Baba se gesin soek nou self lewerskenker

Christian Prinsloo by sy ma, Chané. (Foto: Verskaf)

Die hoop dat Chané Prinsloo (18) ʼn gedeelte van haar lewer aan haar drie maande oue babaseun, Christian, kan skenk, blyk aan skerwe te wees.

Volgens inligting wat die gesin van die Donald Gordon-spesialishospitaal in Johannesburg ontvang het, sal Prinsloo eers sowat 30 kg moet verloor voordat sy as ʼn geskikte skenker in aanmerking kan kom. Die familie spook nou om self skenkers in die hande te probeer kry, ten einde die proses te versnel.

Intussen, sê Kobie Pretorius, word sy agterkleinkind al hoe sieker.

Maroela Media het vroeër berig dat Christian met ’n ernstige lewerdefek gebore is en dringend ’n leweroorplanting benodig.

Christian is sonder dreineringspypies in sy lewer gebore, met die gevolg dat gifstowwe in die lewer opbou. Die lewer bly ook voortdurend swel aangesien niks kan dreineer nie.

Die operasie wat hy op 26 Julie in die Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad ondergaan het om sy lewer te probeer dreineer, was onsuksesvol.

Die gesin se mediese fonds is uitgeput en Christian is van Kaapstad met ’n lugambulans na die Universitas-akademiese hospitaal in Bloemfontein geneem, aangesien dokters niks meer vir hom kon doen nie.

Die drie maande oue Christian Prinsloo is sonder dreineringspypies in sy lewer gebore en benodig dringend ʼn leweroorplanting. (Foto: Verskaf)

Dokters het die gesin meegedeel dat hy dringend by die Donald Gordon-hospitaal sal moet uitkom, maar hy is egter nog nie op dié hospitaal se waglys geplaas nie. Boonop kan só ’n operasie tussen R1 miljoen en R2 miljoen kos – geld wat die gesin nie in dié stadium het nie.

“Ons kon nog nie daarin slaag om hom by die Charlotte Maxeke-staatshospitaal, waar dokters van Donald Gordon ook soms pasiënte behandel, opgeneem te kry nie. Hy was veronderstel om in die staatshospitaal te bly tot dat hy daarheen oorgeplaas kan word, maar ons het besluit om hom te gaan haal.

“Die sorg wat hy by dié hospitaal ontvang het, was skrikwekkend. Hy sou doodgaan as ons hom daar gelaat het.

Volgens Pretorius probeer Christian se oupa tans om sy mediese fonds op te gradeer sodat Christian weer in ’n private hospitaal opgeneem kan word.

Intussen soek die gesin sélf na ’n geskikte skenker aangesien Prinsloo eers ’n liggaamsmassa-indeks (LMI) van onder 30 moet hê voordat sy as skenker kan kwalifiseer.

Die drie maande oue Christian Prinsloo. (Foto: Verskaf)

“Ons werk daaraan om haar gewig af te kry, maar het intussen vorms en vraelyste by die Donald Gordon-hospitaal aangevra en aan potensiële skenkers gestuur. Ons het drie moontlike skenkers opgespoor en die inligting aan die hospitaal deurgestuur. Dis maar ʼn lang proses.

“Volgens inligting wat ons ontvang het wag daar reeds drie kinders in die Universitas-hospitaal op nuwe lewers.

“Christian sal moontlik eers ná hulle op die lys geplaas kan word en dié kinders wag al vier maande. Daarom probeer ons intussen self ’n skenker opspoor sodat ons die proses kan versnel.”

Die gesin is egter steeds bekommerd oor die onkoste van die operasie sou hulle wél daarin slaag om self ’n skenker op te spoor.

“Die Back a Buddy-fonds wat vir Christian gestig is, is nou sowat R51 000 sterk. Hoewel ons die bydrae geweldig baie waardeer is ons uiters bekommerd dat ons nie die teikenmerk (meer as R1 miljoen) gaan kan haal nie.”

Die gesin het ook talle ander mediese rekeninge wat betaal moet word en het reeds lenings aangegaan om dié uitgawes te probeer dek.

“Ons is fisiek en emosioneel uitgeput, maar ons bly op die Here hoop. Ons bid vir vertroosting, krag en vir volkome genesing vir Christian.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sê maar net ·

Ek sal bid vir Christian en vir julle geldsake. Hou vas aan God. Hy sal julle nie teleurstel nie. Xx

ES ·

MM, hoe kan mens met die ouers in aanraking kom om te bepaal of jy dalk ‘n gepaste skenker kan wees?

Sune van Heerden ·

Dagsê ES

Dankie vir jou navraag. Ek stuur dit graag deur aan die redaksie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Vlooitjie ·

Ek spreek dit uit en glo en vertrou hier sal ook ‘n wonderwerk gebeur. Baie sterkte aan die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.