Baba se liggaam in drein gevind

Argieffoto: Kent Williamson

Die liggaam van ʼn babaseuntjie is Dinsdag in ʼn drein in Eersterivier gevind.

Dít volg nadat die polisie sedert einde Maart onverpoos na die eenjarige Orderick Lucas gesoek het wat nie ver hiervandaan op 24 Maart van sy ouerhuis in Kleinvlei in Kuilsrivier, Wes-Kaap, verdwyn het.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn moorddossier is oopgemaak nadat die polisie die liggaam gistermiddag opgespoor het.

Traut het te midde van berigte dat die liggaam dié van Lucas is, gesê dit is in dié stadium te vroeg om te bespiegel of dit wel die geval is.

Lucas se ma, Davideen Lucas, het die babaseuntjie verlede maand vier dae ná sy verdwyning by die plaaslike polisiestasie as vermis aangemeld. Lucas het ten tyde van sy ontvoering ʼn wit hemp, rooi broek en grys baadjie aangehad.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Woensdag aan Maroela Media verduidelik dat Mervin Volkwyn Dinsdag in die Blue Downs-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn het op aanklagte van ontvoering en regsverydeling in verband met Lucas se verdwyning.

“Nóg ʼn man was veronderstel om in die hof te verskyn, maar die saak teen hom is intussen laat vaar omdat hy nie [met die ontvoering] verbind kon word nie,” het Ntabazalila gesê.

Twee vroue is ook aanvanklik in verband met die kind se verdwyning in hegtenis geneem. Dié vroue sou vandeesweek in die hof verskyn, maar die saak is egter nooit op die hofrol geplaas nie aangesien daar uitstaande inligting in die dossier was. Die NVG het die dossier aan die polisie teruggegee waarna die hof die saak in ʼn latere stadium sal heroorweeg wanneer dié inligting bekom kan word, het Ntabazalila verduidelik.

Ntabazalila kon nie meer inligting rakende die vroue verskaf nie aangesien hulle nog nie in die hof verskyn het nie.

Die saak teen Volkwyn is uitgestel tot 9 April wanneer hy aansoek sal doen om borgtog. Volkwyn bly tot dán in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Helena. ·

Hoekom lyk dit so asof die kindjie se dood nie regtig aandag geniet nie. Die ma kom nie eens agter die outjie is weg nie. In vier dae moet hy eet, bad en in sy bed slaap. Kan sy vry rondloop en miskien nog wegkom met sy dood? Dis baie onregverdig teenoor die kindjie.

SC ·

Ek stem, waar was die Ma die 4 dae en hoe kan n Ma eers na 4 dae so n klein kindjie (jou eie vlees en bloed) as vermis gaan aangee by die SAPD. Mens rapporteer dit dadelik aan SAPD. Ek hoop hul kla die Ma van die kindjie ook aan.

GM ·

Op die Pink ladies pamflet staan daar dat die ma nie kon onthou aan wie sy haar kind gegee het om op te pas nie. Wat sê mens daarop?

Mag sy kry wat haar toekom. Dis jammer dat onskuldige kinders moet boet vir dom ouers se foute.

Hoekom jou kind eers na 4 dae as vermis rapporteer? As jy weggaan, en jou kind by iemand los, bel jy mos om te hoor of hy/sy okay is. Dit klink nie of die ma die kind wou vind nie.

VanAfrika ·

Baba is een jaar oud en sy mis nie dat haar baba nie in die huis is vir bad, voeding en slaap nie. Hoe weet jy nie by wie jy jou kind gelos het nie? Nee tannie, jy moet n beter verskoning uit dink. Ek het my dagmoeders of oppassers sorgvuldig gekies en wou weet my kind is ten volle veilig.

Jean ·

Vier dae later eers as vermis aangegee..tragies !!! Hoe is enige ma nie die eerste uur of twee al bekommerd nie Dosier ingegee onvolledig? Onbevoegdheid,weet die polisie dan nie wat alles binne die dosier moet wees nie,hierdie is dan n onvoering en moord saak.G’n wonder dit gaan so beroerd in die land nie,dit klink eintlik soos n April joke!

Maggies ·

Drank of dwelms dalk? Ek is ‘n mamma van 4 volwasse kinders, ouma van 2 kleinkinders en ook mamma van 2 viervoetige kinders, op die oomblik in die hospitaal en ek is bitter bekommerd oor my Jack Russeltjies by die huis.
Hoe kan ‘n mamma vier dae wag voor sy haar baba seuntjie as vermis rapporteer? Ek ken die mense in die Kaap, het gesien hoe almal saam staan en géén steen onaangeraak laat in ‘n soektog na kindertjies nie. Hier is iets baie verdag…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.