Baba sterf by kleuterskool: Lykskouing afgehandel

Argieffoto

Die lykskouing van ʼn vier maande oue babaseuntjie wat Dinsdagmiddag by ʼn kleuterskool aan die Oos-Rand dood is, is afgehandel. Sy dood bly egter steeds ʼn raaisel.

Jan Rabie, die baba se oupa, het Vrydag aan Maroela Media gesê die gesin gaan op grond van regsadvies in dié stadium geen kommentaar oor sy kleinseun se dood lewer nie, totdat hulle met die kleuterskool, The Cow Jumped Over The Moon, se bestuur vergader het.

“Ons gaan vandag (Vrydag) of Maandag met die kleuterskool vergader, waarna ons advokaat ʼn mediaverklaring oor die voorval sal uitreik. Nou fokus ons eers om die seer te verwerk en die begrafnisreëlings te tref,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig die seuntjie is Dinsdagmiddag by die kleuterskool in Rynfield, Benoni, deur paramedici dood verklaar. Geen verdere besonderhede oor sy dood is bekend gemaak nie.

Kapt. Nomsa Sekele, polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media bevestig die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek om die oorsaak van sy dood vas te stel. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Sy het Vrydag aan Maroela Media gesê die nadoodse ondersoek is afgehandel, maar die polisie kan egter nog nie kommentaar daaroor lewer alvorens die amptelike verslag gereed is nie. Dit kan tot twee weke duur.

Christie Fourie, hoof en eienares van die kleuterskool, het Woensdag aan Maroela Media gesê die kleuterskool kan ook nog nie kommentaar lewer nie. Die kleuterskool sal egter ʼn mediaverklaring uitreik sodra hulle kan.

Volgens die kleuterskool se webwerf bestaan die skool al sedert 2000.

“Ons is ʼn gevestigde skool met opgeleide onderwyspersoneel en ʼn verpleegster in die babasentrum. Die omgewing is ʼn liefdevolle huis weg van die huis af. Sekuriteitskameras verseker ʼn goed gemoniteerde veilige omgewing vir jou kosbare kinders,” lui ʼn inskrywing op die webwerf.

Die skool sien om na pasgebore babas en kinders tot ses jaar oud. Die opgeleide kleuterskoolpersoneel is ook toegerus met noodhulpkennis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

honourable member ·

Dis baie hartseer. Ek hoop hier kom antwoorde .

So ongelooflik hartseer ·

Dit is net soooo ongelooflik hartseer. Sterkte aan hierdie gesin en familie.

Die moeilikste!! ·

Dit is vreeslik!! Om ‘n geliefde so te verloor is die ergste!! Ek het my neef ook nou onlangs verloor. Ek voel die gesin en familie se pyn. My hart gaan uit na julle.

Hartseer ·

Ek is weer terug geroep na die afsterwe van my kleinkind by die kleuterskool hier in Sasolburg in 2014. Nadoodse ondersoek is gedoen en my babatjie se dood was verniet want niemand het aan die pen gery nie of by die kleuterskool verantwoordelikheid aanvaar nie. alhoewel dit duidelik was wat gebeur het. Die staat het die saak uitgegooi. Mag God die familie onderskraag en hul deur die hel dra. Verlange….

Skokkend ·

Dit is verskriklik. Ek gee nie om wie gooi my met klippe nie maar die TOESIG by die kleuterskole laat VEEL TE WENSE na, en ja ek kan van drie kleuterskole praat waarin my kind was .. Ek glo daar is ander wat nie so is nie, maar daar is kort kort ‘n insident by ‘n kleuterskool en dan word dit net onder die mat in gevee en gaan hulle voort om geld te maak uit ouers wat dink hulle kinders is veilig by kleuterskole. Die ondersoek word so ligweg gedoen en daar word net gekyk of daar in die basiese behoeftes voorsien word en whalla . hulle word onskuldig bevind . en jy sit met die groot verlies .. Gelukkig slaap God nie.

DS ·

Volgens ‘n vorige Maroela berig was die baba siek toe hy by die kleuterskool afgelaai is die oggend. Mammas asseblief as jou kind siek is vat siekverlof/familieverantwoordelikheidsverlof en sien self na jou kleinding om totdat hy gesond is. Geen werk is jou kind se lewe werd nie en siek kinders steek die ander kinders aan

Vra maar net ·

DS ek het die vorige maroela artikel gelees en daar HET NIE gestaan dat die baba siek by die kleuterskool afgelaai is NIE.

GM ·

Hartseer, mag ek vra wat die oorsaak was? (As dit nie ‘n te persoonlike vraag is nie). My ouers woon in Sasolburg, daarom die belangstelling in die skole daar rond.

Stella ·

Wel,,,iemand het iets verkeerd gedoen,die ouers,wat as die kind siek was toe hy/sy afgelaai was of personeel wat”goed opgelei”is om Na kinders om te sien wat betaal word?

Gesiggie ·

Die ouers het baie seer om te verwerk.. so kom ons los al die vrae, todat ons die Finale oorsaak vanaf hul self kan hoor… kom ons Bid eerder vir hul, om so n klein baba te verloor is baie hartseer… sterkte aan die ouers, en aan die skool, mag daar antwoorde wees, en berusting

NV ·

Ek hoop van harte die sekuriteitskamera’s se “footage” kan antwoorde bring…. dis natuurlik AS dit in werking was…

GM ·

MM, as ek die ‘antwoord’ knoppie druk, dan staan daar altyd ‘kanselleer antwoord’, alhoewel daar toegelaat word dat ek my besonderhede, en so ook die kommentaar gedeelte invul. Die kommentaar verskyn dan net glad nie. Kommentaar wat ek op ‘n nuwe ‘blad’ lewer, verskyn wel. Dit is al vir maande lank so. Is dit selfone wat geaffekteer word, of net spesifiekes?

Sune van Heerden ·

Dagsê GM

Stuur asseblief vir ons ‘n e-pos met die besonderhede aan [email protected] dan kan die tegniese span verder ondersoek instel.

Dankie!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

JSG ·

Het dit ook al ‘n paar keer ondervind in die afgelope 3 dae.

DS ·

Jammer my fout was nie Maroela maar ander nuuswebwerf wat dit berig het. My innige meegevoel aan die ouers ongeag dit bly die seerste seer om ‘n kind aan die dood af te staan.

Peet ·

Alle simpatie met die famielie mense asb wag tot na die ondersoek afgehandel is voordat aantygings gemaak word.

Nicolette ·

Jammer om te hoor oor jul verlies. Mag God berusting en genade bring aan die hele familie.

Alma ·

Dalk wiegiedood…. Geen verklaring daarvoor en niemand kan regtig verantwoordelik gehou word nie.

Ria ·

Ek het ook daardie berig gelees. Ek stem tot ‘n mate saam jou, maar ongelukkig is die druk in die samelewing erg. Dit bly hartseeer, maar ek hoop tog indien die kleuterskool onskuldig is dat dit bewys sal word want almal wys nou vingers na die kleuterskool.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.