‘Baba-ontvoerder’ op borgtog vrygelaat

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vrou wat glo 17 jaar gelede ʼn pasgebore baba uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad ontvoer het, is Vrydag op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Die vrou mag nie geïdentifiseer word nie om die kind te beskerm. Die kind word steeds as ʼn minderjarige geag.

Die vrou het in die volgepakte Kaapstad-streekshof voor landdros Mark Engel verskyn.

As deel van haar borgtogvoorwaardes het Engel haar gewaarsku om nie kontak, direk of indirek, met die meisie of enige staatsgetuie te maak nie. Dit sluit Facebook-boodskappe of boodskappe op enige sosialemedia-platform in.

Engel het gesê die verdagte het ʼn vaste adres en word nie deur die staat as ʼn vliegrisiko beskou nie. Sy het ook geen vorige oortredings, hangende kriminele sake of lasbriewe vir haar inhegtenisneming nie.

Hy het bevind dat dit, in die omstandighede, in die belang van die gereg is om haar op borgtog vry te laat.

Die aangeklaagde het glo op 30 April 1997 die baba in die hospitaal uit die arms van haar slapende ma gesteel en as haar eie grootgemaak.

Sy is gevind nadat haar biologiese ouers se tweede dogter, wat vier jaar ná haar ontvoering gebore is, vanjaar met gr. 8 begin het by ʼn skool in Kaapstad. Klasmaats het vir die meisie gesê daar is ʼn matriekmeisie wat soos sy lyk.

Die twee meisies het vriende geword en die jonger meisie se pa het gesê hy wil sy dogter se nuwe vriendin ontmoet. Die ooreenkoms tussen die twee kinders was merkwaardig en die pa het die polisie genader.

As borgvoorwaardes moet die aangeklaagde by ʼn vasgestelde adres aanbly en weer op 29 Mei in die hof verskyn. Sy moet haar ook elke Maandag, Woensdag en Vrydag tussen 05:00 en 08:00 by die polisie aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.