Baba veilig ná ‘Sassa-agent’ hom ontvoer

(Foto ter illustrasie: Unsplash)

Twee persone het Maandag in die landdroshof in Potchefstroom in Noordwes verskyn op aanklag dat hulle ʼn vier maande oue babaseuntjie ontvoer het.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê Adalia Ncebeshe (31) en Hendrik Kokoene (49) bly in aanhouding tot hulle op 18 November weer in die hof moet verskyn vir hul formele aansoek om borgtog.

“Dit volg ná ʼn voorval op 3 November 2020 waar ʼn 20-jarige vrou Ncebeshe by ʼn kruidenierswarewinkel in Ventersdorp ontmoet het. Ncebeshe het haar glo as ʼn personeellid van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) voorgedoen en aangebied om die jong ma te help om ʼn Sassa-toelaag vir haar baba te bekom,” het Myburgh gesê.

“Ncebeshe het die volgende dag, Woensdag 4 November, die vrou en haar baba by hul huis ontmoet en hulle het in ʼn taxi geklim om van Ventersdorp na Potchefstroom te ry. Toe hulle in Potchefstroom aankom, het al drie in ʼn rooi Toyota Tazz geklim wat vir hulle staan en wag het. Die bestuurder van die Toyota was die tweede beskuldigde, Kokoene.”

Hulle het in Potchefstroom rondgery en by ʼn kafee, naby aan die Potchefstroom-hospitaal, stilgehou. Hulle wou by die ma hoor of sy iets te ete wou gaan koop. “Die ma het haar baba in die motor gelos en in die winkel ingegaan. Toe sy weer uitkom, was die motor en die insittendes, insluitend haar vier maande oue babaseuntjie, skoonveld.”

Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings het dadelik ondersoek ingestel en het Donderdagdagaand Kokoene in Ikageng, buite Potchefstroom, opgespoor. Ncebeshe en die baba is in Rustenburg gevind. “Die verdagtes is in hegtenis geneem en die babaseuntjie en sy ma is met mekaar herenig. Die babaseuntjie is ongedeerd.”

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekspan geloof vir hul goeie werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae