Baba tuis ná noue ontkoming met geboorte

Samantha en Johann Pieterse saam met hul baba, Luke. (Foto: Verskaf)

’n Ouerpaar van Centurion in Gauteng is dankbaar dat hulle hierdie Somerkersfees saam met hul eersteling sal kan deurbring nadat dié babaseuntjie met sy tuisgeboorte asemnood ervaar het.

Klein Luke Pieterse is twee weke gelede met aangebore longontsteking gebore en moes deur paramedici bygebring word.

Noue ontkoming

Samantha Pieterse vertel dat sy en haar man, Johann, op ’n tuisgeboorte met behulp van ’n vroedvrou besluit het. Alles het ook aanvanklik goed verloop toe sy die aand van 29 November in kraam gegaan het.

Samantha is self ’n verpleegster wat by ’n staatskliniek werk.

“Ons pragtige seun Luke is die volgende oggend gebore. Ons het geen rede gehad om te vermoed dat hy spesiale sorg sou benodig nie, maar hy het kort ná sy geboorte gesukkel om asem te haal,” vertel sy nou.

“Dit was baie ontstellend. Sy asemhaling was so moeisaam dat ons hom kon hoor hyg en die vroedvrou het gesê ons moet dringend mediese hulp ontbied. Dit was vir my so ’n skok dat ek ineengestort het en hulle moes Netcare 911 bel om bystand vir ons albei te stuur.”

Baba Luke het in dié stadium asemhalingsnoodsindroom ervaar en sy lippe en vingers het blou geword weens ’n gebrek aan suurstof.

Twee ambulanse, waarvan een ’n sogenaamde intensiewe sorg-ambulans, is uitgestuur om die pasgebore baba en sy ma by te staan.

Johann Pieterse by sy seuntjie, Luke. (Foto: Verskaf)

David Stanton, hoof van die kliniese en opvoedkunde-afdeling by Netcare 911, sê baba Luke was by die nooddienste se aankoms by die gesin se huis in Rooihuiskraal in ’n kombers toegedraai.

Die kleinding het nie gehuil nie, “wat ongewoon is vir ʼn pasgebore baba en dikwels tekenend is daarvan dat hulle nie goed op hul eie asemhaal nie,” verduidelik Stanton.

Luke is sommer al by die huis op ʼn gevorderde neonatale ventilator geplaas en het feitlik onmiddellik gestabiliseer.

Johann het sy seuntjie vasgehou terwyl gevorderde lewensondersteunende paramedikus Richard van der Merwe ʼn spesiale neonatale toestel aan die maskerventilator geheg het.  ʼn asemhalingstoestel is later gebruik om Luke se longe liggies op te blaas en te verseker dat hy genoeg suurstof kry.

Johann is toe saam met Luke in ’n ambulans na die hospitaal. Hier gekom het die babaseuntjie se kleur reeds merkbaar verbeter .

Samantha is met die tweede ambulans na die hospitaal geneem en ma en baba kon enkele dae later ontslaan word.

Stanton sê nou baba Luke sou ongetwyfeld baie langer in die neonatale hoësorgeenheid (NICU) moes deurbring, was dit nie vir die nooddienste se vinnige reaksie die oggend van sy geboorte nie.

Samantha sê sy en haar man is Netcare 911 ewig dankbaar vir hul hulp.

“Ons is verheug dat klein Luke en sy ouers almal veilig en gesond terug by die huis is, en gereed is om hul eerste Kersfees saam as ʼn gesin deur te bring,” sê Stanton.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Diline

Bly die kleinding is nou beter! Kan myself indink watse groot skok dit vir die ouers moes wees. Sterkte

Swerwer

Luke sal net vreugde en vrede aan jul verskaf.

Toy

Ek persoonlik sal nie geboorte by die huis kies nie.

Eks baie bly julle babaseuntjie is nou veilig en dit gaan goed.

Piet

As ouers kies mens wat die beste is vir jou kind…hopenlik Sal julle in die toekoms dit aanleer. Daar is hospitale vir juis sulke redes, dis hoekom ons van grotte af ook beweeg het

SjN

Goeie nuus, sterkte aan die gesin.