Baba-ontvoeringsdrama: Paar kruip agter serpe weg

Baba Siwaphiwe Mbambo (Foto: Rescue Control SA)

Baba Siwaphiwe Mbambo (Foto: Rescue Control SA)

Die ma en haar minnaar wat in hegtenis geneem is ná die “ontvoeringsdrama” van haar een maand oue baba Vrydag in Durban, het Maandag vlugtig saam in die hof verskyn.

Die ma, Sibongile Mbambo (34), en Phumlani Mbongazi het vir die eerste keer in die Durban-landdroshof verskyn in verband met die ontvoering van baba Siwaphiwe. Albei het hul gesigte met serpe bedek en oogkontak vermy terwyl joernaliste saamgedrom het om hulle af te neem.

Die derde verdagte wat in hegtenis geneem is, moet nog verskyn aangesien haar naam nie op die hofrol geplaas is nie. Die landdros het die saak tot Woensdag uitgestel sodat DNS-monsters geneem kan word en om die klagstaat te finaliseer. Hulle bly in aanhouding.

Die landdros het ook gesê Mbambo moet alternatiewe verblyfreëlings tref sou sy om borgtog wou aansoek doen.

ʼn Volskaalse soektog is Vrydag na baba Siwaphiwe van stapel gestuur nadat haar ma se motor, met haar daarin, as “gekaap” in Greyville aangemeld is. Volgens Mbambo het twee gewapende mans haar by die City View-winkelsentrum oorval en gekaap.

Mbambo, wat getroud is, het toe gesê sy en haar agtjarige seun is tydens die kaping uit die voertuig gegooi, waarna die kapers met die baba weggejaag het. Die voertuig is later verlate op die hoek van Moodie- en Donovanweg in Montclair opgespoor.

Die polisie, paramedici, veiligheidsbeamptes en verskeie bekommerde inwoners het dadelik na die “kapers” begin soek en ʼn beloning van R250 000 uitgeloof vir inligting wat daartoe kan lei dat die kind so spoedig moontlik en veilig opgespoor word.

Lt.kol. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het egter Saterdag ʼn groot wending in die verhaal bekend gemaak.

Die polisie het op ʼn wenk gereageer en ʼn voertuig Saterdag in die vroeë oggendure by die Mariannhill-tolplaza (naby Pinetown) voorgekeer. Die baba is ongedeerd in die voertuig gevind. Drie verdagtes, die kind se ma, haar minnaar en nog ʼn vrou, was in die motor en is in hegtenis geneem.

Dit blyk dat die hele voorval beplan was. Die motief vir die voorval word ondersoek.

Die polisie het die voorval ten sterkste veroordeel omdat baie van die polisie se hulpbronne onnodig gebruik is.

Die baba is tans in maatskaplike werkers se sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ME ·

Dit gaan interessant wees om te hoor wat die motief was. Ek voel baie jammer vir die 8-jarige boetie wat aan die trauma blootgestel was.

LMF ·

Ja badman R250 000 is dit ons tax geld of het haar man soveel geld shame dan is dit sekerlik nie eers sy kind nie en daarmee saam hoop ek sy sien nooit weer een van haar kinders nie

Cherokee ·

Die belonging is eers later uitgeloof. Hoe het hulle geweet ‘n beloning sal uitgeloof word.

Jaco ·

Wat ek nou nie lekke vestaan ni is die volgende. Is die boyfriend die kind se pa of is dit n man voor die boyfriend se kind.

Johan ·

GOEIE vraag Jaco, maar ek dink jy is nou by ‘n spagetti-junction…

Alida ·

Kom ons wag vir die DNA. Lyk of die ma ook nie weet nie. Om in duwweltjies te trap maak n ou maar deurmekaar.

Jaco Grobler ·

En so stomp hulle die nasie af vir die volgende soortgelyke voorval, wat sekerlik kort voor lank gaan plaasvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.