Baba wat baie vroeg gebore is, oorleef wonderbaarlik

Paramedici saam met die pasgebore baba in die ambulans (Foto: Verskaf)

Paramedici het Maandagoggend ʼn noodoproep van ʼn huiseienaar in Durban ontvang oor haar huishulp wat in haar oprit ineengestort en begin kraam het.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is die oggend omstreeks 08:27 na die huis in Danvillelaan in Durban-Noord ontbied. Onderweg na die huis is hulle deur die huiseienaar laat weet dat die baba gebore is, maar geen tekens van lewe toon nie.

“ʼn Personeellid van ʼn nabygeleë skool wat in noodhulp opgelei is, het intussen gaan help en mond-tot-mond-asemhaling op die baba toegepas,” vertel Herbst.

Met paramedici se aankoms op die toneel het hulle die pasgebore babaseuntjie, met die plasenta nog aangeheg, aangetref. Hy het nie gereageer nie en na asem gesnak. Paramedici het behoorlik gespook om die baba by te bring.

Die seuntjie is op 24 weke gebore. Sy ma is ook op die toneel behandel en was in ʼn stabiele toestand.

“Ná ʼn gesamentlike poging het die pasgebore baba weer tekens van lewe getoon.”

Herbst sê nadat paramedici die baba gestabiliseer het, is hy en sy ma per ambulans na die hospitaal geneem vir verdere mediese sorg.

“Die baba se toestand het onderweg na die hospitaal al hoe meer verbeter. Ma en baba is in die hospitaalpersoneel se veilige hande gelaat.”

Herbst sê hierdie voorval beklemtoon weereens die belangrikheid daarvan om mond-tot-mond-asemhaling doeltreffend te kan toepas.

“As die personeellid nie daar aangekom het en met mond-tot-mond-asemhaling begin het nie, kon alles heeltemal anders verloop het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.