Baba ontvoer

Baba Kwahlelo Tiwane. (Foto: Verskaf)

Die polisie het lede van die gemeenskap Saterdag gevra om te help soek na ʼn vermiste twee-maande-oue baba seuntjie. Kwahlelo Tiwane is vermoedelik Donderdag in Parow ontvoer.

“Die ma van die tweelingseuns is Woensdag deur ʼn verdagte genader wat haar as ʼn maatskaplike werker van Khayelitsha voorgedoen het,” sê kol. André Traut, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap. “Die vrou het gevra vir die seuntjie se geboortesertifikaat en kliniekkaart en kopieë daarvan gemaak.”

Volgens Traut het die vrou die volgende dag teruggekom en die ma en haar kinders in ʼn taxi na Parow vergesel, waar sy gesê het haar werk is. “Toe die taxi stilhou by die plek waar die vrou se kantoor glo was, het sy uit die voertuig geklim met een van die tweeling in haar arms en met die kind gevlug.”

Traut sê die voorval word ondersoek en die publiek se hulp sal hoog op prys gestel word sodat die ma met haar kind herenig kan word. Enigiemand met inligting oor die voorval of weet waar die seuntjie hom bevind, kan sers. Joy Sumsodien by 082 522 1095 kontak. Andersins kan die polisie se noodnommer by 0860010111 geskakel word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.