Baba Nico: ‘Die einde is in sig’

Baba Nico (1). Foto: Verskaf

Baba Nico (1). Foto: Verskaf

Ná maande lange se gewag en talle hofverskynings is ʼn verhoordatum uiteindelik in sig vir ʼn ouerpaar van Welkom in die Vrystaat wie se voormalige huiswerker glo hul babaseuntjie, bekend as baba Nico, aangerand het.

Baba Nico se ouers, Org en Anna-mi Linde, was vol hoop dat die verhoor van Mafsehidiso Lisbeth Makashea al op 3 Junie sou plaasvind, maar dit is uitgestel.

Makashea het aanvanklik tereggestaan op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat sy in Desember op video afgeneem is waar sy baba Nico, wat toe sewe maande oud was, klap as hy huil, sy kop teen die vloer vasdruk en hom aan sy hempie optel.

Sy was bereid om skuldig te pleit op ʼn aanklag van gewone aanranding, op voorwaarde dat sy nie tronkstraf opgelê moet word nie. Die Linde-egpaar en hul regsverteenwoordiger, die aanklaer Charmaine Labuschagne, was nie hiervoor te vinde nie.

“Die saak was vandeesweek voor die direkteur van openbare vervolging in Bloemfontein, waar daar besluit is waarvoor Makashea aangekla gaan word,” het Labuschagne Vrydag aan Maroela Media gesê. “Sy gaan nou net aangekla word van aanranding op ʼn kind, maar gelukkig kan die verhoordatum nou uiteindelik vasgestel word en is daar beslis die saak sal in die Welkom-streekshof aangehoor word.”

Labuschagne het gesê sy het voorstelle ingedien en behoort teen Maandag die presiese datum te weet.

Anna-mi het aan Maroela Media gesê hulle is verlig want dit begin nou voel of “dinge na ʼn punt toe beweeg”. Die verhoor sal na verwagting nie later as 4 Augustus wees nie.

“Ons wil die saak nou net oor en verby kry en sal tevrede wees as sy enige tronkstraf opgelê word. Sy moet besef wat sy gedoen het is verkeerd,” het sy gesê.

Sy het gesê Nico, wat op 23 Mei een jaar oud geword het, het intussen begin loop en hardloop nou die hele wêreld vol.

Maroela Media het vroeër berig Makashea is in Desember in hegtenis geneem. Anna-mi het destyds gesê dat sy op 21 Desember, voordat sy saam met haar sesjarige dogtertjie inkopies gaan doen het, ʼn handkamera in die sitkamer opgestel het waar Makashea na Nico omgesien het. Sy het ʼn slegte ondervinding met hul vorige huiswerker gehad en wou vir haar eie gemoedsrus sien hoe Makashea haar kinders behandel wanneer sy nie tuis is nie.

Die egpaar het strafregtelike klagte teen Makashea aanhangig gemaak nadat hulle die beeldmateriaal gesien het.

Makashea het op 23 Desember vir die eerste keer in die hof verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Lees alle berigte op Maroela Media oor baba Nico.

Hier volg ʼn video van toe baba Nico in Junie sy eerste treë gegee het:

[wpvideo kUNTLt7X]

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christa Badenhorst ·

Ingevolge die Kinderwet mag geen identifiserende besonderhede van minderjariges betrokke in hofsake gepubliseer word nie. Hierdie artikel bevat baba se naam, ouers se name, fotos en videos en is geensins in lyn met wetgewing nie.

Dave ·

Dit sal besonder interessant wees om te weet waarom jy beswaar aanteken, Christa.

Dave ·

Myn insiens was hier diskressie aan die dag gelê en daarvolgens besluit dat geeneen skade aangedoen word wat voorkom kon word as maskers oor hul gesigte getrek was. So, wat pla jou?

Sune van Heerden ·

Dagsê Christa

Baie dankie vir jou kommentaar.

Die berig is saamgestel met toestemming van die staatsaanklaer en die ouers.
Kontak ons gerus by [email protected] indien jy die saak graag verder met die redakteur of nuusredakteur wil bespreek.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Piet venter ·

Dit is nie nodig vir die beskuldige om skuldig te bepleit nie, die video is genoegsame bewys van haar skuld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.