Baba sonder immuunstelsel: ‘Nou wag ons op die Here’

Leah de Jager. Foto: Annelie Jonker Photography

Die vier maande oue Leah de Jager van Uitenhage in die Oos-Kaap se dokters krap steeds kop oor die geskikste behandeling vir dié babadogtertjie wat weens ʼn skaars mediese toestand geen immuunstelsel het nie.

“Niemand kan sê hoe vorentoe nie. Dis so moeilik,” het Gerrit de Jager, Leah se pa, Woensdag aan Maroela Media gesê. “Niemand kan iets vir haar doen nie. Met elke behandeling wag haar dokters maar nes ons om te kyk wat gebeur.”

Klein Leah veg tans om haar lewe in die neonatale waakeenheid van die Dora Nginza-hospitaal in Port Elizabeth nadat sy begin vandeesmaand met ernstige gekombineerde immuungebrek (SCID) gediagnoseer is. Dit beteken dat sy in effek geen immuunstelsel het nie en haar liggaam dus geen vermoë het om teen infeksies, bakterieë en kieme te baklei nie.

“Die normale telling wat sy moet hê wanneer hulle die immuunstelsel toets, is tussen 1 800 en 4 500. Leah se telling is vier,” het Gerrit voorheen verduidelik. “Basies het sy dit van geboorte af gehad, maar ons het dit nooit geweet nie, omdat sy nog nooit daarvoor getoets is nie.”

Gerrit vertel dat dokters sy klein Lielie Muis, soos hy haar noem, maar voorkomend behandel vir enige infeksies of siektes wat sy moontlik kan opdoen en nie teen kan veg nie weens haar gebrek aan immuniteit. Sy is ook ná haar opname in die hospitaal onder verdowing gesit en aan ’n ventilor gekoppel aangesien sy nie mag beweeg wanneer sy aan ’n ventilator gekoppel is nie. Gerrit verduidelik dat die verdowing ook gehelp het met haar angstigheid en dat haar medikasie sodoende meer doeltreffend werk.

Leah de Jager. Foto: Annelie Jonker Photography

Gerrit sê dat Leah egter al ’n geruime tyd stadig maar seker uit dié verdowing gebring word. “Aangesien haar lyfie so klein is, moet hulle haar soos met al haar ander medikasie, stadig van alles speen.”

Dit is in die stadium steeds onduidelik of sy breinskade opgedoen het, omdat dit eers vasgestel kan word wanneer sy heeltemal wakker is. “Ons wag vir haar om wakker te word en om dan te sien hoé wakker sy is. Dis ’n verskriklike wagperiode,” sê Gerrit.

Leah is vroeër van die ventilator afgehaal, maar dit moes weer teruggesit word omdat haar lugweg nie self kan oopbly nie. “Dit is moeilik om te sê hoekom. Miskien het haar lugweg seergekry toe sy op die ventilator was, miskien het sy lui geraak met die pypie of miskien beteken dit sy het wel breinskade opgedoen,” verduidelik Gerrit.

Vir nou fokus dokters daarop dat Leah se infeksie moet opklaar. Dit is genadiglik wel besig om te gebeur. Sy het egter steeds swelling op die brein en die infeksie is in haar longe.

“Ons bid en ons hou vas aan die Here. Ons moet, dis al wat ons het. Tot nou het die medici alles gedoen wat hulle kon, nou wag ons op die Here,” vertel Gerrit.

Hy vertel dat dit moeilik is om te verduidelik hoe dit met hul as ouers gaan sedert die begin van Oktober toe hul babadogtertjie gediagnoseer is. “Dit voel soos ’n nagmerrie. Dit is emosioneel baie uitputtend. Ons rus nooit nie en sluit nooit af. Ek wens dit vir niemand toe nie.”

Hy sê dat hy en sy vrou op mekaar in dié moeilike tyd steun. “Die dag wat ek swak is, is my vrou sterk.”

’n Vooruistig van huis toe gaan wag vir baba Leah wanneer haar infeksie eindelik opklaar. Gerrit verduidelik dat hierdie tipe kinders glo baie goed by die huis doen. Daarna sal sy na die Rooikruiskinderhospitaal in Kaapstad oorgeplaas word waar sy ʼn beenmurgoorplanting moet ondergaan. Weens die SCID is ʼn beenmurgoorplanting haar enigste hoop op ʼn normale lewe.

Leah de Jager by haar ouers, Lezaan en Gerrit. Foto: Annelie Jonker Photography

“Alles sal regstaan vir haar rit Kaap toe. ’n Helikopter sal regstaan om haar soontoe te vlieg asook al die papierwerk. Vir nou wag ons vir haar om deur te druk. Alles gebeur in die Here se tyd.”

Gerrit is ’n radio-omroeper in die Baai en vertel dat hul gesin ongelooflik baie ondersteuning, selfs vanuit die buiteland, ontvang. “Die ondersteuning wat ons ontvang is fenominaal.”

’n Familiedag sal op 18 November as geldinsameling vir Leah gehou word nadat vriende en familie, asook heelwat Suid-Afrikaanse kunstenaars hande gevat het om die gesin finansieel by te staan.

Besoek die Lielie Muis Fondsinsameling Facebook-blad vir meer inligting oor die Familiedag, asook ander maniere waarop die gesin bygestaan kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

GM ·

Ek bid saam jul vir die vinnige herstel van jul mooie prinses.

Lizelle Gibson ·

Ons dien n groot God, niks is by hom onmoontlik nie. Baie sterkte

Al ·

Ek bid vir wysheid en insig vd dokters hoe om die siekte te behandel.
My gebede is met die gesin en waar hoop en geloof is, is daar lewe.

Gert ·

Ek ken die een wat kan help. Hy het nog nooit een pasient gefaal nie. Hy is getrou, altyd beskikbaar, nooit te besig nie en betyds met die regte antwoord. Sy Naam is Yeshua. Hy is die Koning van die heelal en ook die Skepper van julle kleinding. Hy weet wat julle meemaak. Vertrou Hom Hy weet die beste vir die kleinding. Hy kan genees. Le kleinding aan Sy voete neer in gebed en vertrou Hom sonder enige twyfel. Dokters kan nie genees nie. Alleen Yeshua. Deur Sy wonde het daar genesing vir die ganse mensdom gekom. Dit hang af GLO JY YESHUA KAN? GLO JY DAT HY JOU REDDER IS? Hy genees, ek kan getuig daarvan. Waar dit vir dokters onmoontlik is, KAN HY. Laat jou geloof in Yeshua sigbaar raak. God seen julle. BID VIR JULLE. STERKTE.

Bid ·

Moet net nie opgee nie.
Hou vas aan onse God.
Sit haar in Sy grote hande.
Ons bid vir julle…

Hallelujah ·

My Here onse God ek dra hierdie familie op na U grote hande toe. Ek weet met my dogter was U sterker gewees as die dokters – U het die besluite gemaak. Ek dank U daarvoor my Here en ek weet dat U met Leah dieselfde besluite sal maak. U is die dokter my God U is.

Ballon ·

Sterkte julle! Jate terug was my kleinding baie siek en gereeld inni hospitaal of op antibiotica omdat sy nie infeksies en viruse kon veg nie. Die Here het in n droom vir my gewys haar yster is te laag. Ons het haar yster laat toets en sy het amper geen yster gehad nie. Partykeer is dit net dai klein ietsie wat mis gekyk word. Ek hoop dat die Here ook vir julle sal wys.

jennefer ·

Kry vir haar borsmelk , indien moontlik n paar dae biesmelk. Daar is altyd mammas wat bereid is om te deel.

OumaLien ·

Mag die Liewe Heer se krag en genade julle sterk maak en dra deur hierdie moeilike tyd. Niks is ontmoontlik by Hom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.