Baba veilig in ma se arms ná reusesoektog

Klein Bokang veilig terug in sy ma, Kgomotso King, se arms. (Foto: SA Polisie)

ʼn Ma is met haar twee maande oue babaseuntjie herenig nadat hy Donderdag by die Bloemspruit-kliniek in die Vrystaat ontvoer is.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Mangaung het sedertdien sonder ophou na baba Bokang gesoek.

Kgomotso King (18) is verlede week na die kliniek om medikasie af te haal, toe ʼn ander vrou in die ry haar meegedeel het dat babas nie in die kliniek toegelaat word nie.

“Nadat die ma aangesê is dat sy nie haar baba saam met haar in die kliniek mag inneem nie, het die verdagte aangebied om die baba vas te hou. Sy het met die kind verdwyn,” het Makhele gesê.

Die seuntjie is ná ʼn soektog by ʼn huis in Bloemspruit in Mangaung opgespoor en ʼn 38-jarige vrou is in hegtenis geneem.

“Die vrou was glo swanger, maar het ʼn miskraam gehad. Sy was te bang om haar man, wat elders werk, daaroor in te lig. Sy het dit oorweeg om ʼn baba aan te neem, maar is meegedeel dat dit ʼn baie lang proses is,” het hy gesê.

Sy het klein Bokang daarna na bewering ontvoer.

Die seuntjie is nadat hy opgespoor is by ʼn plaaslike hospitaal ondersoek en daarna met sy ma herenig.

“Die verdagte verskyn Donderdag in die Bloemfontein-landdroshof op ʼn aanklag van ontvoering,” het Makhele gesê.

Maroela Media het vroeër berig die polisie is op soek na twee vroue wat in ʼn afsonderlike voorval in die Ga-Mogale-nedersetting naby Magaliesburg in Gauteng ʼn agt maande oue babadogtertjie by haar ma gegryp en ontvoer het.

Die vroue het glo voorgegee dat hulle familie van die baba se pa is en vir haar wou klere koop. By die winkels het een van die vroue glo gevra of sy die baba kan vashou sodat die ma by ʼn winkel kan gaan kos koop. Met haar terugkeer was die babadogtertjie skoonveld.

Volgens die polisie is die twee vroue moontlik in hul middeltwintigerjare. Hulle praat Setswana en is albei lig van velkleur. Hulle het blou denimbroeke en swart stewels gedra. Een van hulle het ʼn blou trui gedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan GL ·

Swak beriggewing. Het hul die baba by die Ma gegryp of het die Ma die baba vir een van hulle gegee om vas te hou?

Misky ·

Presies dieselfde gedink die oomblik toe ek dit lees en dis verwarrend. Gegryp is groot verskil teenoor die baba vasgehou word terwyl die ma in die winkel klere koop

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.