Baba sterf by kleuterskool

Argieffoto

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek nadat ʼn vier maande oue babaseuntjie Dinsdagmiddag by ʼn kleuterskool aan die Oos-Rand dood is.

Kapt. Nomsa Sekele, polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media bevestig die voorval het by ʼn kleuterskool in Rynfield, Benoni, plaasgevind.

“Dit is in dié stadium glad nie bekend hoe die baba dood is nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van sy dood vas te stel,” het Sekele gesê.

“Al wat ons tans kan bevestig, is dat die seuntjie omstreeks 12:00 deur paramedici by die kleuterskool dood verklaar is. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen en niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Sekele het gesê dit kan tot twee weke duur voordat die uitslae van die nadoodse ondersoek bekend is.

Christie Fourie, hoof en eienares van die kleuterskool The Cow Jumped Over The Moon, het Woensdag aan Maroela Media gesê die kleuterskool kan nie in dié stadium kommentaar oor die voorval lewer alvorens die nadoodse ondersoek voltooi is nie.

Fourie het gesê die kleuterskool sal ʼn mediaverklaring uitreik sodra die uitslae bekend is.

Volgens die kleuterskool se webwerf bestaan die skool al sedert 2000.

“Ons is ʼn gevestigde skool met opgeleide onderwyspersoneel en ʼn verpleegster in die babasentrum. Die omgewing is ʼn liefdevolle huis weg van die huis af. Sekuriteitskameras verseker ʼn goed gemoniteerde veilige omgewing vir jou kosbare kinders,” lui ʼn inskrywing op die webwerf.

Die skool sien om na pasgebore babas en kinders tot ses jaar oud. Die opgeleide kleuterskoolpersoneel is ook toegerus met noodhulpkennis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

GM ·

‘n Ouer se grootste vrees! Die lewe word so duur, min ouers kan nog bekostig om net op een salaris te oorleef. Ek is so dankbaar dat ek die geleentheid het om my kinders self te sien grootword. Dis nie altyd maklik nie, mens se geloof word maar dikwels getoets, maar ek glo ons sal eendag die vrugte pluk van ons besluite van nou. Ek wens alle ouers kon hul baba’s self versorg het, of díe wat wil in elk geval. Baie werk maar net by kleuterskole omdat hul moet, nie altyd oor die liefde vir kinders nie. Ek hoop nie dat nalatigheid ‘n rol gespeel het in díe geval nie. Die ouers gaan hulself vir altyd blameer, ongeag die oorsaak. Rus in vrede kleintjie, en sterkte aan sy naasbestaandes.

AP ·

Ai dit is so hartseer, nog maar slegs 4 maandjies oud, en op die stadium kom “wiegie sterftes” ook nog voor. Sterkte aan die ouers.

Magda ·

Baie snaaks dat hul geen detail wil gee rondom die baba se dood op die stadium nie – hul kon tog gaan kyk het op die kameras wat gebeur het – het die baba geslaap…was hy / sy wakker…Dis baie weird!
My dogtertjie was in ‘n kleuterskool in Boksburg – Khulani Pre-Primary in 2015 (sy was 11 maande oud) en was mishandel – hard op die bors geklap – potblou kolle en selfs die handmerk was nog daar toe ek haar die aand uitgetrek het – ek het dadelik n saak gemaak – hospitaal toe – die hele katoetie (gelukkig was haar ribbetjies nie gekraak nie), maar die hof het die saak uitgegooi omdat daar nie genoegsame bewyse was nie – AL HET DIE HELPER ERKEN WAT SY GEDOEN HET AAN ONS. (Sy het slegs n skriftelike waarskuwing gekry en is kombuis toe geskuif!) Verbeel jou en die eienaar destyds my gesmeek om nie koerante toe te gaan nie.
Wat ‘n wrede wereld. As ons babas vroeg kon praat dink ek ons sou rillings kry oor wat aan die gang is by kleuterskole.
GEEN KLEUTERSKOOL VIR EEN VAN MY KINDERS OOIT WEER NIE!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Pateties ·

EK OORDEEL nou, maar ek moet eerlik se, my kind was ook in ‘n kleuterskool (eintlik in ‘n paar) en nerens is daar ‘n goeie een nie (alhoewel baie mammas so dink want hulle het nie ‘n keuse nie). HULLE KYK NIE NA JOU KINDERS NIE. Hoeveel gevalle was daar in die laaste tyd, kinders wat in hulle melk verstik, kinders wat geslaan word, kinders wat in die winter met ‘n tuinslang met koue water afgespuit word, kinders wat onverklaarbare bloukolle en merke aan hulle het? AGNEEWAT .. dit gaan oor die GELD, passie vir kinders sien jy selde. EN MOENIE Jouself flous nie .. dit gaan oral so .. EK voel baie jammer vir die ouers . want ek weet ek het elke dag gewonder of my kind lewendig daar gaan uitkom . ek moes egter werk .. het geen ander keuse gehad nie, maar die KLEUTERSKOLE weet dit . so hulle maak wat hulle wil met die kinders en die kinders kan nie praat nie.

Andrea ·

Ek stem 100% met jou saam . My kinders was ook in kleuterskole. En as daar nie fisiese mishandeling of verwaarlosing is nie, is dit emosionele mishandeling wat plaasvind. Ek wens alle ma’s kon tuisbly en hul kinders, veral babas en kleuters onder driejaar, self grootmaak. Ek sal myself nie vergeef vir die skade wat my kinders opgedoen het nie.

Annalie ·

Ek dink dit is baie onverantwoordelik om te veralgemeen. Ek was baie bevoorrerg om ‘n wonderlike kleuterskool te ontdek met ‘n fantastiese hoof en wonderlike personeel. My kind is vandag ‘n goedaangepaste jong dame danksy hul wonderlike onderrig en invloed. So bly ek het hulle gehad om na haar om te sien toe ek moes werk.

Annie ·

Sjoee, dit is darem baie verkeerd om so te veralgemeen! Kom ek vertel julle, nie alle Kleuterskole is dieselfde nie, en ek praat uit jare se ondervinding, as ma en eienares van ñ skooltjie, my enigste seuntjie in ñ motorongeluk verloor, vandag besluit om ñ skooltjie te begin ter nagedagtenis van Nathan. By ons skooltjie tell elke kindjie en ouer. Hier is ons passie die kinders en ons ouers. Nog geen ongelukkig ouers of kinders gehad nie. Die Here se genade oor ons skooltjie is elke dag GROOT.

Braam ·

Ek stem 100% saam Annie, my kleintjie is in die wonderlikste kleuterskool, as ouers is ons baie betrokke, en so ook die ander ouers. Kan nie gelukkiger wees nie, kleinding geniet dit net so baie en is so lief vir almal daar.

GM ·

Sterkte met jou skooltjie Annie. Jammer oor jou verlies! As dit op MM toegelaat word, moet jy dalk noem waar jou skooltjie geleë is. Baie kleuterskole word as besighede bedryf, en nie uit liefde vir kinders nie. Ek glo jy sal sorg dat daar mooi na ander se kinders gekyk word juis vanweë jou groot verlies. Mag jy geseën word!

Gesiggie ·

My hart sal dit nie maak, ? hoe is so iets moontlik, het die baba dalk versmoor… soveel vrae, my hart gaan uit na die ouers van die piep klein engel baba… hoe verwerk n mens so iets, jy los jou kind in bekwame hande, jy verwag nooit dat so iets by n kleuterskool sal gebeur, ek kan net dink hoe die kleuterskool Hoof moet voel asook die oppasser wat na die baba omgesien het…sterkte aan die ouers wat deur al die pyn en seer moet gaan, mag jul vrae gou beantwoord word…. al wat ek kan noem is dat party kleuterskole meskien nie altyd die gepaste onderwysers het? ek het dit al gesien met my eie kleinkind, Ek hoop regtig nie dit is weens nalatigheid? RIP klein baba seuntjie…

Nie almal nie ·

Nie alle skole gaan oor geld nie. Ekt na my kind se skool gegaan en gesê ek haal hom uit omdat ek dit nie meer kon bekostig nie, hy sal by sy boetie by die nanny / huishulp moet bly. En hulle het gesê daar is nie ‘n manier nie, hy bly in die skool. Verniet. Hulle is baie goed vir ons. En voor party mense nou oordeel… My jongste kind is premature gebore en kry gereeld, dws letterlik elke 2 maande mangelontsteking, so ek kan hom nie in ‘n skool sit nie. ‘n familie lid betaal vir die huishulp om na hom te kyk, want ons kan haar ook nie self bekostig nie. Daar is goeie skole daar buite. My kind is daar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.