Baba Nico: Verhoordatum uitgestel

Baba Nico. Foto: Verskaf

Baba Nico. Foto: Verskaf

Baba Nico se ouers, Org en Anna-mi Linde van Welkom in die Vrystaat, sal nog twee weke moet wag voor die verhoor van Mafsehidiso Lisbeth Makashea na verwagting amptelik gaan begin.

Makashea staan tereg op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat sy in Desember op video afgeneem is waar sy baba Nico, wat toe sewe maande oud was, klap as hy huil, sy kop teen die vloer vasdruk en hom aan sy hempie optel. Sy word ook van diefstal aangekla.

Die Linde-egpaar was vol hoop dat die verhoor, wat na verwagting slegs ʼn dag sal duur, Woensdag in die Welkom-landdroshof sou plaasvind, maar dit is egter vir twee weke uitgestel.

Staatsaanklaer Charmaine Labuschagne het Donderdag aan Maroela Media gesê die direkteur van openbare vervolging het opdrag gegee dat die saak tot 19 Junie uitgestel moet word.

Makashea het tydens haar vorige hofverskyning in April glo aangedui dat sy sou skuldig pleit op ʼn aanklag van gewone aanranding, maar dat sy nie tronkstraf opgelê moet word nie. Die saak is glo Woensdag uitgestel omdat die verdediging nie die aanbod wou aanvaar nie.

Labuschagne het vroeër aan Maroela Media gesê dat sy dit nie aanvaar het nie en dat sy gaan poog dat Makashea ten minste tot ʼn sekere termyn tronkstraf gevonnis moet word. “Die ideaal sal tien jaar wees,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Makashea is in Desember in hegtenis geneem. Anna-mi het destyds gesê dat sy op 21 Desember, voordat sy saam met haar sesjarige dogtertjie inkopies gaan doen het, ʼn handkamera in die sitkamer opgestel het waar Makashea na Nico omgesien het. Sy het ʼn slegte ondervinding met hul vorige huiswerker gehad en wou vir haar eie gemoedsrus sien hoe Makashea haar kinders behandel wanneer sy nie tuis is nie.

Die egpaar het strafregtelike klagte teen Makashea aanhangig gemaak nadat hulle die beeldmateriaal gesien het.

Makashea het op 23 Desember vir die eerste keer in die hof verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Lees alle berigte op Maroela Media oor baba Nico.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swanna ·

Nee wat laat hulle haar toesluit. Maak nie saak of dit wit, groen of blou is nie. As jy dit aan ‘n kind doen moet hulle die swaarste straf wat op gele kan word vir jou gee. ‘n Kind staan nie ‘n kans teen so ‘n groot mens om hom self te verdedig nie. Ek is bly die outjie het geen skade gelei nie. Hy leik te oulik op die foto. Mooi laaitie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.