Baba-ontvoeringsdrama: Ma, minnaar terug in hof

Baba Siwaphiwe Mbambo nadat sy veilig gevind is. (Foto: Verskaf)

ʼn Vrou en haar beweerde minnaar het Dinsdag in die Durban-landdroshof verskyn in verband met ʼn beplande “kaping” waartydens daar voorgegee is dat haar maand oue baba ontvoer is.

Sibongile Mbambo (34) en Phumlani Mbokazi (26) het in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en dwarsboming van die gereg. ʼn Aanklag van ontvoering wat aanvanklik teen hulle aanhangig gemaak is, is in Maart teen hulle teruggetrek.

Mbokazi is ʼn taxibestuurder en die pa van drie kinders.

Maroela Media het vroeër berig ʼn volskaalse soektog is op 10 Maart na baba Siwaphiwe van stapel gestuur nadat haar ma se motor, met haar daarin, as “gekaap” in Greyville aangemeld is. Volgens Mbambo het twee gewapende mans haar by die City View-winkelsentrum oorval en gekaap.

Mbambo, wat getroud is, het toe gesê sy en haar agtjarige seun is tydens die kaping uit die voertuig gegooi, waarna die kapers met die baba weggejaag het. Die voertuig is later verlate op die hoek van Moodie- en Donovanweg in Montclair opgespoor.

Die polisie, paramedici, veiligheidsbeamptes en verskeie bekommerde inwoners het dadelik na die “kapers” begin soek en ʼn beloning van R250 000 is uitgeloof vir inligting wat daartoe kon lei dat die kind so spoedig moontlik en veilig opgespoor word. Die polisie het op 12 Maart in die vroeë oggendure ʼn motor by die Mariannhill-tolplaza (naby Pinetown) voorgekeer. Siwaphiwe is ongedeerd in die voertuig gevind.

Die baba is in die sorg van die staat geplaas. Die polisie het gesê hulle sal ʼn siviele saak teen die beskuldigdes instel vir die tyd en hulpbronne wat verkwis is tydens die soektog na Siwaphiwe.

Mbambo se man, Christopher Mbambo, was Dinsdag in die openbare galery in die hof. Hy het vroeër sy vrou se borgtog van R1 000 betaal.

Sibongile het weereens tydens die hofverrigtinge haar gesig met ʼn serp bedek toe sy in die beskuldigdebank verskyn het. ʼn Handjievol betogers was ook in die openbare galery met t-hemde waarop “Justice for Baby Siwaphiwe” en “United for Baby Siwaphiwe” geskryf was. Die groep het gesê hulle is in die hof ter ondersteuning van die baba.

Die saak is tot 22 Junie uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.