Baba ontvoer toe moordenaars ontsnap

Die gekaapte Toyota-dubbelkajuit wat in die sloot beland het. (Foto: Car Tracker SA)

’n Vier maande oue baba is Donderdag gedurende ’n huisroof in Johannesburg ontvoer toe twee veroordeelde moordenaars uit die Leeuwkop-gevangenis ontsnap en op die baba se ouerhuis in Fourways toegeslaan het.

Malibongwe Masondo en Luvo Mbali, wat ten tyde van hul ontsnapping onderskeidelik vonnisse van 10 en 30 jaar tronkstraf vir moord uitgedien het, is intussen weer agter slot en grendel.

Die babadogtertjie is ook teruggevind en weer in haar ouers se sorg.

Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie (JMPD), sê metropolisiebeamptes was Donderdag kort voor 13:00 met patrollie in Diepsloot besig toe hulle ’n wit Toyota-dubbelkajuit teen ’n hoë spoed sien verbyjaag.

Die bakkie het gedurende die jaagtog in ’n sloot beland. Lede van die gemeenskap het op die voertuig toegesak en die twee insittendes, wat later as Mbali en Masondo geïdentifiseer is, aangerand.

Die metropolisiebeamptes het ondersoek ingestel en vasgestel dat Masondo en Mbali uit aanhouding ontsnap het voordat hulle vroeër dieselfde dag op ’n huis toegeslaan het.

Volgens Minnaar het ’n huishulp die twee mans gewaar toe hulle die eiendom in Fourways betree het en die agterdeur van die huis gesluit.

Masondo en Mbali het glo die agterdeur en nóg ’n deur in die huis oopgeskop. Die eienaar van die huis is toe van kontant beroof voordat die mans met haar babadogtertjie op die vlug geslaan het.

Masondo en Mbali het glo met die kind weggehardloop toe sekerheidswagte by die huis aankom om hulp te verleen. Die mans het die wit Toyota-dubbelkajuit gekaap en in die rigting van Diepsloot gery. ’n Ander voertuig het hulle agternagesit en dit is toe dat die bakkie in die sloot beland.

Minnaar sê Masondo en Mbali is op die toneel in hegtenis geneem en na die Diepsloot-polisiestasie geneem, waar amptenare van die departement van korrektiewe dienste die twee gevangenes gaan haal het.

Die baba se pa het haar gaan haal en intussen na ’n hospitaal in Fourways geneem om ondersoek te word. Inligting rakende die baba se toestand is nie in die stadium bekend nie.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, het by navraag aan Maroela Media bevestig dat Masondo en Mbali weer in aanhouding is.

Aanklagte van ontvoering van ’n kind, die kaping van ’n motor en ontsnapping uit wettige aanhouding is reeds teen die mans aanhangig gemaak.

Nxumalo sê die departement is erg ontsteld oor die voorval en sal sorg dat geen steen onaangeroer bly tydens sy ondersoek na die ontsnapping nie.

“Die gereg sal met die twee gevangenes afreken en die departement sal nou saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) werk om te verseker dat geregtigheid seëvier vir die slagoffers wat deur hierdie twee geteister is terwyl hulle op vrye voet was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Toy ·

Hoe ontsnap hulle net, iemand moes hulle gehelp het. Dit is belaglik hoe dit gaan in die land, dit maak mens woedend as mens weet hoe het als gewerk en als gaan net tot niet en dit is moord en roof elke liewe dag.

Nozi ·

MM hou ons asb op hoogte omtrent die ontsnapping. Sal graag wil weet hoe hul dit reggekry het om te ontsnap en dit nadat hul vir moord in die tronk is. Deesdae vind ontsnappings te maklik plaas.

Dup ·

Ons woon in n wilde en somtyds woeste land.Dan ook is SA se misdaadsyfers van die hoogste ter wêreld.Die bevolking bly agter traliehekke met alarmstelsels,terwyl die kriminele buite rondloop en maak soos hulle wil.

Deon ·

Hier was n baba se lewe in gevaar!!! Die minister in beheer van die gevangenisdiens moet aanspreeklik gehou word vir hierdie misdaad, hy is die top indoena in beheer en hierdie het onder sy wagbeurt gebeur…. Tyd dat ons hierdie lot wat sit en vet word in hulle stoele en alles veroordeel begin in n hoek in druk vir die gemors wat in die gereg aangaan… Dank die Vader dit het nie slegter afgeloop nie….

Alex ·

Bring die dood straf terug. Dis al wat gewerk het vir sulke harde kriminele mense. Dit gaan te lekker nou om mense dood te maak in hul huis, voertuie, langs die pad en sommer net wild te skiet in die publiek

JM ·

Net as jy dink dat jy nou alles gehoor het, dan gebeur soiets. Hierdie land is totaal buite beheer, want misdadigers het oorgeneem. Waarvan moet ‘n mens nog hoor?!

Pablo ·

Die belasting betalers sal nou moet opdok vir die koste om die bakkie te vervang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.