Baba veg moedig teen Covid

Klein Eon Maree word sedert Donderdag in die hospitaal vir Covid-19 behandel. (Foto: Verskaf)

“Dit is nie lekker vir ʼn mamma-hart nie.”

Só vertel Jeanine Maree, ʼn ma van Secunda in Mpumalanga, terwyl sy langs haar drie maande oue babaseuntjie, Eon, se bed waak.

Klein Eon is Donderdag in die hospitaal opgeneem nadat hy en Jeanine albei positief vir Covid-19 getoets het. Eon se pa, Hein (32), het verlede naweek begin siek voel en het Maandag reeds ʼn positiewe toetsuitslag ontvang.

Hein werk vir Sasol en Jeanine bedryf haar eie aanlyn onderneming.

Hein sien tans tuis om na die egpaar se twee jaar oue dogtertjie, Chanine. Jeanine is Donderdag na die ongevalle-afdeling van die Mediclinic Highveld op Trichardt nadat Eon al hoe sieker begin voel het.

Die drie maande oue Eon Maree. (Foto: Verskaf)

Hy het onder meer gehoes en genies.

“Ons kon ook hoor sy borsie is glad nie lekker nie.”

Jeanine sê Eon se hartklop is in hierdie stadium nog baie hoog – tussen 160 en 180 slae per minuut – en hy ontvang ook suurstof en antibiotika.

“Ons is dood van bekommernis, dit is glad nie lekker nie,” sê Jeanine.

Die dokter het boonop gewaarsku dat klein Eon moontlik tussen ʼn week en tien dae in die hospitaal sal moet deurbring.

“Ek het vandag omtrent die hele dag saam met hom geslaap, omdat ek self so siek is. Ek het byna agt uur lank koors gehad. Dit is verskriklik.

“Daar is nie veel wat jy kan doen nie. Die een oomblik voel ʼn mens nog oukei, en die volgende oomblik is jy man down. As grootmense so siek voel, kan jy dink hoe voel so ʼn klein babatjie?”

Jeanine sê sy en Hein het sowat ʼn week voordat hulle siek geword het, die entstof teen Covid-19 ontvang. “Ek is baie ten gunste van die entstof,” sê sy.

Jeanine Maree en Eon kort voor hy opgeneem is. (Foto: Facebook)

Die gesin het in Desember verlede jaar ook ʼn benoude tyd deurgemaak nadat Chanine positief vir die koronavirus getoets het. Haar koors was hemelhoog en sy is in dieselfde hospitaal opgeneem waar haar boetie nou behandel word.

Mangelontsteking is aanvanklik by Chanine gediagnoseer, maar haar toestand het bly versleg en haar ouers is ook inderhaas met haar na die ongevalle-afdeling.

Chanine het aanvanklik kwaai gesukkel om asem te haal, maar is darem ná vier dae in die hospitaal ontslaan. Die gesin moes nog tien dae lank in isolasie deurbring en Jeanine het destyds al ʼn beroep op mense gedoen om die koronavirus ernstig op te neem.

Sy het mense ook gemaan om nie te glo dat klein kindertjies en selfs babas nie weens Covid-19 ernstig siek kan word nie.

“Dit is skokkend hoeveel babas dit opdoen. Daar is drie babas hier in die hospitaal, maar dit gaan darem goed met almal.”

Jeanine sê die gesin word gedra deur die honderde boodskappe van bemoediging en gebed van oraloor. Sy het mense ook bedank vir hul voortgesette ondersteuning.

“Ons is almal nou al deur die hele ketoetie,” sê Jeanine moedig oor die hele gesin wat nou reeds die virus onder lede gehad het.

“Maar ek glo vas Eon gaan gesond word; dít is hoekom ons glo.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Sarel ·

Ai..tog…baie sterkte asn die Mamma..moed hou my liewe mens die son sal weer skyn.
Wie ken die smart van die Moeder

Delene ·

Die ouers het ‘n week voordat hulle siek geword het, die entstof ontvang! En, nou is beide die mamma en die weerlose babatjie van 3 maande gehospitaliseer! Die Pro vacciners adverteer dan dat as jy wel Covid opdoen, jy NIE hospitalisie sal nodig hê nie! Sjoe, kan mense so met hulle gesondheid dobbel?! Baie sterkte aan die mamma en haar kleinding!

Jan Nel ·

Waar lees jy dat die ma gehospitaliseer is? Sy is saam met haar baba daar of wil jy hê hulle moet die kind alleen daar los? Die berig meld dat die ma koors gehad het, maar niks ernstiger soos suurstof en ventilators nie.

Hou op om soos ‘n aasvoël berigte dop te hou vir elke en enige moontlike negatiewe afleiding wat jy kan maak vir jou selfopgelegte agenda teen entstowwe.

Elméne ·

Ek stem 100% saam met jou, MAAR dit is mos ons anti Vacciners wat verkeerd is!!

Trotse Boervrou ·

So, watter waarborg gee die “inspuiting” nou eintlik dat ek nie Covid of newe-effekte gaan kry nie? I’ll rest my case…

Sterkte vir hierdie gesin. Hoop werklik hul herstel spoedig.

Daleen ·

Tiptol HOE weet jy dit?? Hoe kan jy so selfversekerd so kommentaar lewer. Volgende keer se MISKIEN was sy reeds siek…..

Daleen ·

Trotse boervrou van die begin af is daar gese ditvwaarborg nie dat jy dit NIE gaan kry nie maar wel dat die kanse vir erg siek word of doodgaan verlaag word…… Elkeen se keuse maar hou op om mekaar se keuses aan te val.

Marlz Johnston ·

Trotse Boer vrou niemand het gese die inenting waaarborg dat jy dit nie gaan kry nie, daar is wel gese dat jy dit nie so erg kry nie en kan moontlik jou lewe red. Navotsing wys dat die mense wat tans in die hospitaal opgeneem word in ICU en sterf is die wat nie ingeent is nie. Was jy ooit as kind ingeent vir masels of pampoentjies? En het jy dit toe wel gekry?

Daleen ·

Marlz Johnson jy kan nie die masel en pampoentjie inentings met die covid inenting vergelyk nie. Jare se navoring het al daar ingegaan en ware statistieke en nagevolge ens beskikbaar. nog bitter min oor langtermyn covid inenting nagevolge beskikbaar en nou word daar gepraat van 3de inenting. En net terloops waar kry jy jou inligting oor dis on-ingeentes wat sterf en in ICU is. Glo my dis NIE waar nie op die stadium word inligting selektief gedeel sodat mense net die inenting wil kry. Ek weet van paar mense wat inentings gekry het en oorlede is en baie van hulle het in die mediese veld gewerk.

Helene ·

Die vervaardigers van die entstof het nog NOOIT verkondig dat dit Covid keer nie. Dit bevat wel die virus om ‘n mens se liggaam te help om teenliggaampies op te bou, maar dit bevat nie die LEWENDE virus om mens Covid te gee nie. Ek self het reeds ONWETEND Covid gehad toe ek vir die inenting gegaan het. 15 ure later het my simptome in volle mag toegeslaan, wat beteken dat ek VOOR die inenting reeds Covid gehad het, want die virus vat 3 tot 5 dae om te inkubeer in ‘n mens se liggaam.

Elke mens se liggaam reageer verskillend op die inenting sowel as op Covid. Daar is GEEN waarborge nie.

Jan Nel ·

Kan jy vir my enige mediese ingryping noem wat saam met ‘n 100% waarborg kom? Indien nie, hoekom verwag jy hierdie ongekende standaard van entstowwe?

Saartjievandiebosveld ·

Ek het die eerste JAB gehad…4 weke later het ek vir 8 dae met covid in die hospitaal op geëindig.
So met of sonder Die JAB kan jy covid kry en versprei.
Sterkte aan die ma e babatjie…ek pleit Jesus se beskerm ing oor julle

Diana ·

Die mensdom moet besef dat jou liggaam 14 dae nodig het om teenliggaampies op te bou teen die pes. Dis onverantwoordelik om te dink jy gaan direk gedek wees. Asb mense, lees die informasie oor die vaksien noukeurig en met n oop gemoed in belang van ons almal.

SwartBees ·

Amen. Iemand met breins wat nie die propeganda verkondig as die gospel nie. Dankie Diana. Ek is #proudlyvaccinated.

Alida ·

Mens het eintlik eers voldoende teenliggaampies 3 weke na jou 2de Pfizer. Maar ek het by inentingsplek waar ons was, gesien hoe mense skoon van basiese goed soos veilige afstand vergeet, en party mense se maskers hang mos onder hulle neus of ken. En mense is al aansteeklik 2 dae voor simptome wys. Dus as iemand met covid onder lede gaan vir spuit kan ander aansteek. Mense steek by ander mense aan. Hulle kry nie covid van die vaksien nie.

Jr ·

Ek is ‘n oupa wat vir my 9 maande kleinkind wat ekin die dag sorg. Dit is nie maklik want hulle is mensies wat 24hr aandag nodig het. Ek is mal daaroor en as my bond so vas is aan my kleinkind kan ek verstaan hoe sterk is n mammas se bond. Ons het ons besluit geneem omdat kleinkie SO siek geword het van die crêche. Twee keer in die hospitaal. Die wêreld is nie net gewone siektes soos ons geken het, maar ander siektes. Mama hierdie oupa bid hard vir julle want hierdie oupa wat n myner was het menige keer gehuil trane as sy kleinkind al daai pype in daai klein ligaampie gehad het. STERKTE JULLE ONS DINK AAN JULLE

VaalDonkie ·

Lyk my saam met griep en virale longontsteking bestaan RSV nou ook nie meer nie. Ek onthou hoe ek vir drie maande elke maand R12000 vir RSV inspuitings (Synagis) vir my kind moes betaal. RSV is “Respiratory Syncitial Virus” as iemand gewonder het. Dit affekteer jong babas.

Karina ·

Mense onthou een ding, as jy die covid inspuiting kry en jy toets daarna positief vir covid, beteken dit jy het reeds covid onder lede gehad maar nie geweet nie. Die spuit veroorsaak nie covid nie. Gaan lees dit maar op.

Ek bid sterkte toe aan die familie vir spoedige beterskap.

Pietie ·

Ek glo die kleine baba gaan volkome herstel. Sterkte aan die ouers die krag van gebed is groot en sterk

Chef ·

Dit is baie jammer dat dit met julle gebeur. Ek moet egter verwys na die studie van Dr. Byram Bridle wat uitwys dat die s-proteien van die mRna uitdukking vind in moedersmelk.

Helizna ·

Jeanine sê sy en Hein het sowat ʼn week voordat hulle siek geword het, die entstof teen Covid-19 ontvang. “Ek is baie ten gunste van die entstof,” sê sy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.