Baba sterf toe ma tweeling met byl aanval

Argieffoto (repeatcrafterme.com)

Argieffoto (repeatcrafterme.com)

ʼn 30-jarige vrou van Limpopo is in hegtenis geneem nadat sy glo een van haar drie maande oue tweelingkinders met ʼn byl aangeval het, het die polisie Sondag gesê.

“Die baba, wat baie ernstig beseer is, is na die Tshilidzini-hospitaal geneem, maar is met aankoms by die hospitaal dood verklaar,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die voorval het Vrydagaand by die Ha-Mutsha informele nedersetting buite Thohoyandou plaasgevind.

Ooggetuies het glo gesien hoe die ma haar baba met die byl aanval en hulle het dadelik die polisie ontbied. Terwyl hulle op pad was na die toneel, het lede van die gemeenskap reeds die tweede kind, wat sy glo ook wou vermoor, gered. Hulle kon die vrou aanhou totdat die polisie haar in hegtenis geneem het.

Dit gaan glo goed met die oorlewende baba en hy is by die ma se familielede.

Mulaudzi sê die motief vir die aanval is nog nie bekend nie. Die vrou sal na verwagting Maandag in die Vuwani-landdroshof verskyn.

Intussen is die 20 maande oue Xitsunduxo Baloyi van Letsitele dood aangetref in ʼn puttoilet nadat haar ma haar glo gewurg het. Die ma, Christina Makhanani Baloyi (20) van Letsitele buite Tzaneen is steeds in aanhouding en sal op 2 Junie by die Ritavi-landdroshof aansoek doen om borgtog.

“Hierdie malheid moet stop,” het lt.gen. Fanie Masemola, provinsiale polisiekommissaris, Sondag gesê. Hy het gesê hy is baie hartseer en hy stuur sy innige meegevoel aan die families van die kinders en onderneem dat hulle alles in hul vermoë sal doen om seker te maak dat hierdie vroue suksesvol vervolg word. “Baie dankie aan die gemeenskap van Ha-Mutsha wat ingegryp het en ʼn dubbele tragedie voorkom het.”

Die geslag van die tweeling of hul name is nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.