Baba Nico: Beskuldigde wil glo skuldig pleit

Baba Nico. Foto: Verskaf

Baba Nico. Foto: Verskaf

Mafsehediso Lisbeth Makashea, die vrou wat daarvan aangekla word dat sy die babaseun van haar voormalige werkgewers, Org en Anna-mi Linde van Welkom in die Vrystaat, aangerand het, wil glo skuldig pleit.

Sy staan tans tereg op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat sy in Desember op video afgeneem is waar sy baba Nico, wat toe sewe maande oud was, klap as hy huil, sy kop teen die vloer vasdruk en hom aan sy hempie optel. Sy word ook van diefstal aangekla.

Makashea het Vrydag weer in die Welkom-streekshof verskyn waar haar prokureur aangevoer het dat sy skuldig sal pleit op ʼn aanklag van gewone aanranding, maar dat sy nie tronkstraf opgelê moet word nie.

Staatsaanklaer Charmaine Labuschagne het aan Maroela Media gesê dat sy dit nie aanvaar het nie en dat sy gaan poog dat Makashea ten minste tot ʼn sekere termyn tronkstraf gevonnis moet word. “Die ideaal sal tien jaar wees,” het sy gesê.

Rudi Pottas, die Linde-egpaar se regsverteenwoordiger, het aan Maroela Media gesê die verhoordatum is op 3 Junie in dieselfde hof vasgestel. Die verhoor sal na verwagting een dag lank duur.

Makashea was veronderstel om op 19 Maart in die hof te verskyn, maar sy het eers ná die verrigtinge opgedaag en die saak is uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig Makashea is in Desember in hegtenis geneem. Anna-mi het destyds gesê dat sy op 21 Desember, voordat sy saam met haar sesjarige dogtertjie inkopies gaan doen het, ʼn handkamera in die sitkamer opgestel het waar Makashea na Nico omgesien het. Sy het ʼn slegte ondervinding met hul vorige huiswerker gehad het en wou vir haar eie gemoedsrus sien hoe Makashea haar kinders behandel wanneer sy nie tuis is nie.

Die egpaar het strafregtelike klagte teen Makashea aanhangig gemaak nadat hulle die beeldmateriaal gesien het.

Makashea het op 23 Desember vir die eerste keer in die hof verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Lees alle berigte op Maroela Media oor baba Nico.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Francis ·

Stuur haar tronk toe sodat sy n les geleer kan word. Om n onskuldige baba van 7 mnde aan te rand, is barbaars.

christine ·

Dit gebeur in oue tehuise ook. Werkmense praat met mekaar in hulle eie taal. Stomme oumense het nie n idee hoe bloodgestel hulle is nie

Kerneels ·

Waar wat hulle sê.
Ons sluit ons yskaste maar los ons kosbaarste besittings – Ons kinders, by die huishulp. Makashea moet gestraf word vir wat sy gedoen het maar die verantwoordilikheid lê nogsteeds by die ouers van die kind. As ek die artikel reg lees dan het die ma haar kind soos ń labretorium rot in ń eksperiment gebruik om die huishulp se lojaliteit te toets. Na my mening is dit stafregtelike nalatigheid om so onverskillig op te tree.

Neptunus ·

Skei uit Kerneels, daar is nêrens enige aanduiding dat hier ‘n eksperiment gedoen is nie. Die vrou sou vroeër of later die kind alleen by die huishulp los en het ‘n kamera opgestel om te kan sien hoe sy optree in haar afwesigheid. Sy het dus haar kind beskerm sover sy kon. Een ding is egter onbetwisbaar, ouers wat huishulpe gebruik om kinders namens hul groot te maak maak ‘n groot fout. Ek sê natuurlik nie dis wat hierdie kind se ma beoog het nie.

Gideon ·

Ag Kerneels, watter ons sluit ons yskaste- ek sluit nie my yskas, en ek en my vrou het ook altyd self na ons kinders gekyk. Soms is dit moeilik, albei ouers moet werk, maar indien ‘n persoon aansoek doen vir werk en weet dit sluit in om na kinders te kyk gee dit daardie persoon geen reg om links en reg te eet uit die yskas nie, behalwe as dit ooreengekom word, en dit gee niemand die reg om jou diere of kinders te mishandel nie, want jy is die werker soos by enige werk.

Marlene ·

Dit bly maar altyd ‘n risiko om jou klein kinders in ander se sorg te plaas. Wit of swart, pers of oranje. Ek het al gehoor van dagsorg moeders wat kinders onversorg laat, of te veel kinders en te min hande het. Ons hoor van kleuterskole en skole waar kinders gemolesteer word. Die idiaal is natuurlik om ‘n ouer tuis te hê om na nie kleingoed om te sien, wat moeilik is in vandag se tyd. Ouers moet meer oplettend wees…uitkyk vir onverklaarbare blou kolle, brandboudjies, ‘n vrees by kleingoed wat af gelaai word en ander duidelike tekens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.