Terwyl baba Archie Hein verlede jaar in die neonatale intensiewesorgeenheid (NICU) van ’n Johannesburgse hospitaal behandel is vir neonatale Marfan-sindroom, het sy ouers, Richard en Tiffini Hein, die een ná die ander boek aan hom voorgelees.
Ná baba Archie gesterf het, het sy ouers gevra dat geliefde boeke – pleks van blomme – ter herinnering aan die seuntjie gebring word.
Nou leef klein Archie se nalatenskap voort in verskeie Netcare-hospitale in wat bekend staan as “Archie’s Archives”, ’n inisiatief wat die Hein-egpaar te midde van hul eie verlies op die been gebring het om ander ouers, wie se babas en kleuters ook in die NICU behandel word, ʼn stapel boeke te gee sodat ook hulle vir hul eie siek kinders kan voorlees.
Archie’s Archives is ontwerp om die strengste higiënestandaarde te handhaaf en dien nie as ʼn gedeelde biblioteek nie, maar is eerder ʼn voorafverpakte, verseëlde bundel boeke om ouers aan te moedig om vir hul babas en kleuters te lees.
Baba Archie
Archie is op 16 Augustus verlede jaar op 37 weke gebore. Tiffini was in daardie stadium reeds die ma van vyf kinders – van wie twee die egpaar se biologiese kinders – en onthou dat sy reeds in die kraamsaal kon aanvoel dat iets fout is met klein Archie.
Archie is kort ná sy geboorte in die NICU opgeneem en neonatale Marfan-sindroom – ʼn sindroom wat die liggaam se bindweefsel aantas – is by hom gediagnoseer.
Op die negende dag is Archie na die Netcare Sunninghill-hospitaal, wat oor ’n pediatriese kardiotorakale intensiewesorgeenheid beskik, oorgeplaas. ’n CT-skandering het twee dae later ’n disseksie in Archie se aorta getoon.
“Niks meer kon gedoen word nie,” vertel Tiffini.
Richard en Tiffini kon in daardie stadium weens Archie se toestand nog glad nie hul pasgebore baba vashou nie en het die volgende twee dae lank langs sy hospitaalbedjie gehuil.
“Ons was in die greep van smart toe Richard sê ‘genoeg is genoeg’. Ons kon nie toelaat dat twee hartseer mense in ʼn hospitaal Archie se enigste ervaring van die wêreld is nie.”
En toe begin Richard en Tiffini vir Archie lees. “Ons kon deur die boeke in ons eie wêreldjie binne daardie waakeenheid instap, en dit het aan ons enorme vertroosting verskaf.”
Tiffini verduidelik dat hulle met behulp van die boeke ’n noue band met hul siek, pasgebore baba kon vorm.
“Dit was ʼn wonderlike bindingservaring en ʼn groot afleiding van die stressors rondom ons,” vertel sy.
Die Heins was met Archie se geboorte reeds pleegouers en stigters van die Maletsatsi-stigting en in daardie stadium het hulle al verskeie pasgebore babas met kardiale toestande versorg en babas ingeneem wat palliatiewe sorg nodig gehad het. Dié kinders het hulle tot aan die einde van hul kort lewens liefderik verpleeg.
“Dit is vreemd hoe dinge uitdraai,” vertel Tiffini nou. “Ons kon dit nooit geweet het nie, maar al daardie ervaring het ons voorberei op wat ons eendag saam met Archie sou deurmaak. Ons wou hom so gou moontlik huis toe neem en hom sy lewe, hoe lank of kort ook al, in vrede tussen sy familie laat uitleef.”
Nadat Richard en Tiffini vir klein Archie kon huis toe neem, het hulle aanhou om vir hom te lees.
“Dit was ʼn voortdurende bron van vertroosting en ʼn band tussen ons. Weke het verbygegaan en Archie het aangehou totdat hy uiteindelik, op die ouderdom van drie maande, gesterf het. Dit was heeltemal vreedsaam, asof die heelal vir ʼn oomblik stilgestaan het,” onthou Tiffini.
Die eerste Archie’s Archives het binne maande ná Archie se dood spesiale staanplek in die Netcare Sunninghill-hospitaal se neonatale waakeenheid en kardiotorakale eenheid gekry.
Vyf ander Netcare-hospitale het intussen ’n soortgelyke argief ontvang en nóg versoeke stroom in.
“Dit is ons grootste wens dat ons uit hierdie enorme verlies iets spesiaal kon skep vir die baie ander ouers wat met kleingoed in ʼn neonatale waakeenheid kop bo water probeer hou,” sê die Hein-egpaar.
Lees help sterk band vorm
Verena Bolton, ’n neonatale verpleegster en nasionale koördineerder van Netcare se Ncelisa-borsmelkbanke, sê Netcare het nie vir ’n oomblik gehuiwer om die Heins se voorstel van Archie’s Archives in die neonatale intensiewesorgeenhede en kardiotorakale intensiewesorgeenhede van die hospitale te implementeer nie.
Bolton weet al te goed dat ʼn NICU oorweldigend kan wees vir ouers wat nie hul baba kan versorg soos hulle normaalweg sou doen nie. Lees is egter ʼn kragtige manier om ʼn band met hul kind te vorm.
“Om vir hul baba te lees kan ouers ʼn doel in hierdie uitdagende tyd gee, terwyl dit vir babas gerusstellend is om hul ma en pa se stemme te hoor. Navorsing dui verder daarop dat babas – deur na hul ouers se stemme te luister – meer stabiele asemhaling en hartklop, asook beter voeding en groei toon,” verduidelik Bolton.
“Navorsing toon dat die klank van ʼn ouer se stem nie net baie gerusstellend vir ʼn baba is nie, maar enorme kognitiewe voordele inhou. Archie’s Archives is ’n tasbare manier om te verseker dat gesinne bemagtig word om by te dra tot die sorg wat hul babas ontvang terwyl hulle in die hospitaal opgeneem is.
“Om babas van taalvoeding te voorsien – wat in wese verwys na die voeding van ’n baba se groeiende brein deur taalblootstelling – word ook sterk geassosieer met beter neuro-ontwikkelingsuitkomste en toekomstige geletterdheid.
“Hoe vroeër ’n pasgebore baba aan lees blootgestel word, hoe groter die voordeel,” sê Bolton.