Baba se oorlewingstryd: ‘Wonderwerke gebeur voor ons oë’

Leah de Jager. Foto: Annelie Jonker Photography

Die volgende twee dae is deurslaggewend vir die vier maande oue Leah de Jager van Uitenhage wat tans om haar lewe veg in die neonatale waakeenheid van die Dora Nginza-hospitaal in Port Elizabeth.

Gerrit de Jager, Leah se pa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dit gaan in omstandighede goed met sy klein Lielie Muis, soos hy haar noem, hoewel sy steeds nie buite gevaar is nie.

“Leah se infeksietelling is af, wat ongelooflik is vir iemand sonder ʼn immuunstelsel. ʼn Virale infeksie kan nie met antibiotika behandel word nie, jou immuunstelsel moet self die virus uitwerk. En Leah se infeksietelling is af, wat beteken God is reeds besig om die virus uit te werk. Wonderwerke is voor ons oë aan’t gebeur,” sê hy.

Maroela Media het vroeër berig Leah is begin vandeesmaand met ernstige gekombineerde immuungebrek (SCID) gediagnoseer, wat beteken dat sy wesenlik geen immuunstelsel het nie en haar liggaam dus geen vermoë het om teen infeksies, bakterieë en kieme te baklei nie. Nadat sy konvulsies begin kry het, het toetse getoon dat sy basale enkefalitis het wat breinvliesontsteking in die middel van die brein is.

Gerrit en sy vrou, Lezaan, het kort daarna die slegte nuus gekry dat twee van die hoofare in Leah se brein geblokkeer is wat daarop dui dat sy breinskade opgedoen het. Die omvang van die breinskade en hoe dit haar gaan raak, kon egter nog nie vasgestel word nie aangesien Leah onder verdowing gehou word.

“Leah het nog nie weer konvulsies begin kry nie wat ʼn baie goeie teken is. Hulle begin nou stelselmatig haar epilepsiemedikasie verminder en wil die verdowingsmedikasie teen môre heeltemal staak en haar sodoende kans gee om wakker te word,” sê hy. “Sodra sy begin wakker word, sal ons kan kyk hoe sy reageer en hoe die breinskade haar raak. So, die volgende twee dae is deurslaggewend.”

Leah de Jager by haar ouers, Lezaan en Gerrit. Foto: Annelie Jonker Photography

Daar is vir hom en Lizaan gesê dat Leah se ontwikkeling weens die breinskade vermoedelik vertraag sal wees in vergelyking met ander kinders van haar ouderdom. “Ons sê net julle kan glo wat julle wil en ons sal glo wat ons wil. Die Here het al klaar oor en oor bewys hoe wonderwerke gebeur en ons glo Hy sal hier ook weer Sy krag bewys.”

Hoewel Leah se infeksietelling laer is as voorheen, beteken dit nog nie die infeksie is onder beheer nie. “Vir iemand met SCID kan jy nooit sê die infeksie is onder beheer nie, want vandag is sy perfek en môre skiet die infeksietelling weer op. Maar vir eers is die virus besig om uit te werk, so ons klim hierdie berg tree vir tree.”

Gerrit sê hoewel dit baie moeilik is om elke dag hul babadogtertjie so te sien en haar nie te kan vashou en vertroetel nie, dra die ondersteuning van mense oor die hele Suid-Afrika hulle. “Ons mag by haar kom, maar ons probeer maar ʼn entjie weg van haar af staan as ons vir haar bid en Bybel lees. Ons probeer ons aanraking met haar minimaal hou. Ons kan haar glad nie soen of oor haar hang of so nie, maar ons mag darem vinnig haar handjie vryf en net bietjie by haar wees.”

Indien Leah die infeksie kan oorwin en haar toestand stabiliseer, sal sy na die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad oorgeplaas word waar sy ʼn beenmurgoorplanting moet ondergaan. Weens die SCID is ʼn beenmurgoorplanting haar enigste hoop op ʼn normale lewe.

Oor die ondersteuning wat die ouerpaar vanaf ander kry, kan Gerrit nie genoeg dankie sê nie. “Ons is nie self betrokke by enige geldinsameling of sodanige projekte nie – ons vriende het besluit dit is iets wat hulle wil doen – maar ons sien hoeveel hande daar is en hoeveel mense hul harte oopmaak. Dit is amazing. Daar is selfs van ons vriende wat onmiddellik gegaan het om as beenmurgskenkers te registreer sodat hulle moontlik ʼn skenker vir Leah kan wees. Die ondersteuning is ongelooflik. God is groot.”

Besoek die Lielie Muis Fondsinsameling Facebook-blad vir meer inligting oor die Familiedag wat op 18 November ten bate van klein Leah gehou word, asook ander maniere waarop die gesin bygestaan kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Arno ·

Lezaan, Gerrit en Leah, ons bid daagliks vir julle. Bly glo in God se wonderwerke.
Julle is pragtig.

Essie ·

Pragtig klein asempie.Vertrou God by Hom is niks onmoontlik nie.

Gesiggie ·

Dit breek my hart, om na die Engel kind te kyk en te dink dat sy deur al die eina moet gaan…. Jesus neem asb vir Leah in U arms raak haar klein lyfie aan en maak haar gesond in Jesus Naam…. sterkte aan Mamma en Pappa wat ook saam klein Leah deur al die pyn moet gaan.. klou vas aan jul geloof en Weet… By God is als moontlik. Kan nie wag om te lees van die wonderwerk in hierdie Engel kind se lewe, mag Mamma en Pappa die getuienis lewer van wat gaan gebeur. AMEN

Marianne Lotter ·

Eks mal oor my stad Port Elizabeth en ook LUISTER!FM 90.6 waar Gertjie n omroeper is. Die ope arms en beursies getuig van ons vriendelike stad. Ons glo in wonderwerke!

Al ·

Met soveel geloof in God sal wonderwerke bly gebeur.
Inderdaad is God groot en sy genade fantasties.
Sy tyd is nie ons tyd nie, en dinge sal op Sy tyd gebeur.
Mag alle seëninge op jul rus.

Eurika ·

Lezaan en Gerrit.. Dis reg. Hou vas en kyk op na Bo.. Dis waar ons hulp vandaan kom. Ek bid die Here se wonderlike krag, genade, liefde en genesing vir klein Leah. Sterk staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.