Baba Milané oorlede

Baba Milané. (foto: Facebook)

Die ses weke oue Milané Grobler, wat meer as twee weke gelede vir Covid-19 in ʼn hospitaal opgeneem is, is oorlede.

Dit het gelyk of Milané se toestand oor die afgelope paar dae begin verbeter het, maar haar organe het egter begin ingee en sy het gisteraand haar stryd verloor.

Dokters het Milané se ouers, Adela Malan en Christo Grobler, op die ergste voorberei toe sy verlede week in die hospitaal opgeneem is en gesê sy kan moontlik nie die volgende 24 uur oorleef nie. Sy het egter aanhou veg.

Malan is die suster van die Kokkedoor-finalis en sjef Pieter Malan, ook bekend as PappaChef. “Ons harte is stukkend, my liefste sussie, ek bid dat die Here jou en Christo sal koester en vashou. Ons het nie vanaand woorde, antwoorde of vrede nie, maar ons vertrou in die Here se genade en liefde om julle deur die ding te kry. Waar klein Milané vanaand is, is daar geen pyn nie,” het hy op Facebook geskryf.

“Dankie vir almal se gebede, bid asseblief saam met ons dat die jong ouers se harte beskerm sal word en vir krag vir die moeilike tyd wat nog ons almal in die gesig staar. Ons is bitter baie lief vir julle, Adela en Christo. Ons harte is in stukke saam met julle. Rus sag, mooiste pop.”

Milané het op 14 Augustus begin siek word waarna sy positief vir Covid-19 getoets het. Sy is in die Life Midmed-hospitaal op Middelburg in Mpumalanga se intensiewesorgeenheid opgeneem.

Milané is verlede week aanvanklik aan ʼn ventilator gekoppel, maar dit is kort voor die naweek verwyder en sy is daarna aan ʼn ossillator gekoppel. Haar suurstofvlakke, bloedsirkulasie en bloeddruk het ook die afgelope naweek heelwat verbeter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Saartjievandiebosveld

My hart skree van hartseer.

Misky

Dis bitter hartseer en so jammer vir die ouers. Rus sag kleine Milanè

Diline

Wat ‘n groot verlies! My gebede gaan uit na die ouers en familie wat hierdie poplap aan die dood moes afstaan. Rus in vrede kleine engeltjie. Mag die Hemelse Vader julle die krag gee om hierdeur te kom

ES

Sjoe, sterkte mamma en pappa! Ek kan my nie indink hoe absoluut verskriklik dit moet wees nie.

JM

So ontsettend hartseer! Mag die ouers troos en vrede ontvang.