Baba verlam ná skokdiagnose

Hayden (Foto: Verskaf)

Toe Candice Hall, ʼn ma van Equestria in Pretoria, sowat ʼn maand gelede haar ses maande oue baba dokter toe geneem het vir ʼn vermoedelike maagkiem, het sy nooit kon dink hoe die gesin se lewe binnekort onherroeplik sou verander nie.

Hayden Hall is sedertdien weens ʼn seldsame siekte verlam gelaat.

Klein Hayden is op 21 Augustus 2018 gebore en was nog tot middel Februarie vanjaar ʼn doodgewone, gesonde baba. In dié tyd het baba Hayden ʼn loopmagie opgedoen, waarvoor sy ma hom dokter toe geneem het.

Nadat hy medisyne daarvoor gekry het, het hy herstel, maar ʼn paar dae later koorssimptome begin toon. Hall het hom weer dokter toe geneem, waar daar vir hom antibiotika voorgeskryf is.

“Ek het gedink sy gestel is maar net af weens die maagkiem, so ek het nie veel daarvan gedink dat hy siekerig is nie. Gewoonlik, as die kinders antibiotika neem, het hulle loopmagies, maar Hayden het hardlywig geword,” het Hall aan Maroela Media gesê.

“Toe hy klaar is met sy antibiotika was hy steeds hardlywig en ek het opgelet dat sy voete ʼn bietjie geswel was. Ek het met ʼn buurvrou gesels en ons het gedink die swelling is moontlik weens waterretensie as gevolg van die hardlywigheid. Maar toe ek die volgende dag sien dat hy glad nie sy bene beweeg nie, het ek bekommerd geraak. Ek het toe ʼn afspraak by die pediater gemaak.”

Die pediater het Hayden ondersoek en kon afgesien van sy beentjies niks ongewoons waarneem nie.

“Hy het gesê hy kan dit nie verstaan nie, alles andersins is normaal, maar sy bene is soos ʼn dooie gewig. As hulle sy bene oplig, het dit net pap neergeval,” het Hall gesê. “Die dokter het gesê ons moet vir Hayden na Unitas-hospitaal se waakeenheid neem sodat meer toetse op hom gedoen kan word.”

Hayden (Foto: Verskaf)

Sy sê sy kon aanvanklik nie verstaan hoekom haar kind in ʼn waakeenheid opgeneem moes word nie, aangesien sy nie gedink het sy toestand is so ernstig nie. “Die dokter het net vir my gesê: ‘Jou kind is verlam, ek kan dit nie verduidelik nie, maar julle moet nou gaan’,” het Hall gesê.

Hall het vir Hayden na Unitas-hospitaal gehaas. Toe hulle daar aankom, was die dokter reeds gereed vir hom. Hulle het hom ondersoek en geneem om ʼn skandering vir ʼn MRB (magnetieseresonansiebeelding) te laat doen.

“Ek en my man het maar net gesit en wag om te hoor wat die MRB-skandering gaan oplewer. Die dokter het uitgekom en gesê: ‘Mamma, Pappa, ons het ʼn probleem opgespoor. Daar is skade aan Hayden se ruggraat. Vir tyd en wyl sal julle kind verlam van die bors af ondertoe wees.’ Die dokters vermoed die maagkiem het Hayden se sentrale senuweestelsel aangeval wat gelei het tot skade aan sy ruggraat,” het Hall verduidelik.

Volgens die dokters sal die slegste uitkoms moontlik vir Hayden wees dat hy lewenslank in ʼn rolstoel sal wees. Die dokters meen daar is minder as 20% kans dat hy weer sy bene sal kan beweeg.

“Dit is die slegste gevoel in die wêreld om dit te hoor. Dit is my ergste nagmerrie wat ʼn werklikheid word. Eers het ek dit nie geglo nie; ek kon nie verstaan hoe hy verlam kan wees nie. Hy was twee dae gelede dan nog ʼn gesonde baba! Hy het nie geval nie en hy was nie in ʼn ongeluk nie, so hoe kan hy nou skielik verlam wees?”

Hall sê sy het een oggend opgestaan en besluit dat sy, eerder as om hartseer te wees, proaktief gaan optree. Sy het met die dokter gepraat en begin nalees oor hoe om dié toestand, wat later as longitudinaal-ekstensiewe transversale miëlitis geïdentifiseer is, te hanteer.

Hall het gesê dié seldsame outo-immuunsiekte, wat net een uit ʼn miljoen mense raak, kan tot erge rugpyn, inflammasie van die rugmurg en verlamming lei.

“Die eerste MRB-skandering het darem vir ons gewys dat daar geen skade aan die brein of oë is nie, maar hulle het nou vir Hayden steroïede gegee om die swelling om die ruggraat te verlig en ook ander medisyne om sy immuunstelsel te help versterk. Hulle glo dit is ʼn virus, so hulle wil voorkom dat dit versprei,” het sy gesê.

Hayden sterk tans by die huis aan, en moet binnekort met fisioterapie begin. Hall het gesê daar is nou en dan beweging in Hayden se voetjies, wat vir hulle as gesin hoop gee.

“Hayden se beenspiere is besig om te groei, maar omdat sy bene nie kan beweeg nie, is ons bang sy bene raak styf. Dit is hoekom hy nou vir fisioterapie moet gaan. Hy moet ook op 4 April vir nog ʼn MRB-skandering gaan, waarna ons hopelik meer inligting en duidelikheid sal hê,” het Hall gesê.

Hall het gesê hoewel die fokus nou veral op Hayden se bene is, dink sy ook aan die langtermyngevolge van dié toestand.

Hayden (Foto: Verskaf)

“Omdat hy nie sy bene kan beweeg nie, kan hy nie begin sit, kruip of loop nie. Hy mis dus baie van sy ontwikkelingsmylpale. Dit kan daartoe lei dat hy in die toekoms ook agter sal raak met ander ontwikkeling.”

Hall het intussen ʼn skarefinansieringsrekening by BackaBuddy oopgemaak in die hoop dat die finansiële las van Hayden se diagnose verlig kan word.

Hall moet binnekort teruggaan werk toe en moet ʼn heeltydse versorger vir Hayden aanstel. Verder het Hayden se eerste MRB-skandering reeds hul mediese fonds se begroting vir dié soort skanderings uitgeput. Een van die skanderings kos sowat R27 000 en Hayden moet moontlik nóg twee skanderings vanjaar kry.

Net die bloedtoetse wat in die eerste twee dae gedoen is, het meer as R9 000 gekos. ʼn Rekening is ook in Hayden se naam geopen vir sy mediese onkoste en ʼn Facebook-blad is begin om inligting oor sy vordering te deel.

Hall sê al wat hulle nou kan doen, is om te wag en kyk wat gebeur, omdat daar so min inligting is oor sy toestand.

“Dit is so frustrerend, want ek weet nie hoe om hom te help nie. Ek voel so hulpeloos. Hy huil, en ek weet nie wat is fout, of wanneer dit beter sal raak nie. Die dokters kan nie vir seker vir my sê wat dit veroorsaak het of wat die uitkoms gaan wees nie. Hopelik sal ons ná die volgende MRB kan sien of enige permanente skade opgedoen is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Grethe ·

Maroela Media, kyk asseblief mooi na julle feite. Die babatjie kan nie 6 maande oud wees as hy in 2017 al gebore is nie. :)

Anja van der Merwe ·

Dagsê Grethe,

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Anne-Marie ·

Hy is 4 dae ouer as my Baba en my Hart breuk met elke lyntjie wat ek hier lees. Mamma Pappa my hart gan uit na julle. Sterk wees julle het ‘n pragtige kleintjie

Treurgrond ·

Kom Hayden kom, in God se naam staan op vir mamma en pappa – vat jou tyd seuna maar doen dit in God se tyd.

SNEL ·

Amen (op Treurgrond se woorde). Spreek lewe oor jul kind, glo in die God van wonderwerke en spreek Woord oor hom.

Lorna ·

Bid hierdie kind gesond. Vergeet van die dokter se negatiewe diagnose.

kallie du Plessis ·

Ek stem so 100% saam met jou, dokters het boekgeleerdheid,maar God het Almagtige wysheid, eendag staan daai kindjie op en loop!

Gesiggie ·

Lorna stem 100% saam God is die grootste geneesheer bo als… Bid hoop en Glo want wonderwerke kan gebeur.. n Dr kan vir jou vertel wat hy dink verkeerd is, maar God kan genees en ek Glo in my hart dat die pragtigge klein Hayden ten volle sal herstel.. sal kan kruip en loop en weereens n getuie van n wonderwerk sal wees aan almal. Al lyk als nou donker en onseker… weet God is daar. Sterkte aan jul as n gesin en klein Hayden, ek hoop om van die wonderlikke omswaai in sy lewe te lees.

Wonder net ·

Aan die ouers, baie sterkte en ons hoop en bid die is iets wat kan verander deur iemand groter as ons. Sterkte

Gemaskerde Sopbeen ·

Is dit net ek wat dit oplet of is dit my verbeelding? Vandat die wêreld ‘n nedersetting geword het, en miljoene mense met duisende vliegtuie die aarbol deurkruis…..is daar al hoe meer viruses en kieme wat op plekke uitslaan waar dit nog nooit vantevore opgemerk of behandeling voor toegepas is nie. As hierdie baba so ‘n virus in sy sisteem gekry het, moes hy mos êrens daaraan blootgestel gewees het, nie waar nie?

Elize ·

Oorweeg asb die Stemcure Clinic in Witrivier -hulle gebruik stamselle van jou eie liggam en het uitstekende resultate..

JAN ·

Al my leedwese vir u almal.
Herinner aan polio ? Selfs die slukstof is onder verdenking.
Wat my meeste ontstel is huishoudelike gifstowwe – insekdoders en ontelbaar ander gifgoed besoedeling waaraan ons bloodgestel word.
Die gifstowwe is omtrent almal senuwee gif.
ai

Hollandse ouma ·

Is er gedacht aan Guillan-Barre Syndroom??
Kijk net naar die ziekte. Dit is wel te behandelen
Sterkte met de kleine jongen en zijn ouders

Sonstraal ·

Dit was my gedagte ook gewees… Heel toevallig is daar 2weke terug n ander kind in Peds-ICU in Unitas met Guillain-Barre syndrome opgeneem. Die kind is op die herstelpad wat n tydsame lang proses is…

ek sê maar ·

Aan: Kom oor dit – nee wat, as ek verkeerd spel (ek praat nie van vingerfoute wat enige, veral haastige, mens oorkom) is dit reg as mense dit uitwys. Almal wil altyd op hol raak; ooeee Afrikaans word oral gestop, dit gaan uitsterf, ooo ons moet universiteite aanvat wat dit nie as klasgeetaal wil gebruik nie en staan op vir Afrikaans ens, ens maar dan mors ons so met ons mooie taal. Soms word die mees eenvoudige woorde verkeerd gespel – dis sommer slordig man. As jul regtig omgee vir jul taal sal julle jul nie vererg as iemand spelfoute uitwys nie!

Melanie de Bernier ·

My seun is in 2007 met transverse myelitis gediagnoseer.my hart gaan uit na die die families

Melanie de Bernier ·

My seun is in 2007 met transverse myelitis gediagnoseer.my hart gaan uit na die die families .Die ouers kan my kontak op my email wat ek voorsien het indien hulle will kontak maak

Lizelle ·

Ons dien n almagtige God en bid vi volle genesing. Baie sterkte.

Sharna-dee ·

My hart is skoon seer om die artikel te lees my dogtertjie is die selfde dag gebore as hierdie klein lyfie. Mamma my hart is seer saam joune geen klein mensie moet so iets deur gaan. Ek bid vir julle as n gesin.

Spike ·

Ek wil vra dat julle sal moed hou, al gaan dit nie altyd maklik wees nie. Baie sterkte.

Annette ·

Dit is hartverskeurend om te lees…. Ek dra vir klein Hayden en mamma en pappa aan ons Hemelse Vader op. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Mag Hy volkome genesing skenk. Baie sterkte.

Stephen Groenewaldt ·

Ek is n prokureur en is bereid om u by te staan met regsadvies as u dit benodig .

Krewel ·

Ek is ‘n dokter en kan ongelukkig nie die baba help nie, maar ek dink nie hier is regsaspekte betrokke of regsaksie nodig om te neem nie. Jammer.

Sê-ma-net ·

Ekself is in 2016 met transverse myelitis in hospitaal opgeneem. Oor 10 dae massiewe hoeveelheid steroide, Vit B12, kortisoon en antibiotika binneaars gekry. Het gevoel in bene terug gekry na 8 dae. Het vir 2 jaar nog ge’misfire’ wanneer ek loop en erge pyn gehad. Gebruik nog daagliks skedule 5 medikasie. Glad nie meer so sterk soos voorheen nie, want spiere en senuwees permanent aangetas, maar kan darem weer werk. Het goeie neuroloog gehad by hospitaal wat diagnose binne 24 uur gemaak het en behandeling onmiddelik afgeskop het. Slegs 30% van TM gevalle word suksesvol behandel en minder as 1% het geen nagevolge. Sterkte aan julle, ek was (en is) ook daar gewees.

Heksie ·

By God is niks onmoontlik nie! Baie sterkte vir julle, ek kan net myself (as ma en ouma) indink watse skok hierdie vir julle moet wees.

kallie du Plessis ·

Ek is saam met die ouers stom geslaan.Ons kry almal loop mae en die ou kindjie moet nou verlam wees daarvan. Ek is verbyster. Kyk net in watter eeu ons lewe en dokters se hande is afgekap,hoe ver het ons dan nou eintlik gekom? Ek bid dat die Here op Sy tyd die kindjie sal genees en die mediese wetenskap op hulle neuse sal laat kyk,God ons Vader, die Groot Geneesheer sal sorg vir die deurbraak!

Leon Stevens ·

Here Jesus, ons kom staan voor U, Die Groot Geneesheer vir wie niks onmoontlik is nie. Vader, ons bring vir Hayden voor U en vra dat U hom sal aanraak met U almagtige hand. Vader, ons vra dat U genesingsbloed deur Hayden se liggaam sal spoel en dit verwyder wat nie daar hoort nie en regstel wat vir die medici onmoontlik is. Here, ons bid U beskerming oor hierdie jong lyfie en op grond van Jesaja 53 kom annekseer ons sy volkome genesing in Jesus Naam. Vader, ons bid ook vir sy ouers dat U hulle sal vertroos en die nodige wysheid en leiding sal kom gee. Dankie, Here dat U vandag nog genees en dat die krag in die bloed van Jesus nogsteeds red en genees. Dit pleit en bid ons in die wonderlike naam van Jesus, Amen!

ai ·

Ek is nie n dokter nie, en ek besef daar is baie wat ek nie weet nie, maar HOEKOM MOET MENS DERDUISENDE MILJOENE RANDE BETAAL EN EERS FINANSIEEL VERNIETIG WORD voor n dokter jou behoorlik kan help?
R9000 vir bloed toetse. JUNK STATUS Suid Afrika se beste hospitale kom nie naby Amerika se staatshospitale nie, dis pateties dat mens so finanieel verwoes moet word nadat jy elke maand n arm en been aan medies betaal en dan steeds met DUISENDE RANDE SE REKENING SIT want die dokters vra 200%% nie 100% nie, ons moet die SUV’s afbetaal mos…

Tienie ·

Dit is baie hartseer om te hoor jul baba seun. Daar is verseker Hoop! My vrou was swanger met ons oudste meisiekind toe ek n erge maagvirus opgedoen het, dit het net aangehou en toe dit evensieël stop het my bene baie erg begin kramp. Ek het dit ook afgemaak as niks tot ek die een oggend werk toe ry en besef ek kan nie eers die koppelaar intrap nie. Ek het die internis gebel en die simptome verduidelik, sy het my dadelik ongevalle toe laat gaan. Langstorie kort, ek was in ICU vir n week, die virus het my van my voete af begin verlam maak, ek het die beste medikasie gekry maar die dokters was nie seker of ek gaan regkom. Nou hier is die deurbraak: almal het vir my gebid en ek glo my vrou wat 4mnde swanger was, maar my swaer het langs my bed in ICU kom staan en bid en my gesalf! Ek is na 2of 3 dae gewone saal toe en daarna ontslaan! Prys die Here!! n Virus wat 1 uit 500k mense kan kry, “Guillain Barre”. Jou seun sal weer loop! Bid en salf hom elke dag!

connie ·

AMEN ons het n Groot Almagtige God. Wees sterk en vertrou net op die Here. Ek bid vir julle almal en die pragtige kleindingetjie, sterkte

connie de klerk ·

AMEN ons het n Groot Almagtige God. Wees sterk en vertrou net op die Here. Ek bid vir julle almal en die pragtige kleindingetjie, sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.