Baba Mienke: ‘God het haar nog ʼn jaar gespaar’

Baba Mienke (Foto: Verskaf)

“My wens vir haar bly altyd dieselfde. Ek bid vir genesing en gesondheid. Ek bid dat God sy hand oor haar sal hou en dat sy net ’n gesonde baba sal kan wees.”

Dít is Verna Mulder se wens vir haar babadogtertjie Mienke wat in Augustus 2017 aan melk by ’n dagsorgsentrum verstik het en serebraal gestrem gelaat is. Mulder het voor die aanbreek van die Kersgety met Maroela Media gesels oor die jaar wat verby is en die begin van nóg ’n jaar waarin klein Mienke vir haar ouers en sussies gespaar is.

“Die tyd loop verskriklik vinnig. As ek na foto’s kyk, kan nie dink dis só lank nie. Dit voel soos ses maande, nié 18 maande nie. Dit voel asof dit gister gebeur het,” sê Verna.

2019 gaan ’n groot jaar vir Mienke wees. Nié net verjaar sy aan die einde van Januarie en word sy dan twee jaar oud nie, maar sy gaan ook Indië toe vir behandeling.

Vir Verna en haar man, Ryno, het hul donkerste nagmerrie waar geword toe die dagsorgsentrum hulle op 25 Augustus 2017 gebel het met die nuus dat Mienke op pad hospitaal toe is. “My wêreld het inmekaargetuimel,” het Verna destyds vertel.

Baba Mienke (Foto: Verskaf)

“My kind was dood. Daar was niks lewe in haar nie. Die dokters het vir my gesê hulle het hul bes probeer, maar ek het histeries aanhou gil: ‘Julle beste is nie goed genoeg nie!’ Ons het geweier om op te gee – ons het gebid en God om genade gesmeek. Mense van reg oor die land het vir ons gebid. En God het haar vir ons gespaar.”

Ja, daar is baie om voor dankbaar te wees aan die einde van ’n jaar vol hospitaalbesoeke en spreekkamers. Vandag sê Verna Mienke is so gesond as wat verwag kan word. “Sy groei vinnig. Sy dra al klere met groottes van drie tot vier jaar. Sy lyk gesond. Sy is groot, lank en mollig – sy weeg al 15 kg! Sy is vrek swaar,” lag Verna.

Mienke sal aan die einde van Januarie saam met haar ouers na Indië reis om behandeling te ontvang. Verna vertel dat die dokters aan daardie kant vordering waarborg, al is dit hoe gering. “Alles is klaar gereël, ons wag net vir ons paspoorte. Al is dit iets kleins, is dit steeds iets. Ons begin by die klein dinge. Ons is baie positief; ons glo die behandeling gaan vir haar iets beteken,” sê sy.

Mienke kan 18 maande ná die tragiese voorval steeds nie sit, eet of fopspeen suig nie. Haar nek hang en sy kan niks met haar hande vashou nie. Sy hou haar oortjies egter gespits en “is bewus van alles wat om haar aangaan. Sy kan klank met haar kop volg,” vertel Verna.

Mienke het ook onlangs ’n operasie aan haar heupe ondergaan om die spiere in haar bene te verleng. “Haar spiere het verkort omdat sy nie kan loop of kruip nie. Sy kon nie haar bene reguit maak nie, maar die gips is darem nou af en die snytjies is besig om gesond te raak,” sê Verna.

“Ons het ook van Mbombela na Johannesburg verhuis om nader aan Mienke se dokters te wees en ons albei se werke het ons verskriklik tegemoet gekom.”

Verna en Ryno is gevolglik aansienlik nader aan mekaar al werk hy steeds in Middelburg in Mpumalanga. “Ten minste het ons gesin weer hierdie jaar bymekaargekom. Jy kan nie hierdie ding alleen doen nie.”

Verna en Mienke Mulder (Foto: Verskaf)

“Nee, 2018 was beslis nie sonder uitdagings nie,” sê Verna. Mienke is in September met ’n terugslag in die hospitaal opgeneem en dokters kon nie agterkom wat presies fout is nie. Dié hospitaalbesoek was egter nié die grootste uitdaging nie.

Verna vertel dat die ouerpaar moedeloos was nadat Mienke se dagsorgsentrum waar sy bedags gebly het onlangs aangekondig het dat hul deure in Desember gaan sluit. Dié dagsorgsentrum het bedags na Mienke omgesien terwyl Verna en Ryno moet werk en daar was spesifiek één versorger wat Mienke se uitdagings verstaan het. “’n Mens gaan nooit weer iemand soos sy kry nie – of dit voel altans so,” sê sy.

“Ons het vanjaar lang trane oor die tannie gehuil en van skool na skool gery om te kyk waar ons Mienke vir volgende jaar kan inskryf. Nou moet ek weer iemand kry wat ek met haar lewe moet vertrou. Dít is die moeilikste.”

Hoe het Mienke se ongeluk haar verander? Verna dink lank voordat sy antwoord. “Ek was nog altyd baie stil en teruggetrokke. Skaam. Mienke het my geleer om my skaam-wees eenkant toe te skuif. Ek praat nou makliker met mense. Ek praat nie uit my beurt nie, maar ek praat wanneer ek moet.”

Sy vertel dat dit veral Ryno is wat haar van die begin af verras het en dinge makliker maak aangesien hy net “aangaan”. Ryno gesels glo maklik met vreemdelinge en verduidelik Mienke se toestand aan die wat wil weet. “Hy is so chilled. Hy is baie oop oor sy gevoelens, hy praat maklik oor Mienke en dit neem van die druk van my af.”

Haar wens vir 2019 is eenvoudig. “Gesondheid,” antwoord sy sonder om te dink. “Ek bid dat niks met my gesin moet gebeur nie.”

Verder is dit vir Verna belangrik dat haar ander twee dogtertjies normale en gelukkige kinders is. “Ek wil hê dat hulle altyd baie liefde en aandag sal ontvang. Ek wil nooit hê hulle moet voel dat Mienke meer aandag kry of meer spesiaal as hulle is nie.”

Die Mulder-gesin hou vakansie. (Foto: Verskaf)

Sy sal waarskynlik nooit verstaan waarom die voorval daardie dag 18 maande gelede moes gebeur het nie, maar vandag weet sy dat dit haar sterker gemaak het. “Mienke se storie het my sterker gemaak. Dit is nié net ’n gesig wat ek opsit nie, dit is regtig wat dit my gemaak het. Dit help nie ek huil nie, dit gaan my nêrens bring nie.”

Natuurlik is daar dae wanneer sy nie die trane kan keer nie. “In die aand is dit my en die Here se tyd. Dít is wanneer ek huil, maar die volgende oggend het ek weer krag. Die Here voorsien. Nie elke dag is lekker nie, maar namate die dag aangaan gaan ek ook maar aan,” sê sy.

“Ek dink baie keer hoe ek hierdeur gaan kom. Hoe gaan ek al drie my kinders groot kry? ’n Mens doen dit net. Ek sê altyd vir Ryno, jy moet opstaan in die oggend en die keuse maak oor wie en wat jy vandag wil wees,”

Dít is die keuse wat sy elke dag in 2019 sal moet maak.

Besoek die Facebook-blad Please Pray for Mienke om Mienke se vordering dop te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.