammer sê-briefie gelos

Beamptes van Reaction Unit South Africa by die baba wat Maandagoggend verlate gevind is. (Foto: Facebook / Reaction Unit South Africa)

’n Babadogtertjie van ongeveer drie maande oud is Maandagoggend verlate tussen bosse in Dawncrest, KwaZulu-Natal, gevind, tesame met ’n jammer sê‑briefie wat vermoedelik deur die kind se ma geskryf is.

Die briefie, wat in Engels geskryf is, verduidelik dat die skrywer twee keer maatskaplike werkers om hulp genader het, maar deur die stelsel in die steek gelaat is.

“Hallo. Jy mag dalk wonder waarom ek my baba gelos het. Moenie wonder nie, help haar net, of as jy kan, kontak die owerhede. Moet my nie oordeel nie. Ek het twee keer met maatskaplike werkers gepraat, maar hulle stel uit om te help. Ek weet dit lyk sleg, maar ek het geen ander keuse nie. Die stelsel is broos en ons kan nie eers meer veilig aborteer nie. Hospitale het streng reëls,” lui dié brief.

’n Sak met doeke, ’n bottel melk en ’n fopspeen het saam met die briefie langs die kind gelê.

Beamptes van Reaction Unit South Africa is ongeveer 10:00 na die toneel in Oaklandsweg ontbied.

Die briefie wat langs die baba gevind is. (Foto: Facebook / Reaction Unit South Africa)

“’n Man het die baba aan die voet van ’n wal langs ’n stroompie naby ’n sokkerbaan ontdek terwyl hy mango’s gepluk het. Die temperatuur was in dié stadium sowat 28 °C. Die man het sy werkgewer gekontak en Rusa is na die toneel ontbied.”

Luidens Rusa se verklaring is ʼn vroulike veiligheidsbeampte sowel as paramedici na die toneel ontbied. Hulle het die kind se deurweekte doek omgeruil en ʼn bottel melk aan haar gegee. Mediese personeel het die kind ondersoek en glo bevind dat sy gesond is.

Rusa sê ʼn strafregtelike saak van kinderverlating sal by die polisie ingedien word. Die maatskappy doen intussen ʼn beroep op die publiek om met enige inligting vorendag te kom wat kan help om die kind se ma op te spoor. Rusa kan by 086 1234 333 gekontak word.

Lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het Maandagmiddag aan Maroela Media gesê dat die Verulam-polisiestasie nog geen klagte ontvang het nie. Sy het nie verdere inligting oor die voorval verskaf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Blikkantien ·

Ons verstaan nie ander mense se omstandighede en nood nie.

Antjiese5c ·

Ek stem saam daar is n baby safe in Glenwood die mamma kon n 20 minute trip gemaak het eerder as om haar kind in n bos in 28 grade te los. wat as niemand daai kind betyds gekry het nie. daars is ALTYD n beter opsie , los die kind by n hospitaal, n brandweer, n polisie stasie as jy moet. nie n bos nie

madels ·

Ek dink ALMAL verstaan maar NIEMAND verstaan dat sy nie haar kind na n veilige plek geneem het nie. Kon selfs by n kerk gaan aanklop het. Dis net te maklik om die maklike uitweg te kies. Daar is baie naby safes…

Janine ·

anc FAAL almal! Hoop die lyfie kry ‘n veilige huis. Jammer, mamma, dat jy tot so punt gedryf is! Dis hartverskeurend!

Miena ·

Ja ek kan die ma se briefie glo. Al die middele in SA wat veronderstel is om n mens te help het al so agteruit gegaan dat hulle nie (wil) help nie en stuur mens weg met leë woorde van “ons sal kyk”. Dit is jammer dat die ma nie n meer positiewe uitweg gehad het nie. Ook weer aan die ander kant – sy sal maar aan die nodige owerhede moet rekenskap gee wanneer sy gevind word. Dankie aan die persoon wat die baba gehelp het met dadelike optrede om die veiligheid van die kindjie te bevestig.

Jsgroen ·

Is ook deur SASSA en die munisipaliteit gefaal. Kry geen hulp alhoewel daar vertel word daar is hulp vir mense met lae inkomste. Allerhande verskonings. In die vrou se geval sou ek eerder die baba by ‘n kerk of ander openbare plek gelos het. Gelukkig sy is gevind.

Nicky ·

Wow! My Mamma-hart pyn vir die ou dogtertjie! Ek sal dit nooit maar ooit aan enige iets of iemand waarvoor ek lief is kan doen nie! Ek wil nie eers dink hoe bang sy was nie…

Nici ·

Polisie wil ‘n strafregtelike saak begin!? Behoort daar nie eerder beter maniere te wees om ouers vinnig te help met aanneming as hul breekpunt bereik het nie?

Simoné ·

Ek ken verskeie mense wat enige iets sal doen om ‘n baba te kan he, wat selfs bereid is om aan te neem, maar die aanneem bedryf lyk my gaan ook maar oor geld maak, want hulle het nie die derduisende rande om te betaal om kind aan te neem nie, dan word daar gese, as jy nie dit kan betaal nie, kan jy nie na die kind omsien nie, want hier praat geld, nie omgee en liefde nie.

Antoinette ·

Dit is waar dat ons welsyn stelsel die mense van Suid-Afrika faal.
En die dame het gaan hulp soek, min van ons weet waardeur daardie mamma is.

Voilet ·

Ek sal haar lewenslank tronkstraf gee…..kan ek haar maar aan neem asb?

Veronika ·

Weereens het die staat gefaal om te help toe daar eerlike hulp gevra is. Sy wou waarskynlik die baba laat aanneem maar dis te veel werk vir die owerhede………

Vanessa ·

Die mamma het probeer. Ek dink haar hart is ook in duisend stukke. Ons ken nie haar omstandighede nie en dis nie vir ons om te oordeel nie. Dit is baie hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.