Baba sterf in botsing; ma se herstelpad nog duister

Shanei en Reanei (Foto: Verskaf)

Familie en vriende van Shanei Norris, die 23-jarige ma van Vereeniging in Gauteng wie se een jaar oue babadogtertjie verlede maand in ʼn botsing dood is, wag vir duidelikheid oor haar mediese toestand voordat hulle haar van haar baba se dood sal vertel.

Noelene van Blerk, ʼn vriendin van Norris, het Sondag aan Maroela Media gesê dit gaan onder omstandighede goed met Norris waar sy steeds in ʼn Gautengse staatshospitaal behandel word, maar dat haar herstelpad vorentoe nog baie onseker is.

“Die staatshospitaal waar sy behandel word, is baie streng oor besoektye en ons word geensins buite hierdie tye by haar toegelaat nie. In daardie tye is die dokters natuurlik nie by die pasiënte nie om die familie en vriende geleentheid te gee om tyd met hul geliefdes deur te bring. Dit het ongelukkig tot gevolg dat ons nooit die dokters sien nie en dit maak dit vir ons baie moeilik om met hulle te praat en ʼn duidelike uiteensetting van Shanei se toestand en ʼn prognose vir die pad vorentoe te kry,” verduidelik Van Blerk.

Maroela Media het vroeër berig Norris en haar babadogter, Reanei, was op 23 Maart in ʼn botsing in Drie Riviere betrokke. Reanei is op slag dood, terwyl Norris met ernstige beserings na ʼn hospitaal gehaas is.

Norris se regterbeen en regterarm is gebreek, haar milt moes verwyder word en sy is geopereer vir ʼn skeur in haar lewer wat inwendige bloeding veroorsaak het. Sy ly ook aan geheueverlies ná die botsing.

Van Blerk sê dat Norris aanvanklik glad nie na haar dogter verwys het of oor haar uitgevra het nie. Dit het gelyk asof sy glad nie kan onthou dat sy ʼn baba gehad het nie. Dié week het Norris egter twee keer na haar “kind” verwys, maar nie Reanei se naam genoem nie.

“Sy het net so vlugtig iets van haar kind gesê en dan praat sy weer oor iets anders. So ons weet nie of sy dalk in haar onderbewussyn weet van Reanei, maar te bang is om iets daaroor te vra nie omdat dit dan ʼn werklikheid sal word. Dit is baie moeilik om dit nou te bepaal.”

Shanei en Reanei (Foto: Facebook)

Volgens Van Blerk hoop die familie om Norris binnekort na ʼn private hospitaal oorgeplaas te kry waar hulle makliker toegang tot ʼn dokter sal hê wat Norris behoorlik kan diagnoseer en die familie ʼn idee kan gee van wat die toekoms inhou. “In dié stadium sukkel Shanei nog met haar geheue. Sy herken almal om haar, maar sal byvoorbeeld nie die volgende dag kan onthou wie die vorige dag by haar kom kuier het nie,” sê Van Blerk.

“Ons sal net graag met ʼn dokter wil gesels wat ons kan help om te bepaal wanneer dit die gepaste tyd sal wees om vir Shanei van Reanei te vertel en dan sal Reanei se pa en Shanei se ma saam met ʼn sielkundige of ʼn berader vir haar die nuus vertel.”

Van Blerk het gesê die familie het reeds “ongelooflike ondersteuning” van die publiek ontvang om geld in te samel om Norris na ʼn private hospitaal te laat oorplaas, maar nog geld is nodig om ʼn voldoende deposito te kan betaal om haar te laat opneem. “Die publiek was net ongelooflik en ons is so dankbaar vir elke bydrae wat gemaak is,” het sy gesê.

Sy het gesê die familie moet ook nog ʼn dokter by die private hospitaal kry wat sal instem om Norris as pasiënt te aanvaar voordat sy oorgeplaas mag word.

Van Blerk sê daar is reeds ʼn gedenkdiens vir Reanei gehou waar haar pa, ander familie en almal wat vir haar lief was finaal kon afskeid neem. Die hele diens is op foto’s en video vasgevang sodat Norris êrens in die toekoms daarna kan kyk indien sy wil.

In die begrafnisbrief is ʼn briefie ingesluit wat Van Blerk namens Norris vir haar babadogtertjie geskryf het. ʼn Gedeelte uit die brief lui: “Mamma wens ek kon jou net een keer bietjie langer en bietjie stywer vashou. Mamma wens sy kon die tyd terugdraai. Jy is en sal altyd my blommetjiebaba bly. Dankie vir die tyd wat jy myne was.”

Vir meer inligting oor Norris vordering of die trust-besonderhede waardeur geld vir haar mediese onkoste ingesamel word, besoek die Facebook-groep Mommy Shanei of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oom Kalahari ·

Dit is baie hartseer wat plaasgevind het en daarle nog ‘n lang pad tot herstel vir die Mamma voor en die Sielkundige verwerkinge. Reanei is in God’s tuiste en rus sag liewe klein mensie. Jy was vir ‘n kort tyd vir jou Mamma en familie geleen, maar glo jul almal se liefde het gestraal tot mekaar. Sheanei, ons hoop jy herstel gou en kry die opregte mediese behandeling wat jy benodig. Sterkte aan jou, familie en vriende, kollegas asook in besonders jou spesiale vriendin Noelene van Blerk wat uit liefde en omgee optree en mag sy net Geseend wees.

Buitestaander ·

Alle empatie met die verlies.
Ma gaan haarself baie verwyt wanneer die nuus aan haar gebruik word!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.