Baba Mienke op pad Indië toe vir behandeling

Baba Mienke (Foto: Facebook)

Baba Mienke Mulder se ouers beplan om hul kleinding voor die einde van dié jaar Indië toe te neem vir behandeling. ’n Besoek van twee weke aan dié land sal stamselbehandeling asook intensiewe terapie insluit.

Ryno Mulder, Mienke se pa, het Maandagoggend dié planne aan Maroela Media bevestig.

Mulder vertel dat die egpaar al vir ’n geruime tyd in gesprek is met hul neuroloog oor die moontlikheid van stamselbehandeling in Indië. Mienke se neuroloog het dié behandeling aanbeveel aangesien een van haar ander pasiënte daarby gebaat het.

“Ek sal Timboektoe toe vlieg as dit vir Mienke kan help,” sê Mulder.

Mulder vertel dat die egpaar in dié stadium geen finale reëlings rakende die behandeling bekend kan maak nie aangesien besonderhede soos ’n gepaste datum en koste aan die besoek verbonde steeds gefinaliseer moet word.

“Dit gaan gebeur. Ons sal later die nodige besonderhede bekend maak.”

Mulder verduidelik dat die hospitaal in Indië tegnologie gebruik wat nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie. Hierdie tegnologie sluit in ’n MR-skandering wat ’n baie duidelike skandering van die brein neem. Wanneer die tyd aanbreek, sal Mulder en sy vrou, Verna, saam met hul 19 maande oue dogtertjie oor die water gaan vir dié behandeling.

Verna en baba Mienke (Foto: Facebook)

Mulder verduidelik dat ’n stamseloorplanting in die begin van die twee weke gedoen sal word waarna Mienke elke dag sewe uur lank terapie sal ontvang totdat sy weer huis toe kan gaan.

“Die terapie sal nuwe breinselle wat deur die stamselle gevorm word, stimuleer en van voor af leer.”

Hy verduidelik dat dokters klein Mienke se beenmurg sal trek en stamselle kweek waarna hulle die stamselle terug in haar lyfie sal sit waar dit getrek is. Dié selle gaan glo reguit brein toe.

“Ek leer elke dag [oor haar mediese behandeling]. Ja ons is bang, maar ons is soos altyd hoopvol. Deur geloof, genade, ondersteuning, vasbeslotenheid en almal se gebede, gaan ons hierdie ding doen.”

Mulder vertel verder dat Mienke vanmiddag ontslaan sal word nadat sy ’n week gelede vir die soveelste keer in die hospitaal opgeneem is. “Mienke het die groenlig vir huis toe gaan gekry. Sy sukkel nog steeds met diarree, maar ons sal dit van die huis af kan dophou.”

Dit is steeds onduidelik wat haar mees onlangse terugslag veroorsaak het.

Maroela Media het vroeër berig Mienke is op 25 Augustus verlede jaar na die hospitaal gehaas nadat sy glo by ’n dagsorgsentrum in Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga aan melk verstik het. Volgens mediese personeel was sy ’n geruime tyd sonder suurstof. Sy is ná die voorval etlike weke in die hoësorgeenheid van ’n Johannesburgse hospitaal verpleeg.

Die Facebook-blad Please Pray for Mienke gee daagliks inligting oor Mienke se vordering. Vir meer inligting besoek Please Pray for Mienke op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johnnie ·

Mienke mag jy en jou ouers net die nabyheid van Jesus ervaar en dat Hy julle elke dag mag deurdra. STERKTE.

Gesiggie ·

Mag Liewe Jesus… hierdie klein Engel kind in sy arms neem, en mag die behandeling wat sy moet ontvang 100% uitwerk…n prag van n meisie soos jy verdien net die beste… ons Gebede gaan ook uit na Mamma en Pappa wat saam jou deur die moeilike tyd moet gaan. Klou vas aan Jesus se kleed, Glo en vertrou, dat jul kind weer n normale lewe sal lei… by God is niks onmoontlik… al die seer en pyn wat jul nou ervaar sal eendag vervang word met blydskap en oorwinning.. als wat mooi is, en glo my die hele Laeveld gemeente staan agter jul. Dankie Jesus vir n omkeer in Mienke se lewe.. ons Glo en Vertrou . Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.