Baba verdrink by ouerhuis; nooddienste rig waarskuwing

Argieffoto

ʼn 16 maande oue baba het Sondag in ʼn swembad by haar ouerhuis in Randburg verdrink.

Nick Dollman, Netcare-woordvoerder, sê ʼn beangste vrou het dié nooddienssentrum gebel nadat sy die baba in die swembad aangetref het.

Hy sê werkers by die sentrum het die vrou stap vir stap verduidelik hoe om kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toe te pas terwyl nooddienste hul na die toneel haas. “Paramedici het by hul aankoms op die toneel die resussitasie en KPR oorgeneem, maar dit was te laat. Die baba was reeds dood,” sê hy.

Dollman sê die voorkoms van verdrinking styg skerp aan die einde van die jaar tydens die feesseisoen. Hy sê onbedekte jacuzzi’s, visdamme, swembaddens en groot emmers water is alles moontlike gevare vir jong kinders.

“Ons raai almal aan om ekstra waaksaam te wees vir dié potensiële gevare. Heinings of nette moet veral gebruik word om toegang tot dié gevare te beperk. Kinders moet ook net swem wanneer ʼn volwassene kan toesig hou. Verder is dit ook belangrik dat almal in die gesin noodhulp leer. Dis ʼn maklike kursus en talle fasiliteite reg oor die land bied kursusse aan,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

wilma ·

Hoeveel verdrinkings moet nog plaasvind voordat mense sal besef dat swembaddens en/of visdamme beveilig moet word ongeag of jy klein kinders op perseel het al dan nie? ‘n Veiligheidsnet kos nie soveel soos die prys om ‘n kind aan die dood af te staan nie. ASSEBLIEF gooi dan eerder die swembad toe!

Ann ·

@Praat weer – hoe kan sy nie weet waarvan sy praat nie? Vir my maak dit sin om eerder te beveilig. Daar is nou al hoevéél verdrinkings aangemeld, en elke keer as ek so ñ berig sien word ek ys-yskoud. Ek kan myself nie indink hoe die mamma en pappa moet voel nie.

Peet Schabort ·

Basiese noodhulp behoort deel te wees van die verkryging van jou bestuuderslisensie, sodoende sal daar heelwat mense betrek word wat ook bystand sal kan verleen by ander ongelukke.

Karlien ·

Dit is baie hartseer! Baie sterkte aan die ouers en familie.

Mamma van 'n peuter ·

Dis bitter hartseer. Daai mamma sal haarself vir altyd verwyt. Al die “maar as ek net” vrae en stellings sal nooit bewaarheid of beantwoord word nie. Kindertjies is so vinnig om in die moeilikheid te kom, mens kan hul nie sonder toesig laat. Laat dit asb vir die res van ons as waarskuwing wees. Maak seker dat jou kindertjies altyd op veilige plekke speel. Mens kan nou ongelukkig nie alle gevare uitskakel maar mens kan darm jou beste doen om seker te maak swembaddens is onbereikbaar vir kleintjies. Jammer oor jou verlies mamma. Mag God jou en jou gesin bewaar en help deur hierdie swaar tyd.

Boet Fasie ·

Alle gevalle moet ondersoek word en waar nalatigheid bebind word moet die verantwoordelike persoon of eienaar krimineel vervolg word. Tans is daar teveel kinder verdrinkings en dit kan verhoed word

Yolande ·

Dit is so hartseer, Bedek jou sewmbad, ek is seker as jy met die maatskappye praat dat hulle jou sal help met afbetaling, het self `n swebad seil op ons swembad, weet die maatskappy sal jou kan uithelp. Strekte aan die ouers.

zeno ·

Die beste raad – Gooi jou swembad toe as daar kleinkinders is,of as kleinkinders kom kuier. Ons het ons swembad toegegooi vir ons kleinkind se onthalwe. Mis glad nie die swembad nie. Gevaar van verdrinking by ons is uitgesluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.